Liewe Dankfees vriende

Hier in die Karoo en definitief in Merweville distrik is die boere alweer (die meeste nog altyd) in die greep van die droogte. Die bietjie reën wat in Februarie en Maart geval het en ons gemoedere gelig het, het lankal weer weggedroog en die veld is vaal en dor. Ons is weer laag op ons knieë voor die Skepper van hemel en aarde, ons enigste hoop en hulp.

Maar ons beplan en werk alweer volstoom aan die 2019 Dankfees. Neem kennis van die datum (ons het dit reeds in Junie aan almal op die distribusielys gestuur) en indien u beplan om die 2019 Dankfees by te woon, bespreek so gou as moontlik verblyf.

Huis Mervia (koshuis) se besprekings by Anna-Marie Blom is net oop tot 10 Desember 2018 en daarna sluit die skole en open eers weer op 9 Januarie 2019.

Vir enige ander besprekings in die dorp of nabygeleë plase, kontak Esther in die kerkkantoor tot 14 Desember 2018 sodat ek u op die spoor van moontlike verblyf kan plaas. Die meeste gastehuise en verblyf in die dorp is reeds bespreek (dit is dié wat weet dat jy nie kan wag met Dankfees verblyfbesprekings nie!), maar ons gaan ons bes doen om almal te help. Woonwa en tentverblyf is by die koshuis, Springbok Lodge, Tries se Skuur en moontlik in privaat erwe beskikbaar. Ons sal enige moontlikheid ondersoek om u te help. Die kerkkantoor heropen weer op 16 Januarie 2019 (die skriba moet behoorlik rus kry voordat ons weer volstoom Dankfees hou!)

Die eerte BATEVEILING was hierdie jaar ‘n groot sukses en ons maak weer so in 2019. Moenie agterbly nie, hou ons kennisgewings dop, skryf items wat u wil kom verkoop in voor 12 April 2019.   Indien u nie wil verkoop nie, kom KOOP dan. Die veiling begin reeds om 13:00 op die terrein van Springbok Lodge en BKB Paarl bied weereens hul dienste gratis aan ons. Wat ‘n voorreg om sulke vriende te hê. Baie dankie aan ds Kallie le Roux wat dié veiling organiseer. Meer besonderhede sal in Januarie 2019 bekikbaar gestel word.

Ons wens u almal ‘n rustige en geseënde Kersfees toe en mag die Nuwejaar jubelende vreugde en voorspoed bring. Bid saam met ons vir reën om die verskriklike somerhitte wat voorlê te breek en ons boere weer moed te gee vir die jaar wat voorlê.

Deel gerus hierdie epos met al u vriende en moedig hulle aan om hulle eposadresse ook op die lys te plaas (ngkerkmerweville@gmail.com).

Liefde en mooi wense soos altyd.

Vriendelike groete

Esther  Fourie
Skriba-Kassier

NG Kerk Merweville
Kerkstraat
Posbus 11
Merweville 6940

Tel:  023 501 4061
Faks: 086 692 1231

E-pos: ngkerkmerweville@gmail.com
Web: www.facebook.com/ngkerkmerweville