Dit is altyd moeilik om in die openbaar dankie te sê vir iets terwyl jou buurman (lees buurdorp) nog ly aan ‘n verskriklike tekort.

Maar die kerkraad van Ceres Moedergemeente het tog besluit dat die gemeente opgeroep moet word vir ‘n spesifiek gerigte Dankie-sê Sondag vir die mooi reën wat ons die afgelope winter ontvang het. Die berge rondom Ceres is die opvanggebied van twee riviere: die Breërivier asook die Olifantsrivier, daarom is ons gewoond aan groot hoeveelhede reën gedurende die wintermaande. Maar verlede jaar (2017), het daar soveel minder reën geval dat boere in ons omgewing noodmaatreëls moes toepas om water te spaar vir hulle vrugtebome. Die scenario wat geteken is, was kritiek.

Baie damme was aan die begin van 2018 leeg en daar is aan die begin van die jaar op groot skaal van ondergrondse water gebruik gemaak.

Ons het weekliks ook met angs en kommer verneem van die situasie in die Kaapse metropool en daar is geëis dat Dag Zero sou aanbreek.

Hierdie situasie het ons almal genoop om met oorgawe te bid dat die Here sou voorsien. En dit het ons by verskillende geleenthede gedoen – te midde van “realistiese” opmerkings oor wat op langtermyn vir die 2018-winter voorspel is.

Die Here het tog op wonderlike wyse vir ons in ons omgewing, asook in die opvanggebiede van damme wat vir die metropool aan water voorsien, gesorg. In Ceres het die Koekedouwdam van onder 20% beweeg totdat dit in laat September begin oorloop het! Dit het ons almal met vreugde vervul! Ons het ook twee maal gedurende die winter heerlike sneeu gehad.

Ons gemeente wil op Sondag 25 November ‘n spesifiek gerigte dankie-sê geleentheid by ons erediens inrig en nooi almal wat deel in hierdie vreugde, om saam met ons op die dag dankie te sê.

Ons is ook seer bewus van hoe droog dit in ander gebiede is en ons harte pyn vir almal wat onder hierdie droogte gebuk moet gaan. Ons sal ook by hierdie geleentheid steeds intree vir hierdie areas.

Mag die Here voorsien.

Pierre Marais
Leraar
NG Ceres Moedergemeente

14 November 2018