Na amper ag jaar by NG Gemeente Loeriesfontein neem die Van der Westhuizen-egpaar op 19 Januarie afskeid van die gemeente en verhuis na Steytlerville in die Oos-Kaap.  In sy afskeidsbrief skryf Nico as volg:

“Wat ‘n voorreg was dit nie om die afgelope amper 8 jaar deel van Loeriesfontein en sy mense te kon wees nie. In die tyd het ek die Boesmangras amper heuphoogte gesien staan, die drie-doring wit in die blom agt dae na die reën en Bokvlak oortrek met botterblom. Maar ek het die wêreld die afgelope drie jaar ook sien verander in ‘n “amper woestyn” en een van die ergste droogtes ervaar. Ek het hier ook mense leer ken wat kan aanhou en aanhou, wat spaarsamig kan lewe behalwe as dit by kos kom. Etenstafels het altyd gekreun onder die gewig van al die kos en dan vir my die kosbaarste – al die stories wat die mense oor die mense van die Boesmanland en Hantam kon vertel. Ek gaan met ‘n swaar hart weg, maar die Boesmanland en Hantam het my en Riana se lewens verryk. As ons nie in die wêreld te lande gekom het nie, sou ons wat ons menswees aan betref veel armer gewees het. Maar ons sien ook uit na die nuwe omgewing waarheen ons nou gaan – Steytlerville in die Oos-Kaap. Met ons hele hart glo ons dat ons ook daar lekker in God se wingerd sal werk. En ja, ek gaan nog steeds die wêreld daar ook platry met my motorfiets.”