Nooit te jonk om ’n verskil te maak nie
👤 Ria Strydom

Dit was beslis ’n eerste vir die historiese Andrew Murray Spiritualiteit Sentrum in Wellington op die naweek van 28-30 November 2025! Ses-en-dertig entoesiastiese tienerleiers, genomineer deur hul ringe en gemeentes, het geesdriftig kleur verleen aan die statige, eeue-oue geboue. Mens kan jouself selfs indink hoe Andrew Murray hierdie georganiseerde chaos sou geniet!


Die NG Kerk Tienerleier Indaba is ‘n inisiatief van die Diensgroep Jeug van die Sinode van Wes-Kaapland. Die tema van die naweek is “geroep” en die doel van die naweek is om tieners toe te rus om leiding te neem met geloofsgroepe, uitreike, en projekte by hulle gemeentes en skole. Niemand is te jonk om ’n verskil te maak nie. Die program lei tieners stap vir stap op, van hoe om ysbrekers aan te biedtot metodes hoe om ’n gesprek te fasiliteer, Bybelstudie aan te pak en gebedstasies te bou.
Die naweek se sessies was gebaseer op die 5 sola’s van die Gereformeerde tradisie om te verseker dat ons tieners die oorsprong en aard van hul kerk verstaan.
Spesiale geleenthede is geskep om die tieners te leer om hul doopherinnerings te vier, met prettige raai-wie-was-die-baba-aktiwiteite, boekmerke met hul doopfoto en -datum en gebedstasies wat op ’n praktiese wyse die betekenis van die doop en hulle roeping uitbeeld.
Die tieners het ook die Silwerkruin ouetehuis in Wellington besoek vir praktiese ervaring van die proses om ’n uitreikgeleentheid te fasiliteer en om te kan ervaar dat ouer mense wel wysheid het om te bied, waaruit tieners kan leer. Die ervaring is afgesluit met ’n heerlike afkoelsessie in die swembad.
Voortvloeiend uit die konsep van wysheid in die grysheid, en die soeke na hulle eie roeping, is ’n menslike biblioteek geskep. Mense uit verskillende beroepe is genooi om by tafels aan te sit, waar die tieners in klein groepies hul vrae kon vra om te kan leer uit die lewenslesse van volwassenes. Natuurlik terwyl pizza en koeldrank bedien word!
Hierdie Indaba, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied word, is ’n uiters belangrike belegging in die toekomstige leiers van ons kerk en dis ’n praktiese toerustinggeleentheid vir die vorming van ons tieners se geloof en roeping.




