12 November 2019

Liewe Vriende,

Dit is altyd `n groot aanpassing in `n nuwe gemeente. En so was dit ook met ons aankoms te Kokstad in 1993. Die vorige tienjaar op Isilimela sendingstasie aan die Wildekus was `n wonderlike ervaring en ons het baie lief geraak vir die tradisionele Pondo`s. Die skuif na `n dorpsgemeente,  met meestal plaaswyke, was aanvanklik baie moeilik  gewees.

Gelukkig vir enige nuwe dominee, is daar  altyd liefdevolle en wyse ouderlinge, diakens en gelowiges wat bereid is om sy of haar hande te vat en hul te lei op die nuwe pad. En so was dit ook met my op Kokstad:   Ev. Silevu, tata  Kutshwa, Juqu, Pacwana en  mama Mcibo,  July, Luthuli –  te veel om almal op te noem. By hulle het ek baie geleer oor die jare en is ek dikwels  bemoedig as ek moeg geraak het op die pad. Sondae het hul nooit hul dominee alleen laat ry na die afgeleë buiteposte en sendingstasies waar ek moes gaan dienste hou het nie. En wanneer ek moeilike sake in die verskillende gemeentes in ons ring moes hanteer, was hul by met raad en daad.

Vandag het ek `n verrassingsbesoek van tata Pacwana gehad. Sy lewe lank het hy op plase rondom Kokstad gewerk. Ouderling Pacwana is `n diepgelowige mens en het  getrou gepreek op die  buiteposte. En al was hy `n eenvoudige plaaswerker, was hy altyd Sondae netjies geklee in sy swartpak,  Bybel onder die arm. En sy Bybel het hy goed geken.  Die enigste kere wat ek hom kwaad gesien het, was wanneer die gemeentevroue  nie sy tee vir hom gegee het in `n koppie met `n bypassende  piering nie!  Nou is hy oud en nie meer so gesond nie, en bly meer as `n 100km`s vanaf Kokstad by familie op Maluti. Steeds het hy `n passie vir verlore mense, en het juis kom hoor of ek nie `n paar Bybels het vir nuwe bekeerlinge nie.

Die afgelope skoolvakansie het ons besoek ontvang van Onrusrivier. Ons vriende het kom help met herstelwerk aan Aloekop se kerk, wat destyds deur Onrus en Graaff-Reinet se gemeentes gebou is. Ons het ook ook herstelwerk aan Mpeni se kerkie gedoen, wat gebou is deur gemeentes van Uitenhage. Die uitreik het begin met `n geseënde diens saam in Aloekop se kerk. Die herstelwerk aan die kerkies was `n gesamentlike poging van VGK en NGK gemeentes, en het in `n wonderlike gees van liefde en samewerking geskied. Ons het groot waardering vir Ds. Michiel de Kock en sy lidmate wat,  met  onkostes en opoffering,  so ver gekom het om hard hier te werk. Ons het die liefde van Jesus in jul dade ervaar.  (Sien die aangehegte foto`s). 

 

 

Na al die harde werk het ons `n paar dae aan die Wildekus gaan ontspan en heerlik by Koffiebaai,  Hole-In-The-Wall en The Haven  gekuier. (Sien foto).  Deur die jare het ons baie van ons ondersteuners op hengelavonture en 4x4ekspedisies aan die Wildekus geneem. Dit was `n manier wat die Here aan ons gegee het om blywende bande  met ons borge te smee. En as jy eers van die Transkei se water gedrink het, vergeet jy dit nooit weer nie!.  Ons het so dierbare mense uit alle sfere van die samelewing van regoor ons land ontmoet,  mense wat ons lewens verryk het en altyd ons vriende sal bly. En ons weet dat hierdie gelowiges gereeld  vir ons intree by die Vader, en bid vir die werk in Transkei. Dit bly ongelooflik dat,  ten spyte van wat in ons land of kerk aangaan,  daar altyd  diegene is met `n sterk sendingroeping in hul harte.

Aan die einde van die jaar,  weereens `n groot dankie vir u liefde, gebede en ondersteuning van die afgelope tyd. Ons het groot waardering vir alles wat julle vir ons doen.

Ons wens u elkeen `n baie geseënde Kerstyd en voorspoedige 2020 toe.

Vriendelike groete.

Christo en Deleste Wooding.