Odusseus, Jesus en die vraag na literêre beïnvloeding

Prof. Hennie Stander

Die nuutste film The Odyssey maak om vele redes opslae. Dit breek ook verskeie rekords. Dit is byvoorbeeld die eerste vollengte-speelfilm wat geheel en al met IMAX-filmkameras verfilm is. ’n Verstommende 640 km film is gebruik. Verskeie bekende akteurs vertolk ook rolle in hierdie film. The Odyssey het nou reeds meer as $1 miljard wêreldwyd verdien.

Die film is gebaseer op Homeros se epos Odusseia, maar dit volg nie die hooflyn van Homeros se werk getrou na nie. Die kern van die film se plot is Odusseus, koning van Ithaka, wat probeer om ná die Trojaanse Oorlog na sy vrou Penelope en sy seun Telemachus terug te keer, maar sy reis word ’n lang stryd teen die see, monsters, versoekings en sy eie oorlogsverlede.

Nou kom ek by wat vir my as gelowige belangrik is: Skaars het die film verskyn, of mense het begin om ooreenkomste uit te wys tussen Odusseus se verhaal en Jesus se verhaal om aan te voer dat Jesus se verhaal beïnvloed is deur die veel ouer verhaal van Odusseus. Die CNN se “world edition” haal byvoorbeeld Dennis MacDonald (met ’n PhD van Harvard Univ) en ander “Bible experts” aan wat sê dat “die DNA van Homeros se eposse regdeur die Nuwe Testament verspreid is”. Dan verwys hulle byvoorbeeld na Jesus wat op die water loop, Jesus se ontmoeting met die man met ’n onrein gees wat tussen die grafte gewoon het, en Paulus wat foutiewelik as ’n god beskou is na hy skipbreuk gely het, ensovoorts.

MacDonald voeg dan dadelik by dat Bybelse outeurs nie plagiaat gepleeg het deur van Homeros se stories gebruik te maak nie. Hy glo dat die Bybelse outeurs eerder van “mimesis” gebruik gemaak het. MacDonald sê “mimesis” was ’n literêre tegniek van daardie tyd “om Jesus met narratiewe steroïdes in te spuit sodat hy met mitologiese helde van die Grieke en Romeine kon meeding, en so kon wys dat Jesus die ‘ultimate superhero’ is”.

Nou kyk, sulke stellings is volslae onsin. In die eerste plek kan ek nie glo dat ’n “Bible expert” kan meen dat die doel van Jesus se wonderverhale is om Hom as ’n superheld voor te stel nie. Dan verstaan die persoon duidelik nie die teologie van Jesus se wonderverhale nie.

Verder is dit so maklik om ooreenkomste tussen enige twee verhale uit te wys, maar ooreenkomste beteken hoegenaamd nie dat daar noodwendig van beïnvloeding sprake is nie. Derdens is dit nie bloot die ooreenkomste tussen verhale wat belangrik is nie; die verskille moet ook in ag geneem word. Akademici het reeds dekades gelede die neiging om oral literêre parallelle te vind en daaruit beïnvloeding af te lei, as “parallelomanie” bestempel, oftewel ’n manie om parallelle uit te wys.

Klassieke tekste en vroeë Christelike teologie

Vroeë Christelike teoloë het inderdaad die klassieke geskrifte geken en dit dikwels gebruik om die Goeie Nuus aan heidene oor te dra. Paulus het ook klassieke werke aangehaal (sien bv. Tit. 1:12; Hand. 17:28 en 1 Kor. 15:33).

Basilius (4e eeu) het ’n boek geskryf met die titel Aangaande die waarde van Griekse Letterkunde. Basilius sê in sy boek dat ’n mens self kan kies of jy gif of heuning uit die antieke geskrifte wil haal. Hy gebruik die beeld van bye wat weet uit watter blomme hulle iets waardevols kan haal. Daarmee sê Basilius dat ’n mens inderdaad goeie lesse uit “slegte” (“heidense”) bronne kan onttrek.

Odusseus as beeld in Christelike onderrig

Maar kom ons fokus nou op Odusseus: Antieke Christenskrywers het dikwels uit Homeros se Odusseia aangehaal en daaruit lesse getrek om heidene te onderrig.

Clemens van Alexandrië (2e eeu) verwys byvoorbeeld in sy boek Vermaning aan die Grieke na Scylla en Charybdis asook die Sirenes. Scylla was ’n nimf wat in ’n seemonster met ses koppe verander is. Sy het matrose van hul skepe af opgetel en geëet; Charybdis was ook ’n seemonster wat as ’n massiewe maalstroom voorgestel is.

Met sy terugkeer uit Troje moes Odusseus tussen hierdie twee gevare deur navigeer. Die Sirenes het die liggame van voëls gehad, met die koppe van vroue. Met hulle pragtige stemme en musiek het hulle matrose mislei om na hulle toe te vaar, en dan het die matrose uiteindelik hulle skepe teen die rotse van die Sirenes se eiland laat vergaan.

Clemens vra dan die heidene om weg te keer van die heidense gebruike, soos ’n mens die dreigende Charybdis of die mitiese Sirenes sou vermy. Sulke gebruike lei ’n mens weg van die ware lewe.

Clemens haal hier die Odusseia xii.29 aan. Hy spreek sy lesers ook aan as “mede-roeiers” en waarsku hulle teen hulle heidense gebruike, wat nes rook en vuur is. Dit is soos ’n eiland vol bene en lyke wat Odusseus ook moes vermy. Die misleidende plesier van die lewe is soos daardie Sirenes wat ’n mens lok om die verkeerde te doen.

Dan haal Clemens weer reël 184 uit die Odusseia aan: “Kom hierheen, beroemde Odusseus, … anker die skip sodat jy ’n goddeliker stem kan hoor.”

Hiermee bedoel Clemens dat die heidene eerder na sy boodskap oor Christus moet luister. Hulle moet die plesier van die wêreld los omdat dit mislei en bedrieg. Clemens vra dan sy hoorders om in hulle lewens verby daardie lied van die Sirenes te vaar, omdat misleidende plesier tot die dood lei.

Hulle moet hulleself eerder vasbind aan die hout van die kruis. Die Woord van God moet hulle stuurman wees, en die Heilige Gees sal hulle dan help om die hemelse hawe veilig te bereik.

Hippolytus en die Sirenes

Ook Hippolytus (Weerlegging van al die Ketterye, 7.1) sê dat ons soos Odusseus moet optree as ons nie meegevoer wil word deur die lering van die ketters nie.

Odusseus het sy bemanning se ore met was toegestop sodat hulle die Sirenes nie kon hoor nie, en hy het hom aan die skip se houtmas laat vasmaak om te verhoed dat hy verlei word. So moet ons ook ons ore sluit vir dwalinge en onsself aan die hout van die kruis verbind om nie meegevoer te word nie.

Kortom, vergesogte ooreenkomste tussen klassieke en Bybelse verhale beteken nie dat die Bybelse verhale noodwendig deur die klassieke verhale beïnvloed is nie. Die antieke teoloë het egter wel die klassieke verhale geken en dit gebruik om die kern van die evangelie aan die heidene te verkondig.

Laastens: Jesus se verhaal bly uniek!

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook:
  • Die Belydenis van Belhar 1986 en die hoop in ons harte

  • Lees | Luister | Leer | Leef – September 2026

  • Toegangsroetes na die stilte wat ons vir God oopmaak