Om raakgesien te word (al praat jy met jou hande)
👤 Wilmi Wheeler
Het jy al iemand probeer groet wat doelbewus die ander kant toe kyk? Daai ongemaklike gevoel van: “Hallo? Ek’s hier?” Nou, stel jou voor dit is jou daaglikse ervaring. Stel jou voor jy moet gedurig jou arms wild rondwaai, net om iemand se aandag te kry… en dan voel dit steeds of jy onsigbaar bly.
Welkom in die wêreld van baie Dowes.
Die Kaapkerk-kommunikasiespan het onlangs ’n draai gemaak by die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) in Worcester. Dit het saamgeval met hulle jaarlikse fondsinsameling en bewusmakingsveldtog. Daar was lag, gebare, musiek wat eerder as vibrasie ervaar is. Alles was vrolik, vol energie. Maar dan, tussen die applous en selfies, het mense eerlik met ons gedeel: “Dowes voel dikwels misgekyk.”
Die ironie van die onsigbare
Daar’s ’n ironie hier wat jou keel ’n bietjie kan toeknoop. ’n Gemeenskap wie se taal basies gesien word (want gebaretaal ís mos visueel!) vertel dat hulle onsigbaar voel. Jy kan mos nie meer duidelik praat as met jou hande, gesig en lyf nie. En tog kyk die res van die samelewing verby.
Dít noem sielkundiges “invisibility syndrome.” Dis die psigologiese wond om aanwesig te wees, maar nie erken te word nie. Dit is iets wat studies oor Dowes oor en oor bevestig: uitsluiting lei nie net tot praktiese frustrasie nie, dit sny diep in jou selfwaarde in. Want wat sê dit as jou storie nooit gehoor of vertaal word nie? Wat sê dit as jy altyd laaste die inligting kry…. of selfs glad nie?
Daar is iets besonders daaraan om by die NID tussen Dowes te sit. Die lug gons nie met klanke nie, maar met hande. Jy sien sinne dans, jy sien woorde vlieg. Jy begin wonder: miskien is die res van ons die dowes; so doof vir die visuele musiek wat oral afspeel.
Dowe identiteit is nie ’n tekort nie. Dit is ’n ander manier van leef. Sielkundiges soos Irene Leigh beskryf dit as “a different center of belonging.” As die horende meerderheid dit begin raaksien, word die vraag nie meer: hoe help ons Dowes by ons inpas? maar eerder: hoe kan ons sáám ’n ruimte skep waar almal tuis is?
Hoe om meer inklusief te wees teenoor Dowes
Nou kom ons wees eerlik: ons almal trap maar lomp rondom Dowes. Ons vergeet om tolke te reël. Ons praat met ons rug na Dowes toe eerder as om hulle in die oë te kyk. Ons dink een les in SASL maak ons slim en dan gebruik ons die verkeerde gebaar en wys eintlik vir iemand “toilet” in plaas van “veels geluk.” (Ja, dit gebeur.)
Maar lomp wees is nie die einde van die wêreld nie, dit is net die begin van leer! Hier is ’n paar dinge wat jy én ek kan doen om vir Dowes te wys ons sien hulle raak:
- Leer basiese SASL. Selfs net hallo, hoe gaan dit en jou naam spel. Dis nie oor perfeksie nie; dis oor respek.
- Kyk mense in die oë. In gebaretaal is oogkontak nie opsioneel nie, dit ís die gesprek.
- Gebruik tolke waar jy kan. Dis nie ’n “ekstra” nie, dis toegang.
- Hou op jammer sê. Dowes wil nie medelye hê nie, hulle wil deelname hê. Jou jammer klink soos ’n verskoning om niks te verander nie.
’n Ligpunt is egter die tegnologie wat Dowes self help om sigbaarheid te versterk. By NID het ons gesels met Lynette Victor, Chief Sign Language Centre Officer, oor die nuwe SASL-app. Dit is nie sommer ’n standaard woordeboek nie; dit is ’n video-woordeboek van gebaretaal, wat gebruikers wys hoe elke woord en frase in Suid-Afrikaanse Gebaretaal uitgespreek word – visueel, maklik verstaanbaar en toeganklik vir almal. “Dis nie net ’n hulpmiddel nie,” sê Lynette, “dit is ’n manier om Dowes deel van die gesprek te maak.”
Om saam met Dowes te wees, is om stilte te leer eer. Stilte as ruimte van aandag, stilte as ’n nuwe vorm van hoor. Miskien is dit juis hier waar die kerk, en ons almal, iets besonders kan leer: dat om regtig te hoor, dikwels beteken om regtig te kyk.
Want die diepste wond is nie doof wees nie. Dit is om nie gesien te word nie. En die grootste geskenk wat ons kan bied, is die erkenning: jy is hier, jy is deel, jy maak saak.





