Scherlize Hayes van Ysterplaat-gemeente gesels met Andries Cilliers oor die eerste hoofstuk van sy boek Onder die blaredak. Hulle gesels oor Geloof en Rede.

Lees ook Tinus van Zyl van Durbanville se gespreksreeks oor die hoofstuk.

 

 

Wat doen ek wanneer ek glo? Ons doen dit aan die hand van drie woorde uit Psalm 9:11: ken, vertrou en soek:

Ken: Teenoor die siening dat kennis mag is, dat dit daarom gaan dat ek beheer probeer kry oor dit wat ek ken, praat ek van kennis as konneksie: Ek probeer om my plek in die verweefdheid van alle dinge te begryp. Geloof, as kennis van God, beteken daarom nie dat ek God as objek probeer begryp nie, maar eerder dat ek God ontdek as die geheimenis wie se bestaan met ons lewens verweef is op maniere wat ons skaars kan deurgrond.

Vertrou: Om te vertrou, vir my, is om veilig te voel by iemand. Die vraag: “Waarom glo ek?” beteken dus ook: “Waarom sou ek veilig voel by God?” Ek koppel dit aan Gabor Maté se siening dat veiligheid nie die afwesigheid van gevaar is nie, maar die aanwesigheid van egte konneksie. Daarom is geloof, vir my, om te bely: “Veiligheid is nie die afwesigheid van gevaar nie, maar die liefdevolle teenwoordigheid van God.”

Soek: ’n Mens sou kon wonder waarom, as geloof kennis en vertroue is, ons ook van geloof as ’n soeke praat. Die antwoord is dat geloof bo alles ’n verhouding is, ’n verhouding met God – en dat dit in enige verhouding waar is dat mens soek na die ander. Ons soek God omdat ons aan God verbonde is, maar ook omdat God ons begrip te bowe gaan. Ons soek na God in die geselskap van ander wat na God soek – en wat bely dat God ook na óns soek; ons soek God deur die Skrif; ons soek God bo alles in Jesus Christus.

Verder nagedink: Geloof, rede en wysheid

Is dit redelik om te glo? Of is gelowiges onnosel en oningelig? Moet gelowiges anti-intellektueel, anti-akademies wees (en net “kinderlik glo”)?  Ek wil, in hierdie gedeelte, ten minste die moontlikheid oophou dat ’n mens gelowig kan wees en deeglik kan dink. Ek erken die waarde van redelike denke, maar wys ook daarop dat die rede beperkinge het, en dat ons onsself ook op ander maniere oriënteer binne die werklikheid. Ek glo dat ons moet soek na wysheid, in die Bybelse sin van die woord: “Dit is ’n soeke na verbintenis, na insig in die orde, die lewensnetwerk waarbinne ons leef. Dit is ’n saamweef van ou insigte en nuwe waarnemings, van spreuke en poësie, van verbeelding en humor en gesonde verstand. Dit is nie bang om by ander mense te leer nie …” (p40)

Ek wys daarom dat wysheid nie ’n pakkie is wat ons ontvang en net so aangee nie, maar ’n taak = en dat ek hierdie boek sien as ’n soeke na wysheid, met Jesus Christus, “die wysheid wat van God kom” as die begin en die leidsman in ons soeke.

Fokusteks:  Hebreërs 11:1-6; 12:1-3

Ek sal in die preekskets en Bybelstudie fokus op drie woorde uit die teks: sekerheid (11:1), verstaan (11:3) en soek (11:6). Aan die hand van die “groot wolk getuies” (12:1) waarvan Hebreërs 11 ons vertel, en van Jesus as die Leidsman en Voleinder, sal ek die volgende uitlig:

Sekerheid: Geloof is die sekerheid van mense wat weet hoe onseker die lewe is, van mense wat – soos Abraham en Moses en Jesus – die sekerhede van hulle wêreld agterlaat en ’n reis te onderneem sonder om te weet waar hulle gaan uitkom, met God se beloofde toekoms, die onsigbare doel waarop hulle hoop, as hulle enigste sekerheid.

Verstaan: Geloof is die verstaan dat die sigbare ontstaan het uit die onsigbare; dat die sigbare dus ook gedra word deur die onsigbare. Geloof vat dit wat ons oor die wêreld sê, persoonlik op: ek bestaan omdat God wil dat ek bestaan; ek word in my bestaan gedra deur God. Daarom maak gelowiges – weer soos Abraham en Moses, bo alles soos Jesus – keuses wat op die vlak van die sigbare nie sin maak nie, maar wat juis koers en rigting aan hulle lewe gee.

Soek: Geloof is daarom om God te soek, om God se wil te soek, God se pad vir ons. “Soek” sê ons hét dit nooit heeltemal nie; dit lê altyd voor ons, ons is altyd onderweg daarheen – maar ons glo dat dit juis die soeke is wat die lewe die moeite werd maak (meer as al die beskikbare sigbare skatte van ons wêreld). Dit is juis in dié soeke dat ons die oë op Jesus moet hou.

Moontlike vrae:

  1. Jy gebruik drie woorde om geloof te beskryf: Kennis, vertroue en soeke. Gesels ’n bietjie oor wat dié drie woorde vir jou beteken?
  2. In Hebreërs 11, die Skrifgedeelte waaroor ons Bybelstudie gaan doen, word ’n hele klomp gelowiges by die naam genoem. Waarom wou jy hê moes ons juis oor hierdie mense nadink – en hoe sien jy geloof in hulle lewens aan die werk?
  3. Sommige mense reken dis nie redelik om te glo nie. As jy glo, dink hulle, is jy oningelig of dalk selfs onnosel. Ander mense, weer, dink gelowiges moet net kinderlik glo en glad nie moeilike vrae stel nie. Hoe dink jy oor die verhouding tussen geloof en rede?
  4. Hoekom is die soort moeilike vrae – soos die vraag oor geloof en rede – vir jou belangrik? Kan ons nie maar net die moeilike vrae opsyskuif en aangaan met ons geloofslewe nie?
  5. Jy gebruik uiteindelik die woord wysheid om geloof en rede bymekaar te bring. Wat is wysheid? En hoe kan ons wysheid soek?