Dr. Marnus Havenga van Kerklike Opleiding aan die teologiese fakulteit gesels hierdie week met Andries Cilliers, skrywer van Onder die Blaredak, oor die tweede hoofstuk van sy boek: Ek glo … omdat daar iets is en nie niks nie.

Lees ook Tinus van Zyl van Durbanville-gemeente se gesprekreeks hieronder.

 

 

Ons gesels vandag oor wat Leibniz beskryf het as die oudste filosofiese vraag: Waarom is daar iets en nie niks nie?  Het alles “sommer” tot stand gekom? Of maak dit nog sin om te staan by die geloofsantwoord: Daar is iets omdat God dit gemaak het? Geloof is “om by ‘sommer’ verby te wonder.” (p45)

Ek gebruik dan twee begrippe, ontnugtering en verwondering, om ons ervaring van die “iets” te bespreek. Wysheid is om dié twee bymekaar te hou, te integreer in jou visie van die lewe. Ontnugtering dring ons om te vra: Is dit goed dat daar iets is en nie niks nie? (’n Vraag wat Job op sy manier ook gevra het)  As jy dit eers vra, moet jy ook wonder: Indien God alles gemaak het – is God goed? Dit is vrae wat ernstig opgeneem moet word, maar ek wil ook ’n teenvraag vra: Maak die algemene aandrang (ook by baie ongelowiges) dat ons die lewe moet vier, sin sonder geloof? Ek wil daarom vashou daaraan dat verwondering – die ervaring dat die werklikheid tóg goed is en dat die Skepper van die werklikheid tóg goed is, ernstig opneem.

Ek bespreek daarna die siening dat God die “eerste oorsaak” is van die werklikheid waarbinne ons leef, die oorsaak wat self geen oorsaak het nie. Hoewel dié argument nie bewys dat God bestaan nie, en hoewel dit ook nie ’n argument sonder probleme is nie, hou ek tog vas aan Paulus se siening dat alles uit God, deur God en vir God bestaan. Die “vir God” bring my by die vraag of alles ’n doel het en of ek ook kan glo dat my eie lewe ’n doel het. Ek hou daaraan vas, maar wil die doel nie sien as iets wat van “buite af” aan ons opgedwing word nie; dit is eerder ’n potensiaal wat in ons lewens ingeweef word, wat op ’n wye verskeidenheid maniere tot werklikheid gebring kan word en wat uiteindelik deur God na vore getrek word. “Ek sien dit nie, maar ek hoop daarop.”

Die vraag is egter hoe ’n mens dit alles weet? Hier kan ek net bely: “Ontnugtering en verwondering is leidrade waarmee ek na wysheid soek, maar die Leidsman is en bly Jesus.”

Verder nagedink: Geloof en wetenskap

In hierdie gedeelte probeer ek om by die teenoorstelling van geloof en wetenskap verby te kom en te soek na ’n perspektief waarbinne ’n mens as gelowige ook die wetenskap ernstig kan opneem; en as wetenskaplike ook kan oop wees vir geloof. Ek bespreek dan die redes waarom ek steeds glo dat dit sin maak om te bely dat ons werklikheid se diepste oorsprong in God lê (en nie in toeval nie). Hierdie “waarvandaan” van ons storie maak vir my sin van my eie lewe – en dit is ook nie, reg beskou, vir my in stryd met wetenskaplike sienings oor die ontstaan van die heelal of die mensdom nie.

Ek bespreek ook die vraag of ons bestaan enige doel het (die “waarheen” van ons storie).  Terwyl ek van mening is dat Christene dikwels nie die ervaring van doelloosheid en sinloosheid (wat jy ook in Prediker, en op ’n gans ander manier in Romeine 8 kry) ernstig genoeg opneem nie, hou ek vas daaraan (saam met Paulus) dat daar te midde van die ervaring van sinloosheid (verganklikheid en verydeling) tog rede is om vas te hou daaraan dat God nie die werk van sy hande laat vaar nie, maar dat God met die skepping en met ons onderweg is na die heerlikheid waarop ons hoop. Dié hoop word geanker in Christus, in sy lewe, kruisdood en veral sy opstanding.

Ook dié geloof staan nie vir my teenoor die wetenskap nie. Ek verset my wel teen die gedagte dat die wetenskap ons totale werklikheidsbeskouing kan bepaal (soos in sienings van die werklikheid as ’n groot masjien, of ons bewussyn as ’n soort rekenaar). Dit bring my terug na die soeke na wysheid: “Die wysheid van bo sweef nie iewers bo ons materiële werklikheid as “geestelike waarheid” nie. Dit word gesoek in hierdie lewe, in hierdie wêreld, in gesprekke met die mense om ons, as lewensoriëntasie van vlees-en-bloed-mense wat afhanklik is van die tasbare, sigbare werklikheid wat deur God geskep is. Ons glo immers dat die Wysheid van God vlees geword het in Jesus Christus; Hy wat vir ons die Lewensbron is; Hy wat die Een is uit wie en na wie toe ons groei as mense.” (p65)

 

Fokusteks: Romeine 11:33-36    

Romeine 11:36 (“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge”) is die hart van dit waarom Week Twee gaan, Dit is die kortste moontlike samevatting van ons geloof in God as Lewensbron (die “waarvandaan” van ons lewe en geloof) en God as ons Lewenshoop (die “waarheen”  van ons lewe en geloof). Dit sny enige deïstiese voorstelling (dat God die werklikheid aan die gang sou sit, maar nou daarby onbetrokke is) by die wortel af met die woorde “deur Hom.” God was nie net die Lewensbron iewers aan die begin van die skepping nie; God is voortdurend die Bron waaruit ons leef. In ’n preekskets sou ek graag veral hierop wou klem lê.

Terselfdertyd help die teks ons om twee belangrike aspekte van geloof te belig. Die eerste is dat geloof nie beteken dat ons God nou volkome begryp nie. God gaan ons begrip te bowe: “Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree?” (vers 34)  Geloof buig juis voor die onbegryplikheid van God: “Hoe ondergrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurlik sy weë!” Paulus sê dit uiteraard teen die agtergrond van sy worsteling met God se ewige keuse in Romeine 9-11. Daar is so baie aan die pad wat God met ons loop wat ons eenvoudig nie kan begryp nie. Maar hierdie onbegryplikheid verberg nie ’n donker geheim wat ons angstig laat oor onsself of ons toekoms nie. Hoe onbegryplik God se weë ook al mag wees, is die doel daarvan duidelik: dat Hy Homself oor almal wil ontferm (11:32). Daarom sou ek God se onbegryplikheid veral wil sien as sy vrede en sy liefde in Christus wat ons verstand te bowe gaan (Filippense 4:7 en Efesiërs 3:19).

Die tweede ding wat belangrik is, is dat geloof ons nie ’n greep op God gee nie. Ons kan God nie deur geloof beheer of manipuleer nie; ons kan nie deur ons kennis van God mag oor God kry nie: “Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie sou Hy moes vergoed?” Geloof gaan om ons verbondenheid aan God wat groei uit sy ewige verbondenheid aan sy skepping en aan ons; dit gaan daarom dat ons weet ons leef uit en deur en tot die God van vrye genade.

Ek sou dan uit die teks wou aantoon dat “alles” wat uit en deur en tot God is, beteken dat ons ook nie hoef te skrik vir menslike kennis van die werklikheid nie; dat ons nie hoef terug te deins vir wetenskaplike kennis nie. Maar ons kan wel sê dat die “alles” ook meer is as wat ons wetenskap ooit kan omvat; dat die wetenskap nié die enigste bron van wysheid is nie. Die verabsolutering van wetenskaplike kennis kan ons trouens op dwase paaie lei, veral as ons die “alles” reduseer tot materie, tot ’n groot masjien; en as ons kennis eensydig net sien as mag, as oorheersing.

Moontlike vrae:

  1. Jy begin jou bespreking hierdie week met die ou filosofiese vraag: “Waarom is daar iets en nie niks nie?” Hoekom is hierdie vraag vir jou belangrik?
  2. Dink jy ons kan probeer om te bewys dat God bestaan? Is die gedagte dat die werklikheid ’n oorsaak moet hê byvoorbeeld genoeg om ons te laat sê daar moet ’n God wees?
  3. Jy skryf oor die vraag of die werklikheid as geheel – en my lewe in die besonder – ’n doel het of nie. Baie mense ervaar egter die lewe as sinneloos en doelloos; of hulle glo dalk daar is ’n doel, maar hulle weet nie wat die doel van hulle eie lewens is nie. Watter perspektief gee geloof ons hierop?
  4. Uit dit wat jy oor geloof en wetenskap skryf, is dit duidelik dat jy respek het vir dit wat die wetenskap bereik het, maar dat jy ook reken die wetenskap is nie genoeg om ons ’n volle prentjie van die werklikheid te gee nie. Waarom is dit vir jou belangrik dat ons ook die grense van die wetenskap moet erken?
  5. Watter verskil, dink jy, maak dit aan ons dag-tot-dag lewens om te glo dat alles “uit God, deur God en tot God” bestaan?