Die krag van genade in ‘n gebroke wêreld

👤 Ronelda Visser

In ‘n wêreld wat dikwels vasgevang is in die koue reëls van oorsaak en gevolg – waar elke daad ‘n onvermydelike gevolg het, vra ons onsself af: Is daar ‘n manier om vry te wees, om nuut te begin, ondanks ons foute en mislukkings? Die antwoord lê in die ontsagwekkende realiteit van genade — daardie onverklaarbare, onverdiende geskenk wat God ons bied deur Christus. In genade ontdek ons die moontlikheid van ‘n nuwe begin, ‘n tweede kans wat ons uitnooi om te vergewe, versoening te soek en te leef in die oorvloed van God se liefde.

Andries Cilliers herinner ons daaraan dat genade nie net ‘n teologiese konsep is nie, maar ‘n lewende werklikheid wat die koue van wettisisme en bandeloosheid deurbreek. Genade is die ervaring van iets wat groter is as ons mislukkings, ‘n ruimte waarin ons kan groei, genees en nuwe vreugdes vind. In die evangelie van Christus sien ons die hoogste manifestasie van hierdie genade — ‘n God wat kies om dinge anders te laat uitloop as wat ons verdien. Dit is die lig wat deur die donkerte van ons skuld en vrese breek en ons verlos van die boeie wat ons self gesmee het.

Ek glo … omdat daar genade is

Andries Cilliers wys daarop dat ons, indien ons reken dat ons nét in die werklikheid van oorsaak en gevolg leef, eintlik in ‘n ysterhok  vasgevang is. Die vraag is of daar enige werklike vryheid is vir ons as mense. Dit is veral ’n vraag binne wat ’n mens die morele orde kan noem. Is “boontjie kry sy loontjie” die laaste woord – of mag ons glo in nuwe moontlikhede, verrassende moontlikhede, in vryheid?

Dié vryheid vind ons in die goeie nuus van God se genade in Christus: “Ek glo omdat ek genade nodig het. Ek glo omdat ek genade ervaar. Ek glo omdat ek beleef dat dit goed is om genade te bewys. Ek glo omdat God my genadig is.” (Onder die Blaredak, bladsy 121.)

“Ek stel dan die goeie nuus van genade teenoor bandeloosheid, aan die een kant en moralisme, aan die ander kant. Beide, glo ek, is liefdeloos – en nie een bring vir ons die vryheid om met onsself en ander mense saam te leef nie. Genade is God se vryheid waardeur God óns die vryheid gee om nuut te begin, om te vergewe, om versoening te soek. In antwoord op die vraag: Hoe voel genade? sluit ek aan by Frances Spufford se siening dat genade die ervaring is van iets wat groter is as ons mislukkings, as die gemors wat ons maak van dinge. Dit is die ruimte wat God skep vir vergifnis en oorbegin en onverdiende vreugdes.

Die vraag is dan: Hoe weet ons dat daar regtig genade is? Vir my is daar net een antwoord: omdat ons genade sien in die lewe, kruisdood en veral die opstanding van Jesus Christus. In die evangelie sien ons God se vryheid om dinge anders te laat uitloop as wat ons verwag, as wat ons verdien.”

Tinus van Zyl dink verder: Is Jesus rêrig?

Tinus van Zyl van Durbanville-gemeente reflekteer verder oor hierdie onderwerp. “My perspektief op genade as vryheid is net houdbaar indien die evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding betroubaar is. Hoewel die kernvraag is of Jesus regtig opgestaan het uit die dood, iets wat baie mense met skeptisisme bejeën, bring dit ’n mens noodwendig uit by die vraag of jy die evangelies hoegenaamd kan vertrou.

Hieroor sê ek dat die meeste historici aanvaar dat Jesus regtig geleef het. Ook dat Hy regtig gekruisig is (eenvoudig omdat kruisiging in hulle wêreld so ’n skande was dat geen volgeling so ’n einde aan Jesus sou toegedig het as dit nie werklik gebeur het nie). Verder staan dit vas dat die oortuiging dat Jesus opgestaan het uit die dood, baie kort na sy kruisdood reeds verkondig is. Verder is daar baie vertellings oor Jesus oorgelewer wat later in die vier evangelies opgeteken is.

Die vier evangelies loop uiteen (veral Johannes verskil baie van die ander drie), maar die boeiende is dat almal dieselfde patroon vertoon, ’n patroon wat ons reeds vind in die ou Christelike lied wat Paulus in Filippense 2:5-11 aanhaal. Die patroon is dié van iemand wat deur diep vernedering, lyding en kruisdood gaan, maar wie se lewe eindig in verheerliking. Die swaartepunt van Jesus se lewensverhaal lê hiervolgens in die laaste week waarin Hy gearresteer, veroordeel, gemartel, gekruisig en begrawe is.

Ek sê dan: ‘Dié patroon maak egter net sin in die lig van die voltooiing daarvan in Jesus se opstanding en verheerliking … alles word vertolk vanuit die einde.’ (Onder die Blaredak, bladsy 136.) Hoewel ek glo dat historiese rekonstruksies ons kan help om die evangelies beter te verstaan, wys ek die tipe rekonstruksies af wat by voorbaat veronderstel dat die opstanding nie kón gebeur het nie (en dat dit dus op ander maniere vertolk moet word).

Dié verskil in wêreldbeelde kan eerlik gestel word – maar nie een kan op objektiewe status aanspraak maak nie. Beide berus op sekere veronderstellings. ‘As ons dit eers wedersyds erken, kan ons met mekaar begin praat oor wie van ons die meeste reg aan die gegewens kan laat geskied. Dalk, selfs waarskynlik, sal ons mekaar nie kan oortuig nie, maar ons sal ten minste die gesprek eerlik kan aanpak.’ (Onder die Blaredak, bladsy 139.)

Ek lê klem daarom dat die opstanding ’n gebeure sonder analogie is; iets wat nie vertolk kan word binne ons oorsaak-gevolg-denke nie. Die opstanding is die begin van die nuwe skepping. Nogtans gebeur dit in ons wêreld – en kan ons met reg vra wat gebeur het tussen die eensame kruisdood van Jesus en die ontstaan van klein gemeentetjies waarin Hy as Here en Messias vereer is, nie lank daarna nie.

Iets het gebeur – die vraag is wat. Jy sou baie antwoorde kon gee, maar uiteindelik bly die evangelie se antwoord vir my die oortuigende: Hy het werklik opgestaan. ‘Ons hoop lê nie in ons godsdiens nie. Dit lê ook nie in die kerk self nie. Dit lê in die genade van sy opstanding.’ (Onder die Blaredak, bladsy 141.)

Fokusteks: Efesiërs 2:1-10

“Hierdie Skrifgedeelte weef die temas van genade, opstanding, geloof en nuwe lewe saam. Dit teken genade as die onverdiende geskenk van lewe aan hulle wat in hulleself dood is. Dit is vir ons moeilik om hierdie harde oordeel – dat ons buite Christus, sonder God, dood is te begryp. Baie mense sal ook aanstoot neem hieraan, en ek meen dat ’n prediker baie moeite sal moet doen om hierdie ‘doodsvonnis’ uit te spel op maniere wat mense vandag sal kan begryp.

Dit is van wesenlike belang, omdat jy nie die radikaliteit van die genade (en die bevryding wat dit bring) kan verstaan as jy nie verstaan wat die woorde ‘julle was dood’ beteken nie.

Die belangrike, dan, met die oog op hierdie week se tema, is om duidelik te maak dat genade staan en val by die werklikheid van Christus se opstanding. Indien Christus nie opgestaan het nie, is die nuwe lewe waarvan Paulus praat, nie ’n werklikheid nie; indien nuwe lewe vir mense wat dood is, nie ’n werklikheid is nie, dan is daar geen genade, geen oorbegin nie. Dan is ons nog vasgevang in hierdie ysterhok van oorsaak en gevolg, met geen hoop op vryheid nie.”

Verdere nadenke

  1. Ons het die afgelope weke gekyk na die skepping, na orde, na reg en verkeerd. Hoe kom jy van dié onderwerpe uit by genade?
  2. Jy praat van genade as vryheid, as die ontdekking van “iets groters” as ons ontnugtering en mislukking. Hoekom is juis dié beelde van genade vir jou belangrik?
  3. Ons hoor dikwels dat die kruis van Christus sentraal gestel word wanneer ons oor genade praat (Jesus wat gesterf het sodat ons kan leef). Jy koppel genade egter baie sterker aan sy opstanding. Hoe hou dit verband met jou siening van genade as vryheid?
  4. Aan die een kant is dit duidelik dat die opstanding van Jesus vir jou die belangrikste rede is waarom jy glo – maar aan die ander kant is dit vir baie mense juis ’n struikelblok, juis iets wat hulle nie kan glo nie. Kan ’n mens ’n struikelblok die sentrale argument vir geloof maak?
  5. Dink jy die vier evangelies – en die Nuwe Testament as geheel – bied regtig vir ons ’n betroubare beeld van wie Jesus was en wat Jesus gedoen het?
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: