Die soeke na wat reg en verkeerd is, het ons altyd vergesel, maar die reis is vol onsekerheid. In ‘n wêreld waar elkeen doen wat reg is in sy eie oë, soos Rigters 21:25 sê, kom die vraag na vore: Kan ons regtig op ons eie die pad van moraliteit stap, of is daar iets of Iemand groter wat ons rigting gee?
In die dieptes van ons feilbaarheid en menslikheid, bly ons soeke na morele wysheid ‘n reis van aanvoeling, gewete en gesonde verstand. Ons oordeel is broos en onseker, maar tog, lê ons hoop nie in onsself nie, maar in Christus, die Een wat reg en verkeerd vir ons belig. Jesus, die Weg, wys ons hoe om deur onsekerhede en verskille te navigeer, deur die krag van wie Hy is. By Hom leer ons om te honger en dors na wat reg is, in ‘n nederige, volhardende soeke na waarheid wat ons tot dieper wysheid lei.
Judy-Ann Cilliers gesels met die skrywer van Onder die blaredak, Andries Cilliers, oor die vierdie hoofstuk van sy boek wat gaan oor reg en verkeerd.
Ek glo … omdat daar reg en verkeerd is
“Wat is goed? Wat is kwaad? Kan ons weet? Maak dit saak? Ek erken dat ons oordeel oor reg en verkeerd feilbaar en voorlopig is en dat ons nederig moet wees wanneer ons hieroor praat. Nogtans glo ek dat die vraag na reg en verkeerd – en die verwante vraag of ons geloof in God nodig het om te weet wat reg en verkeerd is – lewensbelangrik bly.
Na ‘n bespreking van Rigters 21:25 se woorde ‘… elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë’ (met rampspoedige gevolge!) en die verskillende maniere waarop ons kan soek na wat reg is, maak ek dié gevolgtrekking: ‘Morele wysheid, glo ek, vra aanvoeling en gewete en gesonde verstand en redelike nadenke en gesprek tussen mense. Al hierdie dinge speel ‘n rol. Die vraag is net of dit alles saam genoeg is?
Kan die mens self genoegsaam onderskei, of het ons God nodig? (Onder die blaredak, bladsy 95). Ek bevraagteken die gedagte dat gelowiges noodwendig beter lewens lei, of beter morele oordele maak as ongelowiges. Ek bevraagteken ook die gedagte dat ons in God moet glo omdat God ‘nuttig’ is as basis vir ons moraliteit. Morele onderskeiding is en bly ‘n menslike proses, maar nogtans vra ek: ‘Ons kan dalk moraliteit sonder God hê, maar kan ons sonder God nog profete hê wat ons morele oordele uitdaag? Sou sulke profete enige grond onder hulle voete hê om teen die meerderheidswil in te gaan?’ (Onder die blaredak, bladsy 97).
Ek is van mening dat ook gelowiges in hulle morele oordele menslik en feilbaar bly, en vra daarom of daar enige hoop is vir ons in ons soeke na morele wysheid. Vir my lê die enigste hoop in Christus, Immanuel – omdat dit my die hoop gee dat God ons feilbare menswees nie uitskakel nie, maar in diens neem om ons te op pad te bly in ons soeke na wat reg is. By Jesus leer ons veral om te honger en te dors na war reg is – ‘n honger wat bandelose mense nie ken nie, omdat hulle agter ander begeertes aanloop; maar ‘n honger wat moraliste ook nie ken nie, omdat hulle reken hulle weet reeds volkome wat reg is.
Ek sluit die dagstukkies van die week dan af met ’n bespreking van Christus as die Weg: ‘Ons volg Hom deur ons onsekerhede en ons verskille, dikwels sonder om presies te weet waar ons gaan uitkom. Ons volg Hom ook waar ons nie verstaan nie en nie weet nie omdat Hy ons vorentoe lok. In die eerste plek nie deur die voortreflike morele antwoorde wat Hy gee nie, maar bo alles deur wie Hy is.’ (Onder die blaredak, bladsy 103).”
Tinus van Zyl dink verder: Is godsdiens die wortel van alle kwaad?
Lees ook Tinus van Zyl van Durbanville-gemeente se gesprekreeks oor hierdie onderwerp.
“Godsdiens word soms deur ongelowiges beskryf as die wortel van alle kwaad. As godsdiens net so verdwyn, sou ons vrede hê, reken mense. Ek probeer om in hierdie gedeelte ‘die saak teen godsdiens’ volkome ernstig op te neem, maar is tog van mening dat daar ook ‘n saak teen de saak teen godsdiens is.
Ek vra in die eerste plek die vraag of die verdwyning van godsdiens werklik vrede sal waarborg. En indien dit die anti-godsdienstiges se ‘resep’ vir vrede en hulle hoop vir die toekoms is, wat gaan gebeur indien godsdiens nié verdwyn nie? Hoe gaan hulle dit láát verdwyn? Die gevaar dat ’n radikaal anti-godsdienstige houding uiteindelik ook tot geweld eerder as vrede kan lei, is nie denkbeeldig nie.
Ek wys daarom ook daarop dat die neiging tot geweld diep in ons menswees gewortel is. Ons is ook altyd maar weer geneig om ander mense of magte (soos ‘die godsdiens”) te blameer hiervoor: “Mense pleeg geweld en regverdig dit op allerhande maniere, ook deur godsdiens. (Onder die blaredak, bladsy 111). Daar is nie regtig iets soos ‘die godsdiens’ nie. Godsdiens is ‘n abstraksie, ‘n handige een, maar ons moet onthou dat godsdiens op sigself nie bestaan nie; al wat bestaan is mense wat op uiteenlopende maniere dinge doen wat ons in ‘n algemene sin as ‘godsdiens’ beskryf.
Hoewel ek nie die waarde van sulke abstraksies ontken nie, wys ek daarop dat mense, in hulle volle menslikheid, dikwels agter ons abstraksies verdwyn, sodat ons net ‘die godsdiens’ sien en nie die mens nie. ‘Die oomblik dat jy teen abstraksies begin baklei en vergeet dat jy met medemense te doen het, loop jy ‘n gevaarlike pad.’ (Onder die blaredak, bladsy 112).
Ek pleit daarom daarvoor dat ons wegdoen met die dun beskrywing van ‘godsdiens’ en dat ons eerder ons oë oopmaak vir die ryke, komplekse, gevarieerde aard van godsdiens. Teenoor die ‘onheilsgeskiedenis’ waarin ‘die godsdiens’ vir alle menslike swakhede blameer word, moet ons daarom ook aandag gee aan die goeie wat godsdienstig-geïnspireerde mense doen.
Ek kom terug na die saak teen godsdiens, hierdie keer vanuit ’n Bybelse hoek. Die profete, en Jesus Christus self, lewer die sterkste kritiek teen godsdiens wat ‘n mens jou kan voorstel. Ek vra of ons Jesus hierin navolg: ‘Dikwels lyk die kerk meer soos dit waarteen Jesus gestry het as wat ons lyk soos volgelinge van Jesus.’ Dit is waar dat daar, naas die harde oordeel oor godsdiens, ook op plekke in die Nuwe Testament meer positief na godsdiens verwys word – maar ons moet onthou dat Jesus gesê het dat die boom aan sy vrugte geken word. Dit is ook waar van die boom van ons godsdiens.
Ek sluit die gedeelte af deur te praat oor ontnugtering – en vra dan: ‘Wat moet ek dan doen wanneer ek met myself ontnugter is, wanneer ek besef dat ek, gelowig of nie, godsdienstig of nie, deel is van hierdie mensdom wat so geneig is om ’n gemors van dinge te maak?'”
Fokusteks: Jakobus 3:13-18
“Jakobus 3:13-18 vat twee belangrike sake uit die boek tot dusver saam: die soeke na wysheid en die strewe na vrede. In die preekskets sal ek probeer aantoon hoe Jakobus se kritiek op ’n wysheid wat vol ‘bittere afguns en selfsug’ is, nie gerig is teen ongelowiges nie, maar juis teen gelowiges wat daarop aanspraak maak dat hulle die waarheid en die wysheid besig, maar wie se lewens wys dat hulle eintlik ‘teen die waarheid lieg.’
Ek sou – ook uit die Jakobusbrief as geheel – probeer aantoon dat godsdienskritiek noodsaaklik is; dat ons godsdienstigheid juis deur die Woord onder kritiek geplaas word. Ek sal ook wys op dit wat Jakobus 1:27 ‘suiwer en onbesmette godsdiens’ noem en aantoon dat die wysheid van bo (en die gebed om daardie wysheid – Jakobus 1:5) juis grondliggend is vir hierdie soort godsdiens.
Ek sou dan verder die eienskappe van die ‘wysheid van bo’ in 3:17 bespreek en aantoon hoe dit teenoor bandeloosheid, aan die een kant, maar ook teen ’n oordeelsugtige moralisme, aan die ander kant staan; hoe dit ons lei om ons eie godsdienstigheid en ons oordele oor ander te bevraagteken, maar ook hoe ons as vredemakers nuwe verhoudings kan bou met ander.
Verdere nadenke oor die tema van ‘reg en verkeerd’:
- Jy skryf in hierdie week se gedeelte oor reg en verkeerd. Maar is reg en verkeerd nie maar net ’n kwessie van menslike opinie nie? Kan ek vir jou besluit – of jy vir my! – wat reg of verkeerd is?
- Baie mense se belangrikste argument vir geloof is dat mense sonder God sal doen net wat hulle wil. Ons het God dus nodig vir moraliteit, beweer hulle. Stem jy saam hiermee?
- Jy sê dat morele soeke altyd menslik en feilbaar bly – maar reken tog dat geloof ’n wesenlike verskil maak aan ons strewe om te onderskei tussen reg en verkeerd. Waarin lê daardie verskil vir jou?
- John Lennon se “Imagine” vra ons om te droom van ’n wêreld sonder godsdiens, ’n wêreld van volkome vrede. Vir baie mense is godsdiens die belangrikste oorsaak van geweld en onreg in ons wêreld. Hoe voel jy daaroor?
- Volgens jou is daar ook ’n gelowige saak teen godsdiens – en behoort volgelinge van Jesus ook krities te staan teenoor hulle eie godsdienstigheid. Hoekom voel jy so?