Waarheid in ‘n wêreld vol wanhoop

👤 Ronelda Visser

In ‘n wêreld waar feite en valsheid soms net ‘n haarbreedte van mekaar geskei is, waar leuens as waarhede verkoop word en waar elke stem sy eie weergawe van die waarheid uitroep, bly daar ‘n vraag wat diep in ons harte resoneer: Is daar iets soos die absolute waarheid? Hoe weet ons wat werklik is in ‘n era waar opinies dikwels as onbetwisbare feite aangebied word? Kan ons, te midde van die geraas, nog steeds die stem van waarheid hoor wat ons lei en vorm?

Andries Cilliers herinner ons dat die soeke na waarheid nie ‘n maklike pad is nie, maar wel een wat ons nie moet opgee nie. Hy stel dit duidelik: sonder waarheid is daar geen hoop nie. Maar hierdie waarheid is nie iets wat ons in ‘n netjies verpakte boksie kan bêre nie — dit is ‘n lewende realiteit wat ons ontdek deur die voetstappe van Jesus te volg. Die waarheid in Christus is groter as ons begrip daarvan. Dit is deur hierdie lens van waarheid, gekoppel aan liefde, dat ons die wêreld en onsself moet beskou. Soos ons dieper delf, vind ons dat waarheid nie net ‘n intellektuele konsep is nie, maar ‘n lewenswyse wat ons nooi om te leef met integriteit en om ander te dien met nederigheid.

Ek glo … omdat daar waarheid is

Is daar hoegenaamd iets soos “die waarheid” tussen al die bemarking en propaganda en “vals nuus” waarmee ons oorstroom word? Sommige mense ontken dit; volgens hulle het elkeen maar net hulle eie opinie. En as daar iets soos “waarheid” is, kan enige mens ooit daarop aanspraak maak dat hy of sy “die waarheid” besit? Hieroor skryf Andries Cilliers: “Ek dink nie dit is sleg om skepties te staan teenoor mense se waarheidsaansprake nie. Ek dink egter ons loop ’n gevaarlike pad as ons só sinies word en reken daar is géén waarheid nie. Glo ons dit eers, is daar geen standaard meer waaraan ons die bemarkers en die propagandiste kan meet nie, geen hoop dat mense tot meer as eiebelang en magsbeheptheid in staat is nie. Sonder waarheid is daar vir ons geen hoop nie.” (Onder die Blaredak, bladsy 149.)

Daarna skryf hy oor Jesus as die waarheid – die waarheid wat ons leer ken deur Jesus tree vir tree te volg. “Dit is waar ek staan: Ek is ’n volgeling van Jesus, ’n leerder van die waarheid. Ook al leer ek dikwels maar swaar, juis omdat ek baie het om af te leer.” Op dié manier hou ek vas daaraan dat daar wel waarheid is (in Christus), maar erken ek ook dat ons nie die waarheid in ons greep het nie: “Die waarheid in Jesus is altyd groter as my verstaan daarvan en ook my uitleef daarvan.”

Andries wys op Paulus se waarskuwing dat kennis ons hoogmoedig kan maak en sy aansporing tot die liefde waardeur ons mekaar opbou. Daarom koppel hy liefde en waarheid ten nouste aan mekaar en kom tot die gevolgtrekking: “Die hoër waarheid, die waarheid waaraan ons alle ander waarhede meet, die waarheid wat bepaal of ons ander mense dien met ons kennis en of ons hulle daarmee probeer oorheer, dié hoër waarheid is die eenvoudige waarheid: ‘God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.’ (1 Joh 4:16). Uit dié waarheid leef ons, en na dié waarheid is ons altyd onderweg.” (Onder die Blaredak, bladsy 154-5.)

Tinus van Zyl gesels verder: Kan ons die Bybel vertrou?

Tinus van Zyl van Durbanville-gemeente dink verder oor die geloof wat Christene in waarheid kry.

“Sommige Christene aanvaar eenvoudig dat alles in die Bybel waar (in die sin van feitelik korrek in alle opsigte) moet wees omdat die Bybel God se Woord is. Ander mense weer, wys op dinge in die Bybel wat na hulle oordeel nie feitelik korrek is nie (histories of wetenskaplik), of wat vir hulle gevoel moreel aanstootlik is – en sê dat so ’n boek beslis nie ‘God se Woord’ kan wees nie.

Christene reageer soms op sulke kritiek deur dit eenvoudig van die tafel te vee en vol te hou dat die Bybel inderdaad foutloos en deur God geïnspireer is. Hulle aanvaar eenvoudig dat die Bybel wetenskaplik en histories betroubaar moet wees (en probeer ook soms om dit wetenskaplik of histories te bewys). Ander Christene, weer, lees eenvoudig by die moeilike dele verby. Hulle lees die Bybel vir ’n boodskap of vir inspirasie en ignoreer groot dele daarvan. Hulle werk as ’t ware met ’n Bybel binne die Bybel – ’n kleiner deel wat vir hulle Woord van God is.

Ek pleit daarvoor dat ons nie die Bybel probeer indwing in ’n modernistiese verstaan van waarheid (as feitelike korrektheid, hetsy wetenskaplik of histories) nie, maar dat ons die Bybel lees soos dit is, dit ontdek in die ryke verskeidenheid wat dit omvat, om dan te vra watter soort waarheidsaansprake daar gemaak word en hoe dit ons raak: “Die vraag na die betroubaarheid van die Bybel het dus ook alles te make met hoe ons die Bybel lees …” (Onder die Blaredak, bladsy 160.)

Ek gee dan enkele (onvolledige!) riglyne vir die lees van die Bybel:

  • Dis ’n uiteenlopende versameling geskrifte wat oor eeue aangegroei het;
  • Dis nie in die eerste plek vir ons geskryf nie, maar vir mense wat baie anders as ons gedink en geleef het;
  • Dis ’n volkome menslike boek met ’n ryke verskeidenheid menslike stemme – en dit word nêrens in die Bybel self ontken nie.

Die vraag is dan: ‘Kan so ’n menslike boek ook gesien word as die Woord van God? Kan ek hierdie menslike boek lees in die hoop dat ek daarin die waarheid oor God, sy skepping en ook myself sal hoor?’ (Onder die Blaredak, bladsy 161.)

Ek gebruik dan twee analogieë: die vleeswording van die Woord en die bou van die tempel. Ek sien die Bybel nie as ’n soort ‘container’ wat vanselfsprekend die Woord van God omvat sodat ons dit nou in ons greep het nie. Die Bybel is eerder vir my ’n ontmoetingsplek waar God kies om ons te ontmoet. Dit is ’n groot gesprek wat deur die eeue gevoer word, ’n gesprek waarby ek aktief betrokke raak: ‘Die Gees maak ons gespreksgenote in die voortgaande soeke na die waarheid wat bo alles is. (Onder die Blaredak, bladsy 163).

Die Gees lei ons om die hart van die Skrifgeworde Woord te ontdek: die vleesgeworde Woord. Ek sê daarom: ‘Jy kan die Bybel ‘harteloos’ lees, of jy kan die Bybel vanuit hierdie ‘hart’ lees.” Jy kan die Bybel lees om in jou liefdeloosheid versterk te word, of jy kan dit lees om tot liefde uitgedaag te word …’ (Onder die blaredak, bladsy 164.)

Uiteindelik is my antwoord op die vraag of die Bybel betroubaar is, dat dit afhang van die vraag: ‘Waarvoor vertrou ons die Bybel?’ En ek skryf: ‘Die Bybel is vir my betroubaar as die Boek waardeur ons ingetrek word in ’n gesprek waarin die waarheid gesoek word – die waarheid wat in Christus is, die waarheid waarop ons ons lewens kan bou.’ In aansluiting by Rowan Williams wys ek daarop dat ons die Skrif saam lees as gemeenskap van gelowiges deur die eeue, saamgebind deur die tafel van die Here – ons luister saam, voordat ons praat.”

Fokusteks: Johannes 14:6; 18:37-38

“Die twee gedeeltes uit die Johannes-evangelie bied vir my die ruimte om te praat oor die eie aard van ‘waarheid’ in die evangelie: waarheid as iets wat in Christus beliggaam word; waarheid as iets wat ten nouste saamhang met die weg wat ons loop as volgelinge van Christus; waarheid wat verweef is met liefde en met die gemeenskap tussen God en mense.

Die verhaal van Jesus se verhoor voor Pilatus sê vir my dat hierdie waarheid altyd ontken of bevraagteken word; dat selfs die moontlikheid van enige waarheid sinies verwerp kan word – maar dat dit ons dan laat met ondenkbare alternatiewe: die propaganda van die godsdiensleiers; die populisme van hulle wat die skare opsweep; die siniese magsberekening van Pilatus; die vreesagtige eiebelang van die dissipels. In ’n sin is ons hulle almal en staan Jesus altyd teenoor ons as die waarheid wat van God kom.

Maar die evangelie sê dat ons nie die laaste woord spreek nie; Hy het die laaste woord – en dit is: ‘Volg My!'”

Verdere nadenke:

  1. Jy maak, in hierdie week, baie van die vraag wat Pilatus aan Jesus gestel het: “Wat is waarheid?” Waarom, dink jy, is juis hierdie vraag nou vir ons so belangrik?
  2. Wat sou jou antwoord op die vraag: “Wat is waarheid?” wees?
  3. Jy sê dat jy glo dat Jesus die waarheid is – maar tog ontken jy dat ons as Christene die waarheid in ons besit het. Is dit nie teenstrydig nie? Hoekom sê jy dit juis só?
  4. Die Bybel moet baie kritiek verduur, maar word ook heftig deur Christene verdedig. Wat is jou antwoord op die vraag of die Bybel betroubaar is?
  5. Jy gebruik drie beelde om jou siening van die Bybel te verduidelik: die vleeswording van Jesus, die tempel van Salomo en ’n gesprek. Wat wil jy met dié drie beelde sê?
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: