Hierdie video is die laaste in die reeks oor Onder die Blaredak. Marileen Steyn vra vir skrywer Andries Cilliers of ons skoonheid as ‘n geloofwaardige bron van geloof kan beskou.

Tinus van Zyl sluit Durbanville-gemeente se gespreksreeks af.

WEEK SEWE:     Ek glo … omdat daar skoonheid is

Week Sewe neem ons in ’n sin terug na Week Twee – verwondering oor die skepping. Ek sluit aan by N T Wright wat gesê het: Om skoonheid te ervaar, laat ’n mens voel jy leef; om sonder skoonheid te moet leef, steel jou menslikheid. Ek praat daarom oor skoonheid as nog ’n stukkende padteken na die werklikheid van God: “Nogtans bly ek wonder of die manier waarop die ervaring van skoonheid my kan oorrompel, nie iets sê oor die aard van die werklikheid waarvan ek deel is nie; of dit nie dalk iets sê oor die Bron van ons lewe nie.”

Skoonheid het ook te doen met dit wat ons liefhet, dit wat ons begeer. Ek skryf daarom ook oor die maniere waarop begeertes kan skeefloop en ons lewens in chaos kan dompel, en hoe bandeloosheid ons uitlewer aan dié chaos, terwyl moralisme dit probeer hokslaan deur ons begeertes streng te onderdruk. Dit bring my by die vraag: Is daar ’n ander pad deur die chaos? My antwoord hierop is dat ons leer begeer, leer om skoonheid te waardeer. Ek sien die Christelike geloof daarom ook as ’n leerproses waarin ek sekere begeertes afleer en ander aanleer; waarin ek leer om te kyk en om ware skoonheid te waardeer. Ons leer by Jesus, omdat ons God se heerlikheid nêrens so duidelik sien soos in Jesus nie. In Jesus ontdek ons: Wat ons mooi maak, is die liefde wat ons ontvang en die liefde wat ons deel: “Jesus is die enigste leermeester by wie ek kon leer om die wêreld, met sy lelik en sy mooi, die mensdom op hulle mooiste en hulle lelikste, en myself soos ek is, te leer sien. Deur Jesus kon ek die skoonheid van God se liefde in alles leer ontdek.” (p180)

Verder nagedink: Waarom glo ek?

In hierdie gedeelte gee ek ’n paar laaste redes waarom ek glo. Die eerste is dat geloof vir my steeds, in Frances Spufford se woorde, “surprising emotional sense” maak. Dit maak sin van my totale belewing van die werklikheid waarvan ek deel is. Ek praat dan oor verskillende maniere waarop ons kan sin maak van ons emosionele belewing en lê klem op die belang van ’n groter storie wat jou help om jou storie te verstaan. Die Christelike geloof bied vir my daardie groter storie: “ …die mooi wat ek in die evangelie beleef, help my om anders te kyk na die mooi van ons wêreld, op ’n manier wat my help om nie my oë te sluit vir die lelik nie.” (p185)

Dit is juis die mooi van die evangelie wat begeerte by my wek, die honger en dors na wat reg is. Ek beleef hierdie verlange bo alles as ’n verlange na God. Ek spreek die hoop uit dat geloof ons sal leer om sekere verlangens af te sterf, ander ondergeskik te stel, en om ons verlange na God, wat ook ons honger en dors na wat reg is, aan te wakker. “Ook daarom glo ek, omdat ek vir ons geen ander hoop sien nie.”

Die woorde “geen ander hoop” bring my by die vraag na ander godsdienste. Kan ons sê dat Christene alleen reg is, alleen oor die waarheid beskik?  Ek skryf dan oor hoe Christene ons eie waarheid kan verabsoluteer of relativeer, maar sê dat ek nie een van die twee wil doen nie. Ek dink nie ek het Jesus in my greep nie; maar ek kan ook nie leef asof alles maar net relatiewe menslike opinies is nie. Ek glo in Christus as die waarheid – maar die vraag is hoe ek van daardie waarheid getuig.

Ons getuig nie meer vanuit ’n magsposisie nie. Ons kan mense nie meer dwing om ons getuienis te glo nie. “Ons moet as minderheid, dikwels sonder mag en sonder aansien, ons storie doodeenvoudig vertel, in die volle wete dat baie mense nie sal wil luister nie, of dalk sal luister totdat ons by die opstanding van Christus kom, net om dan laggende weg te draai. Ons storie sal sommige mense oortuig, sommige mense bly maak of tros, maar dit sal deur ander verwerp word.”  (p192)

Ek sluit af deur te wys daarop dat die Nuwe Testament van ons vra om te seën waar ons vervloek word en om in vrede te lewe met alle mense, sover dit van ons afhang, en sê dan: “Indien ons nie daarna strewe om só te lewe nie, moet ons liewer nie daarop aanspraak maak dat ons Christus volg nie.” (p193)  Die laaste woord in die boek behoort aan Jesus, aan sy uitspraak oor ‘n goeie boom wat goeie vrugte moet dra.

Fokusteks:   Psalm 16

Ek het Psalm 16 gekies omdat dit drie basiese tema’s van hierdie hoofstuk inmekaarweef: die besef dat daar vir ons, buiten die Here, niks goeds is nie; die dankbaarheid vir, en verwondering oor, die mooi erfdeel wat die Here vir ons afgemeet het; en die wete dat die Here vir ons die pad van die lewe wys, wat ook ’n pad is van vreugde en “lieflikhede in u regterhand.” Ek sou, in ’n preek oor hierdie Psalm, probeer om nie didakties die Psalm uit te lê nie, maar eerder om ’n lied te maak wat dieselfde musiek laat weerklink, wat dieselfde vertroue, verwondering en leerbaarheid uitsing.

Moontlike vrae:

  1. Ons idees van skoonheid – van wat mooi is, wat begeerlik is – is so uiteenlopend en selfs teenstrydig, dat baie mense sal sê dit is maar ’n kwessie van smaak. Kan skoonheid dan hoegenaamd ’n rol in ons geloof speel?
  2. Ons staan in ’n geloofstradisie wat baie klem daarop lê dat geloof deur gehoor kom, nie deur wat ’n mens sien nie. Hoe pas jou siening van skoonheid as een van die wortels van geloof hierby in?
  3. Jy sê dat ons skoonheid ontdek deur Jesus – maar dat Jesus ons ook leer om skoonheid te vind op plekke waar ons dit nie sou verwag nie. Wat bedoel jy hiermee?
  4. Waarom praat jy juis in die hoofstuk oor skoonheid oor die verhouding tussen Christelike geloof en ander oortuigings? Sou dit nie beter inpas by die hoofstuk oor waarheid of oor genade nie?
  5. Hoe, dink jy, kan ons vashou aan ons belydenis dat die waarheid in Christus is, sonder om ons eie sienings absoluut te maak, of sonder om vas te val in relativisme?