Ontmoet Patrick Styles, ‘n beskeie man van die Carletonville-omgewing in Noordwes, wat die afgelope jare Suid-Afrika deurloop het met ‘n groot kruis op sy skouer. Hy sê die Here het hom geroep om die mense te herinner aan Christus Jesus, biddend vir die land en sy mense. Patrick het sy kruisloop op 8 November 2023 begin en loop waar die Here hom lei, sonder om vooraf sy roete te beplan. Hy glo dat elke stap deur die Here gelei word, ‘n reis van geloof en gehoorsaamheid.

Ondersteun deur die vriendelikheid en gasvryheid van mense op sy pad, het Patrick vroeg in die jaar Oudtshoorn bereik. ‘n Plaaslike gemeentelid het hom geakkommodeer en op Sondag, 7 Januarie het hy in die gemeente getuig. Die plaaslike predikant, ds. Orffer, het hom met ‘n seën op sy pad uitgestuur.

Patrick deel sy reis met ‘n beskeie gees. Hy hou nie ‘n telling van sy kruislope nie en het nie ‘n Facebook-blad nie, want vir hom gaan dit nie oor publisiteit nie. Sy oogmerk is om die Hemelse Vader en sy koningkryk te eer.

Hy dra slegs die nodige saam en het dit op die kruis vasgemaak, insluitend ‘n slaapsak, kombers, klere, toiletware en ‘n koelhouer. Patrick getuig van die Here se voorsiening en is dankbaar vir die behulpsame mense wat hy langs die pad aantref wat vir hom slaapplek, etes en selfs nuwe skoene bied.

Selfs in tye van teëspoed ervaar Patrick bystand van medemenslikheid. Hy sien elke uitdaging as ‘n geleentheid om vir die booswigte te bid en God se seën oor hulle uit te spreek.

Hierdie kruistog is ‘n inspirerende verhaal van opoffering, geloof en volharding. As jy hom sien, neem ‘n oomblik om met hom te gesels, bied hulp aan waar moontlik en belangriker nog, bid saam met hom vir die pad vorentoe en vir herlewing in Suid-Afrika.