Ons eer die Vader, Seun en Gees
👤 Wilmi Wheeler
Drie-Eenheidsondag
Elke jaar, op die eerste Sondag na Pinkster, kom ons as gelowiges bymekaar om Drie-Eenheidsondag te vier – ‘n dag wat die essensie van ons geloof in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, in herinnering roep. Hierdie spesiale Sondag bied ons die geleentheid om die misterie van die Drie-eenheid te oordink en te reflekteer oor hoe die Triniteit ons lewens vorm en inspireer.
Die woord ‘Triniteit’ beteken ‘n groep van drie of om gelyktydig drie te wees. Ons aanbid dus nie drie aparte gode nie; Vader, Seun en die Heilige Gees is EEN God. Die drie dele is ook elkeen volledig God.
Die konsep van die Drie-eenheid is nie altyd maklik om te verstaan nie. Selfs hoog geleerde teoloë worstel om die verhouding tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees te verwoord. Die Bybel bied insigte, maar geen eenvoudige antwoorde nie. Ons lees byvoorbeeld Matteus 28:19 die groot opdrag wat Jesus aan ons gee: “Gaan dan, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.” Hierdie teks bevestig die samehorigheid en die goddelikheid van die drie persone.
Die Vader: Skepper en Voorsiener
Die eerste persoon van die Drie-eenheid is God die Vader, die Skepper van hemel en aarde. In Genesis 1:1 lees ons: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Dit is die Vader wat die skepping in werking gestel het en voortdurend oor ons waak. Sy liefde en sorg vir ons is oneindig en onvoorwaardelik. Deur Hom het ons lewe en alles wat ons nodig het.
Ons verhouding met die Vader is gegrond op liefde, gehoorsaamheid en vertroue. As sy kinders is ons geroep om ‘n intieme verhouding met Hom te hê, waar ons Hom liefhet met ons hele hart, siel en verstand. Ons staan in ‘n verhouding van afhanklikheid, waar ons erken dat Hy ons Skepper en Voorsiener is en ons vertrou op sy leiding en sorg in alle omstandighede van ons lewens. Hierdie verhouding word gekenmerk deur gebed, aanbidding, dankbaarheid en ‘n begeerte om sy wil te volg en ons lewens in ooreenstemming daarmee te leef.
Die Seun: Die Weg, Waarheid en Lewe
Die tweede persoon is Jesus Christus, God wat mens geword het. In Johannes 1:14 lees ons: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid van die enigste Seun van die Vader, vol genade en waarheid.”
Jesus het na hierdie wêreld gekom, mens geword en sy lewe vir ons gegee sodat ons die ewige lewe kan hê. Hy is ons Verlosser en ook ons vriend wat altyd by ons is.
Ons verhouding met Christus is die kern van ons geloof. Ons staan in ‘n verhouding met Christus waarin ons geroep word om sy voorbeeld na te volg wat Hy op aarde getoon het. Hy het nie net gekom om ons te verlos nie, maar ook om ons ‘n lewende voorbeeld te gee van hoe ons moet leef.
Ons is geroep om sy liefde, nederigheid, diensbaarheid en gehoorsaamheid na te volg. Christus het ons ‘n pad getoon van liefdevolle omgee vir ander, van vergifnis en van hoop. As ons Verlosser en Voorbeeld, nooi Hy ons uit om in sy voetspore te stap en so ‘n lewe van navolging te lei.
Die Heilige Gees: Trooster en gids
Die derde persoon van die Drie-eenheid is die Heilige Gees, wat ons lei en versterk. In Johannes 14:26 sê Jesus: “Maar die Trooster, die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”
Die Heilige Gees is dus altyd met ons, om ons te lei, te troos en ons te herinner aan die waarhede van die geloof.
Hy lei ons, verlig ons pad, troos ons in tye van nood en versterk ons in ons geloof. Ons word geroep om na Hom te luister en om Hom toe te laat om in ons lewens te werk. Deur die Heilige Gees ontvang ons gawes en vrugte van die Gees wat ons in staat stel om die lewe te leef wat God vir ons bedoel het. Ons verhouding met die Heilige Gees is ‘n bron van krag, vrede en vreugde in ons lewens.
ONTDEK: Eredienswenk oor die Drie-eenheid vir predikante.
‘n Gebed vir Drie-Eenheidsondag
Vader, Seun en Heilige Gees,
Op hierdie Drie-Eenheidsondag kom ons voor U met dankbaarheid en aanbidding. U, wat in u eenheid verskeie aspekte van u ewige wese openbaar.
Vader, ons dank U vir u almagtige krag, u wysheid en u liefde wat die heelal omsluit. Mag ons altyd bewus wees van u teenwoordigheid in ons lewens, en laat u wil geskied in ons harte.
Here Jesus, ons Redder, ons loof U vir u offer van liefde, wat ons verlossing bring en ‘n ewige band met U vestig. Leer ons om u voorbeeld te volg van diensbaarheid, vergifnis en liefde vir ons medemens.
Heilige Gees, trooster en leidsman, ons smeek U om in ons te werk, om ons harte te verlig, ons te lei in die waarheid en om ons te versterk in ons geloof. Mag ons altyd na u stem luister en in gehoorsaamheid leef.
Here, ons vra dat U ons mag verenig in ‘n dieper begrip en aanbidding van die Drie-enige God. Mag ons vandag en altyd u naam loof en ons lewens wy aan u heerlikheid.
Amen.
LEES OOK: 5 Voorbeelde van diensbaarheid in die Bybel