ALGEMENE SINODE TAAKSPAN VIR LEER EN AKTUELE SAKE

GEREFORMEERDE IDENTITEIT

1  OPDRAG

Die Algemene Sinode van 2004 het die volgende aanbevelings aanvaar, waarin die opdrag vir die Taakspan Leer en Aktuele Sake (ATLAS) vervat is:

1.1  Die Sinode erken dat daar ingrypende meningsverskil in die NG Kerk bestaan oor die gesag, inhoud en verstaan van die Gereformeerde belydenis en spiritualiteit.

1.2  Die Sinode versoek die Taakspan Leer en Aktuele Sake om beskrywingspunte van kerkrade, ringe en sinodes aan te vra met betrekking tot die gesag en vertolking van die Skrif, die inhoud en gesag van die Gereformeerde belydenis asook die begrip van die Gereformeerde kerkinrigting (erediens, liturgie, sakramente, spiritualiteit) en kerkreging (gesag van Algemene Sinode, verhouding Sinode/Algemene Sinode).

1.3  Die Sinode versoek die Taakspan Leer en Aktuele Sake om inklusiewe studiegroepe saam te stel na aanleiding van die ingekome beskrywings-punte met verslag aan die volgende Algemene Sinode.

 

Die opdrag van die sinode aan die Taakspan Leer en Aktuele Sake fokus op gereformeerde belydenis en spiritualiteit. Dit het egter gou geblyk dat die opdrag (veral in punt 1.2) baie wyd en omvattend is en dat dit in der waarheid ‘n onmoontlike taak is om in een opdrag vervat en in een verslag opgeneem kan word. Uiteindelik gaan dit oor die omvattend vraag na die aard van Gereformeerdheid.  Dit is ‘n opdrag met ’n meer omvattende en oorsigtelike aard as om byvoorbeeld net oor die gereformeerde kerkbegrip te skryf. Die prosesopmerkings in die verslag beklemtoon die noodsaaklikheid van wye raadpleging en inklusiwiteit.

 

Teen hierdie agtergrond moet die verslag verstaan word as ’n poging om die eie aard van die lidmate van die NG Kerk te beskryf. Aan die een kant is dit ’n beskrywing van die werklikheid, maar andersyds is dit ook die formuleer van ’n ideaal. Ons is so, maar moet ook so wees en word. Dit is meer as ’n ekklesiologie  juis omdat gereformeerdes die lewe voor God as meer as net ’n lewe in die kerk verstaan. Uiteraard word hierin ook heelwat oor die kerk geskryf en het alles ’n invloed op die kerkbegrip van die NG Kerk.

 

In ’n paar sinne moes groot en wydreikende waarhede onder woorde gebring word. Nie alles wat gesê kan word, is hiermee gesê nie, maar dit is ’n poging om die kern wat ons bymekaar hou, te beskryf.

 

2  WERKSWYSE

Die volgende werkswyse is gevolg :

2.1  Bestaande publikasies oor gereformeerde spiritualiteit van Suid-Afrikaanse teoloë is as basis gebruik. Verdere bydraes van teoloë wat nie deel is van ATLAS nie, is ook aangevra. Sover moontlik is sinodes se studiestukke oor die saak ook verreken.

2.2  Gesprekke is met ADGO (op hulle inisiatief ) gevoer en die werksdokument van ATLAS is tot hulle beskikking gestel. Hulle kommentaar op die werksdokument is aangehoor en verwerk. Dit was vir ATLAS duidelik dat daar raakvlakke tussen die twee taakspanne se opdragte is, maar ook wesenlike verskille in fokus. Uiteindelik behoort beide verslae die saak waaroor dit gaan, te dien.

2.3 Die werksdokument is met ‘n groep lidmate in vyf sessies deurgewerk en hulle kommentaar is daarin verreken.

2.4 ATLAS wou ‘n bevatlikke dokument opstel wat lidmate sou kon help. Eenvoud en woordekonomie is as vereistes aanvaar. Dit bring mee dat daar waarskynlik op verskeie punte te min gesê word.

2.5  Die uitgangspunt in die verslag is dat die gereformeerde aard van die NG kerk histories verstaan moet word. Ons het gaan kyk na ons wortels om te probeer beskryf hoe ons vandag onsself as gelowiges uit die gereformeerde tradisie verstaan.

2.6  Daar is aanvanklik oorweeg om ’n verslag oor die doop as bylae by hierdie verslag aan te heg. In die lig daarvan dat die Algemene Sinode ’n baie spesifieke opdrag met betreking tot die doop gegee het word ’n aparte selfstandige verslag oor die saak uitgebring.

2.7 Verskeie teoloë het aan die verslag gewerk en insette is ook verkry van persone buite die aangewese lede van ATLAS. Veral die volgende persone kan, met groot dank aan hulle, hier genoem word: Proff PJ Naudé, DJ Smit, drr A Cilliers, JD Kirkpatrick, BJ du Toit ( sameroeper) JJ Gerber,  AL Bartlett,  C Janse van Rensburg en WJ Botha (skriba).

 

3  AGTERGROND

Die afgelope paar jaar het die NG Kerk ’n proses deurgemaak waarin diversiteit as positiewe werklikheid leer ken is. Ons is nie meer ’n kerk waar alles orals dieselfde is nie. Eenvormigheid is nie die ding wat ons bymekaar hou nie. Wat nou belangrik is, is om te vra of daar binne hierdie werklikheid van diversiteit iewers ’n gemeenskaplike kern is. ’n Kern wat kan help dat die diversiteit tog nie sonder eenheid sal wees nie. Die vraag is: Is daar ’n kampvuur waar rondom ’n diverse klomp mense kan hande vat en warm harte beleef? Ja, verseker! Wanneer die NG Kerk oor ‘n kern-identiteit helderheid het, kan die diversiteit nie net verdra word nie, maar as deel van die kerk se rykdom gevier word! Dit maak die besinning oor die NG Kerk se Gereformeerdheid van deurslaggewende belang. Wat hierop volg is ’n poging om so eenvoudig as moontlik die saambindende kern te beskryf. Ter wille van ons selfverstaan en ander se begrip vir wie ons is, moet ons probeer sê wie ons is.  Die volgende uiteensetting probeer die konsensuspunte in die besinning oor ons identiteit weergee. Dit moet nie verstaan word as beskrywing van hoe ons beter as ander is nie, maar tog wel waarin ons identiteit geleë is. Dit staan dus nie teenoor ons verbintenis aan die breë ekumeniese kerk nie. Dit is moontlik om opgewonde te raak oor die tradisie waarin jy staan sonder om afbrekende stories oor ander tradisies te vertel.

 

3.1  Waar pas ons in die groter prentjie?

Voordat ons kom by die beskrywing van ons kern-identiteit, net eers `n  paar opmerkings oor die onderskeie tradisies in die Christendom. Die Christelike geloof het in ‘n hele paar tradisies ontwikkel – elk met sy eie kenmerke –  terwyl basiese waarhede tog genoeg ooreenstem dat ons van een Christelike famlie kan praat. Onderstaande omskrywings moet nie in ’n absolute sin verstaan word nie. Dit is byvoorbeld nie die bedoeling om te sê dat dit slegs in die Protestantse tradisie is waar die Bybel belangrik is nie. Dit sou lei tot skewe voorstellings. Dit is ’n geval van aksente.

3.1.1  In die Katolieke en Ortodokse tradisies staan die sakramente sentraal, is die kerklike tradisie normatief,  en word kerklike gesag hierargies vergestalt.

3.1.2  In die Pentekostalistiese tradisie staan die vrye werking van die Gees sentraal, is profetiese insig in elke nuwe tyd normatief, en word kerkverband onderbeklemtoon ten gunste van vrye individuele gemeentes met sterk leiers.

3.1.3  In die Protestantse tradisie staan die Bybel sentraal, is belydenisskrifte omdat hulle met die Bybel ooreenstem normatief, en word kerklike gesag Christologies en binne kerkverband verstaan (Christus is die enigste hoof en kerkleierskap is posisies van diens en nie van heers nie) Wat nou volg beskryf die Gerefomerde gesig van die kerk van Jesus Christus.

 

Dit is belangrik om te weet dat Gereformeerdes uit die breëre stroom van die Protestantisme stam met sy oorsprong in 16de eeuse Europa. As “protesteerders” teen die destydse afgewaterde evangelie in die Rooms-Katolieke Kerk, was dit ‘n poging om die kerk van binne te hervorm (“reformeer”). Dit het deur ‘n bittere geloofstryd en vervolging uiteindelik op die vorming van nuwe kerke uitgeloop: aanvanklik Lutheraanse  en Gereformeerde kerke, en later vele meer, insluitende byvoorbeeld  Presbiteriane en  Metodiste. Langs die omweg van die Nederlande het die Gereformeerde geloof die suidpunt van Afrika bereik en mettertyd is ‘n groot aantal  inheemse kerke tot in Midde- en Oos-Afrika gevorm. Vandag is die Gereformeerde verstaan van die evangelie tuis in talle kontekste oor die hele wereld.

 

Die historiese perspektief is noodsaaklik. Ons moet weet waar ons vandaan kom en erken dat ons gereformeerde wortels ons verstaan van die Bybel tot vandag toe beïnvloed. Sonder hierdie wortels  kan daar nie nuwe vrugte wees nie. Maar waar die wortels sterk is en diep lê sal daar nuwe vrugte gedra word. Daarom moet gereformeerd wees beskryf word vir ons eie tyd en die taal van ons eie tyd. Gereformeerdes werk nie met ‘n gestolde waarheidsbegrip nie.  Die gereformeerde vaders het as deel van die tradisie stemreg in die besluit oor gereformeerdheid, maar nie veto-reg nie. Eietydse besinning van teoloë moet ook gehoor word. Die boodskap van die Christelike geloof moet telkens weer nuut verstaan word teen die agtergrond van die eise van die tyd.  Dit beteken egter nie noodwendig ‘n gewilde boodskap nie.  Die eis vir eietydse formulerings het met verstaanbaarheid en relevansie te make en is nie ‘n poging om die evangelie in gewilde bemarkingstaal te verpak nie. Hier moet die kerk seker maak dat die verbruikersmentaliteit, wat so maklik die spirituele karakter van die kerk en sy/haar boodskap kan bepaal, nie die laaste sê het nie.

 

3.2  Dit hou ons bymekaar

Ons maak nie daarop aanspraak dat ons die volle waarheid by ons het nie.  Maar oor die volgende sake voel ons regtig sterk en dit lê in die hart van ons verstaan van die evangelie. `n Mens sou met `n skets dit so kon voorstel

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die kern van die kern: ‘n Gerigtheid op God.

 

 

Vir die gelowige  gaan dit in die eerste plek oor ‘n gerigtheid op God. Die eerste woord wanneer ons oor die NG Kerk se identiteit praat, kan nie “gereformeerd” wees nie. Ons is nie in die eerste plek “gereformeerdes” nie. In die eerste plek is ons ”Christene”, mense wat aan God behoort. Die strewe is nie allereers om “Gereformeerd” te wees nie, maar om Christelik te wees.  Daarom praat Calvyn in sy Institusie nie van die Gereformeerde geloof nie, maar van die Christelike geloof.  Calvyn sou in elk geval nie die begrip gereformeerd kon gebruik het nie. Die latynse frase coram Deo (voor God) beskryf in ‘n neutedop dit waaroor dit vir gereformeerdes gaan. Die lewe van ‘n Christen is ‘n lewe voor God. ‘n Lewe gerig op God. Die simbole by gereformeerde kerke gee aan hierdie oortuiging uitdrukking. Die kerktoring, die simbole van die sakramente, die kruissimbool en die oop Bybel op die kansel vertel almal dieselfde storie. Dit gaan oor God. Al die ander formulerings met betrekking tot die gereformeerde identiteit wentel rondom hierdie kern.

 

3.2.1  Christus, Skrif, Genade en Geloof.

 

 

 

 

 

 

In die Gereformeerde teologie is daar oor die jare telkens teruggegryp na die boustene van die Reformasie en is die kernsake telkens nuut interpreteer. Een van die bondigste maniere om Gereformeerdheid uit te druk,  is via die vier “solas”. Hierdie uitsprake moet telkens verstaan word as ’n reaksie teenoor standpunte waarmee die reformatore nie vrede gehad het nie.

 

3.2.1.1  Teenoor die tradisie soos vasgelê in leeruitsprake en kerklike beheer oor die uitleg van die evangelie, en teenoor natuurlike kennis van God, staan sola scriptura (net die Skrif).

3.2.1.2  Teenoor bemiddeling deur die priesteramp, staan solus Christus (net Christus).

3.2.1.3  Teenoor enige natuurlike grond waarop God ons sou red,  staan sola gratia (genade alleen).

3.2.1.4  Teenoor enige vorm van goeie werke om jou vir God aanvaarbaar te maak, staan sola fide (geloof alleen).

 

Oor elkeen van hierdie “solas” is daar met reg boeke vol geskryf. Hierdie solas kom uiteindelik vir gereformeerdes tuis onder die dak van soli deo gloria (aan God alleen die eer). Die “solas” was uiteraard aanvanklik teen die Rooms-Katolieke wanpraktyke van die 16de eeu gemik, maar word in nuwe tye altyd weer vanuit ander oorde onder druk geplaas. Hulle moet derhalwe telkens kontekstueel hersien word. Dit gee uitdrukking aan die leuse van die Reformasie dat ons altyd weer volgens die Skrifte moet reformeer (semper reformanda). ‘n Verstokte Gereformeerde kerk is ‘n kontradiksie in terme.

 

3.2.2  Die Heilige Gees.

 

 

 

 

 

 

Die feit dat Calvyn soveel klem op die werk van die Heilige Gees plaas, is tiperend van die teologie in gereformeerde konteks. Die lewe voor God is `n  lewe in die kragveld van die Heilige Gees. Die sterk opkoms van kerke en groepe in die Pentekostalistiese tradisie in die laat 20ste eeu, vra vir ‘n duideliker onderskeid tussen hierdie groepe en die Gereformeerde opvatting van die persoon en werk van die Heilige Gees. Natuurlik kan Gereformeerdes ook veel van hierdie broers en susters leer – oa hul sterk bewussyn van God se krag, hul gees van aanbidding, en hul ywer vir getuienis. Tog is daar klemverskille:

 

3.2.2.1  Betreffende die werking van die Heilige Gees, is daar vir Gereformeerdes ‘n enger verbintenis tussen die Gees aan die een kant en God se bekendmaking in Jesus Christus en die Woord aan die ander kant. Gevolglik is daar minder ruimte vir  “bonatuurlike visioene” en  “vrye profesie” en val die klem op ‘n soberder nadenke oor die Woord in elke nuwe konteks.

3.2.2.2  Betreffende die gawes van die Gees, verwerp Gereformeerdes die vooropstelling van een gawe (bv talespraak) as uitsluitlike teken van Geesvervulling. Klem val daarop dat alle gawes (genesing, lering, ensovoorts) tot opbou van die gemeente sal wees, en dat die liefde die allerbeste gawe van almal is.

3.2.2.3  Betreffende die “doop met die Heilige Gees”, aanvaar Gereformeerdes dat Christene die heiligmaking moet najaag,  maar terselfdertyd dat niemand kan bely dat Jesus die Christus is sonder die Gees nie. Daar is dus nie mense wat “meer” en “minder” van die Gees het nie, omdat God se Gees self ‘n Persoon  en dus  onverdeelbaar is. ‘n “Doping met die Gees” as aparte tweede en derde ervaring naas die bekering word dus afgewys, hoewel ons onder leiding van die Gees leer hoe om te bid, en toeneem in wysheid en insig in die wil van die Here.  Daar is in die tradisie van “gelyktydig sondaar en geregverdig” natuurlik verskille in gehoorsaamheid en ‘n wandel in die Gees; en mense kan (soos die Bybel leer) die werking van die Gees inderdaad weerstaan en selfs uitblus om later tot n nuwe wandel in die Gees te kom.

 

3.2.3  Die kerk.

 

 

 

 

 

 

3.2.3.1  Die kerk speel `n groot en belangrike rol in die lewe van gereformeerde gelowiges. Die paar sinne wat nou hier volg bedoel nie om ’n volledige uiteensetting van die leer oor die kerk te gee nie. Enkele opmerkings kan voldoende wees om die relatiewe belangrike rol van die kerk te beklemtoon. Daar word elders in hierdie dokumente weer oor die koninkryk gepraat, maar dit is ook hier nodig om iets oor kerk en koninkryk te sê. Dit is een van die kenmerke van gereformeerdes se kerkbegrip dat die geloof nie volledig opgaan in kerkwees nie. Die koninkryk is groter as die kerk. Die kerk kan met reg teken of gestalte van die koninkryk genoem word. Lidmate strewe nie na die verkerkliking van hulle lewens nie, maar na die verChristeliking daarvan. Die konkreetheid en aardsheid van geloof staan op die voorgrond. Wat in die kerk gebeur, moet lidmate met die lewe in die Koninkryk help.

 

3.2.3.2  Die kerk het sy bestaan aan God te danke en behoort nie aan ons nie. Ons behoort aan God. Dit is God se geskenk aan die wêreld waardeur Hy ter wille van die wêreld werk. Die roeping van die kerk kan as Gestuurdes van God omskryf word. Die kerk behoort in wese altyd op die wêreld gerig te wees en op pad na die wêreld te wees.

As instelling van God word dit gekenmerk deur `n  verbintenis aan die Woord as identiteitsdokument, die viering van die genade in die bediening van die sakramente en die handhawing van die belydenis van die kerk.  Wanneer oor gemeente-wees nagedink word, word twee sake in een asem genoem. Die gemeente is volledig kerk, maar is nie die hele kerk nie. Daarom verstaan Gereformeerdes die gemeente altyd as kerk-in-verband en is daar `n afwysende houding teenoor vorme van kerkplanting wat om welsprekende individue gebou en buite enige verband gestig word. Die eenheid van die verband  en eenheid met die hele Christelike familie is van deurslaggewende belang omdat Christus net een bruid het.

 

3.2.3.3  Die ampsbeskouing is van so `n aard dat leierskap in die kerk altyd die dienskarakter moet vertoon. Die gelykwaardigheid van die ampte sluit heerskappy en hierargie uit. Die gereformeerde stelsel van kerkregering is op hierdie ampsbeskouing gebou. Die besluite van kerkvergaderings moet deurentyd aan die Woord gemeet word en dit is Christus wat deur Woord en Gees die kerk regeer.

 

3.2.4  Sakramente

 

 

 

 

 

 

Die manier waarop gereformeerdes die sakramente verstaan vloei logies voort uit die „genade alleen“ en „geloof alleen“oortuigings. Hoe ontvang ons die genade van God? Deur die geloof. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. (NGB art 22). Die leegheid van geloof word in gereformeerde kringe beklemtoon. Geloof is nie ‘n verskuilde poging om die mens weer aandadig aan sy verlossing te maak nie. In die geloof ontvang die sondaar wat die genadige God skenk. My geloof dra niks daartoe by dat God my genadig is nie. Dit is slegs die weg waarlangs ek ontvang. Moet ek dus iets doen om gered te word? Ja, ek moet ontvang wat God skenk. Ek moet rus in God se genade.  Die uitgestrekte hand ontvang die nuwe hart wat God skenk (Esegiël). Die uitgestrekte hand dien dan as simbool van geloof.  Hierdie verstaan van wat geloof is, het ‘n duidelike invloed op die identiteit van die mense in gereformeerde kerke. Wie Jesus met al sy verdienste in die geloof omhels, leef dan uit hierdie nuwe verhouding en verstaan die sakramente in dié lig.

 

Die waarheid van die evangelie maak vry. Vry soos die wind om gehoorsaam te wees. God is nie voor ons nie. Hy is agter ons. Ons soek nie na God nie. Hy het ons gevind. Uit hierdie vastigheid vloei daar die lewe van diens. Die mens wat bewus is van sy status voor God se lewenstyl word deur dié status bepaal. Dit sou dus gesê kon word: Gereformeerdes is en behoort statusbewus te wees, want dit bring die styl van diensbaarheid in hulle tot stand. Die gelowige is bewus van sy status as bevryde mens. Dit sluit in dat hy ook bewus is van sy status as bediende (vgl kneg van die Here tema in Jes 40 -55).

 

In die Gereformeerde tradisie word die sakramente gesien as “tekens en seëls” waardeur God ons help om te verstaan dat Hy ons eerste liefgehad het.  Dit is middele waardeur die Heilige Gees in ons werk om ons geloof te versterk. Dit help ons om iets van die Here se genade te verstaan. Die waarheid van die sakramente lê daarom nie in die tekens self nie en ook nie in die manier waarop die gebruiker dit ervaar nie, maar in Jesus Christus.  Beide sakramente wil dus nie die aandag op die tekens self vestig nie, of op die een of ander geestelike ervaring van die gebruiker nie, maar dit is “daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus as die enigste grond van ons saligheid te wys” (HK, Vr 67).

 

Die diepste verskil tussen die Gereformeerde doopbeskouing en die siening van voorstanders van die bekeringsdoop lê juis hier.  Vir laasgenoemde dui die doop primêr op iets wat in die dopeling se eie lewe gebeur het.  Dit is ’n getuienis van die dopeling se bekering en geloof.  Vir Gereformeerdes wys die doop en nagmaal ons weg van onsself.  Dit rig ons geloof op Christus se kruis en opstanding – sodat die sakramente gesien kan word as “sigbare evangelieverkondiging.”

 

’n Ander manier om hierdie onderskeid te stel, is om te sê dat, vir Gereformeerdes, ons geloof op die sakramente rus en nie andersom nie.  Die krag en betekenis van die sakramente berus nie op ons geloof (en geloofsbelewing) nie; ons geloof word gebou op en versterk deur die krag wat die sakramente in hulleself het as middele waardeur die Heilige Gees werk.  Daarom is daar ook in die Gereformeerde sakramentsbediening ’n sekere soberheid en ’n bedagtheid daarop om doelbewuste emosionele belewing na te jaag.  Aan die ander kant: Omdat Gereformeerdes ontken dat die krag van die tekens in hulleself lê, wys ons die gedagte dat die tekens “op sigself ”, feitlik outomaties, sou kon werk af.  Omdat die krag van die tekens buite hulleself in Christus lê, is hulle gerig daarop om ons op te wek tot geloof in Hom.  Wie nie glo nie, ontvang daarom nie die betekenis van die tekens nie omdat so iemand nie deel het aan Christus nie (vgl NGB Art 35).

 

3.2.5  Liturgie 

 

 

 

 

 

 

Liturgie is ‘n uitdrukking van hoe ‘n kerk die evangelie verstaan. Daar kan dus verwag word dat verskillende geloofstradisies hul liturgie ook verskillend sal inklee. Dit word ook soms in die boustyl van kerke gereflekteer.

 

Die Gereformeerde tradisie is ‘n “hoor-tradisie” en plaas groot klem op die lees en uitleg van die Bybel. ‘n Mens kan dus verwag dat prediking – kontekstuele Skrifuitleg –  ‘n sentrale moment in die erediens sal wees.

 

Dis egter nie die enigste manier om die Bybel “aan die woord”  te stel nie: Liedere, gebede en getuienisse versterk die rol van die Bybel. Die sakramente met tekens van water, brood en wyn is ook “sigbare Woord”. Die belydenisse en belydenisskrifte stem met die Woord ooreen, en behoort integraal deel van elke erediens te wees.

 

Weens ons oorsprong is Gerefromeerdes effe huiwerig vir ‘n oormatige fokus op rituele, simbole, en beelde. Waar sulke simbole (bv. kruise, kanselklede aangepas by die kerklike jaar) of rituele (salwing, uitsending) egter op visuele manier die Woord bevestig en versterk, pas dit in die groter geheel dat God hier met sy kinders op verskillende maniere praat.

 

Verantwoordelike liturgiese vernuwing – wat byvoorbeeld ander begeleidingsinstrumente en nuwe liedere in die idioom van die tyd betref – is wesenlik deel van die semper reformanda (voortgaande reformasie) en moet aangemoedig word sonder  prysgawe van liturgiese middele wat die toets van die tyd deurstaan het.

 

Ter wille van ‘n groter identiteit en eenheid, aanvaar Gereformeerdes dat die ontmoeting met God uit ‘n paar kernelemente bestaan. Die lesing van die wet, skuldbelydenis, genadeverkondiging, voorbidding, lofprysing (en ander dimensies) ontvang dus elk ‘n gepaste plek in die erediens soos deur die Skriflesing vereis. Vaste formuliere en credo’s is nie dwangbuise nie, maar is juis daar om aan ons verband met mekaar en die groter ekumeniese kerk uitdrukking te gee.

 

Gereformeerdes plaas groot klem daarop dat die erediens God vereer. Hierdie ervaring met God moet ons aanspoor en versterk om elke dag in diens van die koninkryk te lewe.

 

3.2.5  Koninkryk

 

 

 

 

 

Gereformeerdes het altyd ‘n oog gehad daarvoor dat die Koninkryk groter is as die kerk. God is nie `n afdelingshoof nie. Hy regeer oor die kosmos. Selfs al is die realiteit van die gebroke wêreld deurgaans teenwoordig, is daar ook orals tekens van die voorsienigheid en sorg van God sigbaar.  Gelowiges het die roeping om orals tekens van die Koninkryk op te rig en vanuit die heerskappy van God te leef. Daarom word die begrip roeping nie vir sogenaamde geestelikes gereserveer nie en word arbeid as sodanig as roeping gesien. Met hierdie perspektief in gedagte is die piekniek saam met die gesin nie minder geestelik of minder belangrik as huisgodsdiens nie. Die misverstand dat genade en natuur teenoor mekaar staan, is goed deur die gereformeerde teologie bestry. Die genade staan nie teenoor die natuur nie, maar teenoor die sonde. Dit beteken dat genade die menslike natuur bevry. God wil dus nie hê dat ons al geesteliker word om sodoende ons menswees te onderdruk nie. Deur God se genadige betrokkenheid by ons word ons weer in staat gestel om egte mense te wees. Die Gees bevry ons van selfsug en selfgesentreerdheid en help ons om weer mens tussen mense te wees.

 

Daar is daarom ‘n aardsheid en ‘n natuurlikheid wat tipies is van gereformeerde vroomheid. Dit sou tipies gereformeerd wees om jou op ‘n verantwoordelike wyse in die genietinge van die lewe te verlustig. Dit kan enige iets wees van ‘n piekniek by die dam tot ‘n besoek aan die teater of dalk die worsteling om die waarheid by ‘n Bybelstudiegroep. Piekniek én preke is nodig en deel van die lewe voor God.

 

Vir baie mense wat van buite na die gerefomeerde tradisie kyk, mag dit voorkom of die klomp gereformeerdes te veel hulle verstand gebruik en te nugter oor die Christelike lewe dink. Dié nugter styl van Christenwees kan waarskynlik aan die beklemtoning van die genade alleen toegeskryf word. Die genade maak mense nie onverskillig nie. Ons verstaan dit dan ook so dat ons onsself aan God gee as lewende offers op grond van sy ontferming oor ons. “Wat is meer gereformeerd as die hartstog vir die heerskappy van Christus oor elke duimbreedte van ons werklikheid? “ (W Jonker). Paulus verduidelik dan ook vir die gemeentes in Klein-Asië dat die genadige herskeppingswerk van God in Christus beteken dat ons bedoel is om “ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het”. Waar genade as genade verstaan word, rol mense die moue op om te werk.

 

3.2.7  Belydenisskrifte

 

 

 

 

 

In die NG Kerk word die standpunt gehandhaaf dat die erkende belydenisskrifte as gesagvolle uitdrukking van die gereformeerde geloofsoortuiging aanvaar moet word omdat (quia) hulle met die Woord van God ooreenstem.  Hulle het gesag in die saak wat hulle volgens die Skrif wil bely.  Die erkenning van die gesag van die belydenisskrifte sluit nie hulle wysiging en/of aanvulling uit nie, mits dit langs die ordelike kerklike weg van ‘n behoorlik getoetste gravamen geskied.

 

Die NG Kerk besef dat die belydenisskrifte historiese dokumente is wat op meer as een manier die merktekens van die tyd waarin hulle ontstaan het, vertoon. Dié feit kan vir sommige in die kerk ‘n struikelblok wees om hulle in die huidige omstandighede heelhartig te onderskryf. Tog is die erkenning van die historiese aard van die belydenisskrifte nie iets wat die gesag daarvan ondermyn nie. Trouens, ons aanvaar dan dat dieselfde verstaanreël vir die Bybel geld. Hoe dan nou anders met die Belydenisskrifte. Juis omdat die kontekstuele verstaan van die Bybel so belangrik is, is die Gereformeerde tradisie die enigste een waarin belydenisskrifte voorkom. Dis  kerklike dokumente wat  die kernwaarheid van die evangelie op gegewe momente uitspreek om die Bybel so te beaam en versterk. Die Drie Formuliere van Eenheid kom uit die Nederlandse Gereformeerde wêreld en in Suid-Afrika is die Belydenis van Belhar in 1986 as vierde belydenisskrif van die destydse NGSK (nou die VGKSA) aanvaar. Daar is talle voorbeelde in ons geskiedenis van nuwe geloofsverklarings en belydenisse om dwalinge te bestry en die evangelie vars te laat klink in veranderde omstandighede.

 

3.2.8  Mensbeeld

 

 

 

 

 

‘n Sobere lewensuitkyk sou tiperend van Gereformeerdes wees. Soms word dit met ‘n sombere lewensuitkyk verwar. Veral die klem op die totale verdorwenheid van die mens word soms buite konteks verstaan as uiters negatiewe mensbeeld. Hierteenoor het gereformeerdes eintlik ‘n baie positiewe en realistiese mensbeeld. Jy moet jouself sien soos God jou sien. Dit bring jou by ‘n goeie en realistiese selfbeeld.

 

En wat is dan die inhoud van hierdie kennis van onsself?  Uit die kennis van God as ‘n genadige, regverdige, liefdevolle God, word die gelowiges opgeroep tot die verwondering oor die genade van die verkiesende God. Juis dit beteken dat ons nie meer aan onsself behoort nie, maar aan God.  Daarom word die formulering “ons behoort nie aan onsself nie” dikwels in die gereformeerde belydenisse aangetref (vgl ook die antwoord op vraag 1 van die Heidelbergse Kategismus: dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan ons getroue Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus).  Dit beteken dus verantwoordelikheid en dissipelskap.  Dit beteken dat ons met ons nuwe status moet leef as mense wat ook lief het, genadig is en geregtigheid soek.

 

3.2.9  Verbond

 

 

 

 

 

Die begrip “verbond” was nog altyd ‘n besonder belangrike en bruikbare konsep om kort en eenvoudig die aard van die verhouding tussen God en mens te beskryf. Die eensydige aard van die verbond as iets wat deur God ingestel is, is net nog ‘n wyse om die “genade alleen” te beklemtoon. Die totstandkoming van ‘n verhouding tussen God en mens is alleen op grond van sy vrye guns alleen. Die uitwerking wat hierdie verbintenis op die lewe van mense het, bring die aspek van gehoorsaamheid na vore. Daar is altyd twee nie-gelyke partye in die verbond betrokke. Die genadige God roep mense op tot gehoorsaamheid. Verbondsmense wat aan God verbind is, lewe vanuit hierdie verbondenheid ‘n nuwe lewe.

 

4  AANBEVELING

4.1  Die Algemene Sinode aanvaar bostaande uitgangspunte as riglyn vir ons beskouing oor ons Gereformeerde identiteit.

4.2  Die Algemene Sinode versoek sinodes om hierdie dokument deur te stuur na kerkrade vir oriëntasie van die plaaslike bediening.

 

 

 

SAMEROEPER:

DR BJ DU TOIT

 

SKRIBA:

DR WJ BOTHA