Kapenaars het met ʼn sug van verligting wakker geword nadat daar aangekondig is dat die weeklange taxi-staking afgelas is. Nadat Kaapstad aangewys is as een van die voorste toeristebestemmings in die wêreld, het die borrel verlede week behoorlik gebars.

Dit was egter nie toerisme wat die seerste gekry het nie. In my betrokkenheid by sosiaal-maatskaplike kwessies die afgelope dekade het ek selde soveel trauma, vrees en ontwrigting in die geaffekteerde gemeenskappe beleef. Kerke het reg van die begin van die staking talle vergaderings en eredienste gefasiliteer. Dit is passievol deur gemeenskapsleiers, vakbondleiers, kerkleiers en ander betrokkenes bygewoon. Daar is uitgereik na SANTACO én die stad. Die standpunte in die vergaderings was uiteenlopend. Van Jan van Riebeeck tot die taxi base het deurgeloop.

Algaande het daar egter onder verteenwoordigers uit die burgerlike samelewing ʼn konsensus gegroei. Geweld is altyd onaanvaarbaar. Terwyl daar simpatie vir die standpunte van SANTACO en die stad uitgepreek is, was die groeiende konsensus dat die armes nou die grootste prys betaal en dat die wyse waarop die dispuut aangekondig is, onmenslik was. Taxi’s het byvoorbeeld die oggend nog kinders by die skool afgelaai. Die staking is toe afgekondig en duisende pendelaars is gestrand gelaat. Agter die skerms het gebede opgegaan, maar is daar ook konkreet gepraat, met beide partye.

Terwyl ons dankbaar is vir die huidige stilte, besef ons dat hierdie staking eintlik maar ʼn simptoom is van ʼn dieper wond. Dit was ten diepste nie ʼn stryd tussen die taxi’s, nasionale regering en die plaaslike regering nie. Dit was ʼn stryd tussen wetteloosheid en wet en orde. Mag hierdie ʼn keerpunt wees. Dit het egter ook ernstige vrae heropen oor ons plaaslike vervoerstelsels. Veral die gebrek aan uitgebreide, geïntegreerde stelsels wat arm pendelaars moet beskerm.

Die taxi bedryf is waarskynlik een van die grootste besighede in Suid-Afrika in swart, privaat besit. Dit is ʼn relatiewe maklike bedryf vir ongeskoolde mense om toegang te verkry. Daarom word kompetisie soos busse en treine dikwels met geweld uit die weg geruim. Waar laat dit ons as gelowiges?

Kerke moet versigtig wees om uitsprake oor die detail van die regsraamwerke te maak wat die bedryf behoort te reguleer. Ons kan en moet egter hard en duidelik praat oor die waardestelsel wat ons samelewing moet rig. Ja, ook ons vervoerstelsels. Ons sal moet saam gesels oor ʼn nuwe sosiale kontrak wat verskillende kulture en waardesisteme versoen. Dalk is dit wel gepas om as fasiliteerders op te tree vir toekomstige gesprekke oor ons vervoerstelsels. Juis omdat dit die armes so direk raak.

Intussen moet ons self waak dat ons, as ligdraers, onberispelike voorbeelde van ʼn ordelike samelewing is. Wie al te gemaklik klein oortredings in jou omgewing en op die pad begaan, moet baie versigtig wees voor jy jou mond oor die taxi’s of ander uitspoel.

Dr. Braam Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.