“Dit was regtig ’n spesiale geleentheid, waar die Here ons elkeen (wat daar was) diep aangeraak het,” sê Karen Theunissen, die bedieningbestuurder van die gemeente. Sy was een van die groep pelgrims wat verlede naweek by Kijk in die Pot (Helshoogtepas, Stellenbosch) in die teenwoordigheid van God en mekaar oor ’n paar dinge gedink en gepraat het.

’n Gemeentekamp is nie ’n vreemde ding nie. Vir baie is die herinneringe aan ’n gemeentekamp iets wat gekenmerk word deur nabyheid met jou gesin, ’n ervaring van koinonia met die groter geloofsfamilie en kosbare stilwordgeleenthede.

Tydens die naweek van 16–18 Februarie 2024 het NG Kerk Kuilsrivier-Suid ook ’n gemeentekamp gehad, maar wat hul hierdie kamp noem, is iets om oor na te dink… ’n Pelgrimskamp.

“Dit was regtig ’n spesiale geleentheid, waar die Here ons elkeen (wat daar was) diep aangeraak het,” sê Karen Theunissen, die bedieningbestuurder van die gemeente. Sy was een van die groep pelgrims wat verlede naweek by Kijk in die Pot (Helshoogtepas, Stellenbosch) in die teenwoordigheid van God en mekaar oor ’n paar dinge gedink en gepraat het. In die aanloop tot dié kamp het die gemeente tydens die week van 11–14 Februarie ’n week van gebed gehad, waartydens hul nie net gedink en gepraat het nie, maar veral gebid het oor (en vir) hul gemeente. Vrydagaand was ’n aand van refleksie, gelei deur ds Theunis Botha. Die vraag op die tafel was “waar is ons nóú?”. Tydens die naweek se kamp het die fokus sterk geval op die pad waarop die Here met die gemeente besig is. Daar is keer op keer bevestig dat dié gemeente ’n omgeehart het, en op die pad vorentoe moet fokus om hierdie omgee al hoe meer uit te bou.

Terug by die naam van dié kamp – ’n Pelgrimskamp.

Hierdie titel dra gewig. Dit herinner ons dat ons as gemeentes nooit ’n “bestemming” mag bereik nie, maar wel mylpale langs die pad. Dit herinner ons dat ons konstant besig is om verder te wandel op die pad van die Here. Is dit nie juis wat die Missio Dei is nie? Om voortdurend, tree vir tree op hierdie pad, te vra waarmee die Here besig is en waarheen Hy sy kerk lei.

Tydens hierdie kamp (en ander soortgelyke gemeentekampe) word daar nie permanente huise gebou om te bewoon nie. Daar word nie te lank afgepak nie. Daar word eerder vir ’n oomblik tydelik gehalt langs die pad. Dit is ’n geleentheid om die padkaart weer heeltemal oop te maak, jouself te plot en weer te heroriënteer ten opsigte van waarheen die Here met jou op pad is. ’n Pelgrimskamp sê dat ons nog op pad is as reisigers saam met God, en dat ons die verantwoordelikheid opnuut op ons neem om ons gemeente-wees te heronriënteer. Vir hierdie rede was die pelgrims by dié kamp op ’n gepaste wyse weggestuur – met ’n staf in die hand en olie op hul koppe. Die reis gaan voort.