Die Bergrivier loop deur die Paarl en verdeel die dorp in twee. Dit is opmerklik hoedat hierdie verdeling ook op ’n manier dieper sny as net geografies. In terme van kleur, kultuur en ekonomie is daar ook ’n verskil. Paarliete praat van Paarl Oos en “Die Paarl” (om na dié kant van die dorp te verwys wat nié aan die Oostekant van die rivier lê nie).

In ’n onlangse demonstrasie en belewenis van eenheid in diversiteit, het ’n groep individue van verskeie kulturele en godsdienstige agtergronde ’n reis van ongeveer 10km, ryk aan simboliek, deur die strate van die Paarl aangepak.

Georganiseer deur gemeenskapsleiers en met die ondersteuning van organisasies soos MCM, KC107.7 FM, Paarl Museum, en Drakenstein munisipaliteit, het die geleentheid ten doel gehad om skeidings te oorbrug en die gedeelde geskiedenis van die dorp te herdenk en vier. Dié 10km staptog is ’n “Loop vir Hoop” genoem, omdat dit ook grense tussen mense oorsteek en sodoende hoop help bring.

Frederick Marais vertel dat hierdie tipe staptogte, amper soos ’n mini pelgrimstog is. Die realiteit is dat nie almal ’n pelgrimstog soos die Pelgrimstog van Hoop kan stap nie. Een van hierdie pelgrimsgroetes neem pelgrims op ’n reis van 325km tussen Stellenbosch en Kaap Agulhas. Kleiner saam-stap inisiatiewe soos hierdie help dat daar tóg binne jouself en in jou verhoudings met mede-stappers iets wonderlik gebeur.

Die Paarl se “Loop vir Hoop” het begin en geëindig by die Bethel Congregational Church in Paarl Oos – ’n gepaste beginpunt vir ’n reis wat fisiese en simboliese brûe oorsteek. Deelnemers het deur die dorp beweeg verby belangrike bakens soos “Die Stoepe” – ’n plek wat onlangs weer die nuus gehaal het toe Kurt-Lee Arendse gesê het dat die Bokke se oorwinning “vir die Stoepe” is.

Van die ander bakens op dié roete sluit in die Jason Adams parkie, Echo Huis by NG Gemeente Drakenstein, Breda Masjid en skool, die Toringkerk, MCM, Paarl Museum en “Nanna se Boom”.

Terwyl die groep brûe oorgesteek het en onder meer plekke van aanbidding, soos kerke en moskees, besoek het, het hulle stories en ervarings uit hul eie agtergronde gedeel. Wat veral opvallend was, was die vloeibaarheid van groeperinge gedurende die staptog, met mense uit verskillende lewens sfere wat in pare of in kleiner groepe saamstap. Dit was duidelik dat soort nie soort gesoek het nie, maar dat daar ’n groter samebindende faktor was.

Deelnemers het gepraat oor hul opvoeding, hul familiegeskiedenis, en die rolle wat hulle in hul gemeenskappe speel. Deur hierdie tipe gesprekke het hulle ’n dieper begrip van mekaar se agtergronde en lewensperspektiewe verkry. Dit het getuig van die krag van dialoog en wat die vertel van stories kan doen om brûe van begrip en empatie te bou.

Aletia Grundling van MCM het opgemerk hoe die staptog haar oë laat oopgaan het vir die ryk kulturele geskiedenis van die Paarl, met baie geboue en plekke wat betekenisvol is in die stryd teen apartheid, en die nuwe pad van versoening – plekke waarvan sy voorheen nie eens bewus was nie.

Vir die stappers was dit ’n herinnering aan die belangrikheid om die verlede te erken en op ’n manier te eer, terwyl die vordering wat reeds gemaak is, gevier kon word. Die fokus van dié geleentheid was ’n viering van eenheid en skep van ’n gesamentlike identiteit ten spyte van diversiteit. Met die groep se terugkoms by die Bethel Congregational Church, is ’n hernude gevoel van verbintenis en solidariteit ervaar. “Ons is daaraan herinner dat, ondanks ons verskille, ons almal deel uitmaak van dieselfde verhaal – ’n verhaal van veerkragtigheid, volharding, en die skep van hoop op ’n mooier toekoms.”