Die naweek van 19 tot 21 Mei 2017 het 14 gemeentelede van Paarl-Vallei vir die vyfde agtereenvolgende jaar na Middelpos opgeruk. Die hoofdoel van hierdie jaarlikse geleentheid is om fisies God se hande en voete te wees vir ’n gemeenskap wat minder as ons het. Maar ons deel nie uit nie. Ons doen saam en omarm met liefde, omdat elke mens kosbaar genoeg vir God is om moeite mee gemaak te word. Vanjaar het 16 leerders van Diepdrif Primêr by Middelpos Primêr se 120 leerders aangesluit.

Dit was ’n besige naweek. Vrydag is bankies by die skool geplant, die manne en die seuns het houtkarretjies gebou en die vroue en die meisies het koekies versier. Die aand het die Paarliete konsert gehou vir 128 Middelpossers.

Saterdagoggend het 147 atlete aan die pretloop deelgeneem en elkeen ’n prys losgehardloop. Die pot wat gemaak is, het 183 gevoed. Saterdagmiddag het die volwassenes diep gesels en die graad 6 en 7 meisies is bederf met pedikure en ’n sakkie met die nodige om dit self by die huis te kan gaan doen.

Sondag was ons 108 in die kerk. Dit word elke keer moeiliker om te groet. Vertrouensverhoudings word opgebou. Kinders wag jou in. Jy het immers laasjaar belowe jy kom terug …

Comari Lategan
18 Junie 2017