By ons kerk se kermis vang ‘n titel in die boek-hoek my oog.  What to  expect when you are expecting.  Wat om te verwag  terwyl jy verwag. Dit het my  laat dink aan die afwagting wat ons met Advent vier. Iets word verwag (of liewer – in albei gevalle – iemand.) En in die proses kan jy ook nog iets anders verwag.  Dis soos ‘n  opwindende reis van een of ander  aard.  Soos my en Robert* se motorfiets avonture.  Ons weet die bestemming gaan asemrowend wees. Maar op pad daarheen word ons asem weggeslaan  deur elke stroompie, elke draai, elke uitsig, elke skilpad, alles gaan ons asem wegslaan!

Ons verwag gewoonlik baie van sulke reise. Selfs al weet ons nie presies wat op ons  wag nie. ‘n Groot deel het ons beplan. Dit kom van binne uit  ervaring, kennis en kaarte. Die ander deel word ons gegee. Dit val as’t ware  in ons skoot. En so word wag verwondering.  Iets en Iemand groot.

“Waar iemand ook al op aarde, in die Naam van Christus,

probeer om diens te lewer, probeer om hierdie wêreld,

 ‘n leefbaarder, vriendeliker, veiliger plek te maak,

is die Heilige Gees besig om midde in die winter

 van hierdie wêreld lentebloeisels te laat bot,

tekens wat verkondig:

God se somer kom.

(Prof Flip Theron)

 

So kan ons wag ook vir ander iets word wat die reis die moeite werd maak.

Johan van Rooyen
jtvanr@gmail.com

22 November 2018

 

*Robert Knobel van Mosselbaai