Saam met die NG Gemeente Pinelands vier ons die bevestiging van Helgard Pretorius as predikant op Sondag 14 Oktober om 09:30. Die prediker is prof. Robert Vosloo; Helgard lewer sy intreepreek op Sondag 21 Oktober om 09:30. Die uitnodiging na hierdie spesiale diens is hier.

Ons bid jou en Erin baie vreugde en vervulling in die nuwe omgewing en rol toe, Helgard. Mag dit ‘n geseënde nuwe tydperk vir Pinelands inlui. Oorweeg gerus om hulle by een of albei eredienste te ondersteun!

Helgard is besig met ’n Ph.D. in Sistematiese Teologie deur US en die Vrije Universiteit onder leiding van professors Robert Vosloo en Willie van der Merwe. Hy het die afgelope vier jaar ook deeltyds by die US doseer.

Hy sê: “Hoewel ek die studente en kollegas (wat soos familie geword het) baie gaan mis, sien ek met groot afwagting uit na wat gemeentelewe in Pinelands alles belowe. Die gemeente het ons reeds op vele maniere baie welkom laat voel. Ek hoop om baie hier te leer oor hoe die evangelie in al die skakerings van die lewe gestalte vind.”

Erin is ’n dosent en navorser by die Universiteit van die Wes-Kaap waar sy Algemene Taalwetenskap doseer.

Ons opregte seënwense aan julle en die gemeente!