“Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.

Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd.”

Lees: Jakobus 4:13-16

‘n Paar dinge behoort baie hoog op ons land se agenda te wees as ons enigsins oor ‘n gelukkige toekoms wil praat en droom:

  • Groeiende armoede
  • ‘n Stukkende ekonomie
  • Onderwys
  • Grond en behuising
  • Groeiende verwydering en polarisasie

Daar is meer, maar dié is sekerlik vir eers genoeg. Dit is in so ‘n wêreld en land waar ons aan ‘n paar dinge vashou. Die lig wat nie onder ‘n maatemmer moet staan nie, maar in die duisternis moet skyn. Die duisternis sal dit nie oorweldig nie. Ons moet egter daar wees!

Die krag van die evangelie. Ons hoef nie die wêreld te verander nie en ons kan dit nie verander nie, maar ons word geroep en bemagtig om die evanglie na die wêreld te bring. Met woord en daad. Die evangelie verander die wêreld. As ons stil raak, verdwyn die hoop.

Het die Here dalk ons kansels vir ‘n oomblik gesluit sodat ons in die wêreld werksaam kan word?