Reënboog: ‘n teken van hoop met aanneming
👤 DJ Muller
“Wat as sy vir jou smile?”, vra Jean-Mari. Hulle wonder oor die eerste ontmoeting. Gaan hulle vir die eerste beste baba? Is hulle oopkop genoeg hieroor? “Geen vier maande oue baba gaan vir mý glimlag nie” antwoord Rudolph, Jean-Mari se man, met sekerheid.
Op 22 Oktober 2015, presies drie jaar nadat hul in-vitro bevrugte selle teruggeplant is (en onsuksesvol was), stap dié twee die kinderhuis binne. Hulle word binne minute aanneemouers. Teen een van die mure staan die teks uit Jeremia 29:11 – ‘n teks wat vir Jean-Mari sinoniem is met hoop en iets is waaraan sy deur hierdie reis met haar hele wese vasklou.
Die vrou van die kinderhuis lê ‘n pragtige, vier maande oue babadogtertjie voor hulle neer. Eers kyk sy in Jean-Mari se rigting, “maar daar’s niks”. Toe kyk sy vir Rudolph… en glimlag! Dit is húlle kind, en haar naam is Talitha – “dogtertjie” in Hebreeus.
Rudolph en Jean-Mari Sharneck woon in Rawsonwille. Hy is ‘n dominee en Jean-Mari hou skool. Hulle storie van aanneming is propvol “toevallighede” alhoewel hul altyd oor hierdie sogenaamde “toevallighede” in aanhalingstekens praat. Hulle weet dat daar ‘n veel groter hand hierin is. Dit was nie net Talitha se glimlag wat hierdie storie inkleur nie. Daar is ook ‘n reënboog wat kleur bring. In Oktober 2012 het Rudolph en Jean-Mari gegaan vir ‘n in-vitro prosedure. Op die 30ste van daardie maand het hulle saam gebid vir ‘n teken – een waaraan hul kon vashou in dié onsekere tyd. Toe hulle buite die kantoor kom was daar ‘n pragtige reënboog in die lug en “’n reënboog is ‘n teken van hoop en beloftes” glo Jean-Mari. Sy het met haar foon ‘n foto geneem van dié teken. Op die 5de November het hul egter uitgevind dat die inplanting onsuksesvol was. Vir lank hierna het hulle geworstel met dié teleurstelling. Drie jaar later het Rudolph en Jean-Mari besluit om ‘n kind aan te neem en het met die redelike lang en vermoeiende proses daarvoor begin. Maar hulle het mekaar gehelp om moed te hou.
Die 12de Junie (onthou hierdie datum) was ‘n besondere dag – vir twee redes. Die eerste rede was dat dít die dag was waarop hul die laaste afspraak nagekom het met die oog op keuring vir ‘n aanneemkind. Aan die einde van dié sessie het die maatskaplike werker saam met hulle gebid vir die regte dogtertjie, “of sy al gebore is of nie”. Vier maande later stap hulle ‘n kinderhuis binne. Die vrou van die kinderhuis lê ‘n pragtige, vier maande-oue babadogtertjie voor hulle neer. Terwyl Rudolph vir dié dogtertjie terug glimlag vra hy wanneer sy gebore is. “Die 12de Junie”, antwoord die vrou. En dit is die tweede rede waarom dit so ‘n besondere dag was. Miskien is dit hoekom dié twee pastorie ouers in aanhalingstekens praat oor “toevallighede”. Die oggend op pad na die kinderhuis het Jean-Mari haar Facebook-herinneringe op haar foon oopgemaak. Daar was ‘n “On this day three years ago” prentjie… van ‘n reënboog in die lug buite die in-vitro gebou.
“’n Reënboog is ‘n teken van hoop en beloftes” glo Jean-Mari steeds.