Ontmoet vir Mareli Niehaus. Sy is ’n dominee op Laingsburg, ’n beroep waarin sy nie gedink het sy noodwendig sou in opeindig nie. Sy deel hoe sy te midde ’n pad van selfontdekking na God geluister het en haar bestemming in die bediening gevind het. Haar roepingstorie is een van daadwerklike gehoorsaamheid aan die roepstem van God. Dit is ‘n verhaal van selfontdekking, geduld en uiteindelik ‘n diep vertroue in die pad wat God vir haar uitgestippel het.
Om ’n dominee te word, was nie aanvanklik deel van Mareli se plan nie. “Ek is ‘n baie kreatiewe en praktiese mens,” vertel sy. “As kind het ek onder ma en ouma se naaimasjien grootgeword. So my groot droom was eintlik om die modewêreld in te tree. Om met my hande te werk.” Hierdie droom het haar gelei om mode te gaan studeer, maar nadat sy die kursus voltooi het, het ’n gevoel aan haar geknaag dat dit nie haar ware bestemming is nie.
Op hierdie punt van haar lewe, het Mareli diep besin oor wat die toekoms vir haar inhou. Met ‘n passie vir mense en ‘n kreatiewe gees wat skrik vir niks, was die volgende logiese keuse om ’n kunsonderwyser te word. Al is dit ’n beroep waarin sy goed sou vaar, het sy nie vrede oor hierdie besluit gehad nie. “Iewers langs hierdie pad het die Here besluit om ’n ander paadjie met my te stap,” deel sy met ‘n laggie.
So besluit Mareli om na haar hart te luister en ‘n gap-jaar te neem om die pad te vind wat God vir haar bestem het. Gedurende hierdie jaar het sy ‘n aktiewe rol gespeel in die kerk, veral onder die jeug van die gemeente. Dit was dus geen verrassing dat sy as groepieleier #imagine toe gestuur is nie.
Dit was juis by hierdie tienerfees waar sy haar roeping duidelik ervaar het. “‘Mareli, hierdie is waar jy moet wees. Dit is wat jy moet doen,'” het God se stem helder geklink.
Mareli het met vasberadenheid en geloof gereageer en ingeskryf vir jeugwerk by Stellenbosch Universiteit. Maar nadat sy haar eerste jaar klaargemaak het, het sy weer God se stem gehoor: Hy roep haar nie net om die jeug te bedien nie, maar om ’n dominee te wees.
Die rol van geloof in Mareli se roeping
Geloof het ‘n sentrale rol gespeel in Mareli se besluit om in die bediening te gaan. Sy erken dat die geloofsgemeenskap waarin sy grootgeword het, NG Gemeente Parowvallei-Oos, ’n diepgaande indruk op haar gemaak het. Hierdie gemeente was nie net ’n plek waar sy tuis gevoel het nie, maar ook ’n ruimte waar sy ‘n pad saam met God kon stap.
Dit was hier waar sy uiters lief geword het vir die kerk en waar die beginsels van haar roeping as ‘n dienaar van God versterk is.
Sy deel ook ‘n teksvers wat sy koppel aan die oomblik toe die Here haar geroep het om ’n dominee te wees, Filippense 3:12, spesifiek soos dit geskryf staan in haar Kinderbybel: “Nie dat ek dit alles al bereik het nie, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Jesus Christus my syne gemaak het.”
Hierdie vers is vir haar ‘n anker, ‘n herinnering dat sy moet bly strewe om haar roeping te vervul omdat Jesus haar syne gemaak het. Dit is ‘n kragtige bevestiging van haar pad as ‘n dominee en ‘n herinnering dat haar roeping ‘n voortdurende reis van toewyding en groei in Christus is.
Geen roeping is sonder uitdagings nie
Geen roeping kom sonder sy eie deel van uitdagings nie en Mareli se storie is geen uitsondering nie. Sy vertel dat die grootste uitdaging in haar en haar man, Heinrich (ook ’n dominee), se bediening die onsekerheid was wat gepaardgegaan het met ‘n onverwagse pandemie in 2020.
Vir twee jaar lank, terwyl Mareli nog besig was om klaar te swot, kon Heinrich nie werk kry nie. So, ’n tyd wat veronderstel was om die begin van hulle bediening te wees, was ’n tydperk wat gevoel het asof hulle lewe tot stilstand gekom het.
In hierdie periode van beproewing het die pasgetroude paartjie geleer om mekaar op ‘n dieper vlak te ondersteun, te motiveer en te bemoedig. “Die wonderlike ding is, al het dit in daardie tyd nie so gevoel nie, verstaan ons nou dat die Here ’n pad met ons gestap het. Dit was ‘n tyd van groei, saamwees en vertroue in God en mekaar.”
Vandag is Mareli en Heinrich saam dominees op Laingsburg, iets wat dié predikantspaar nie gedink het beskore is vir hulle nie. Op die meeste het hulle gehoop om beroep te word by gemeentes naby aan mekaar.
“En vandag sit ons saam in die bedieining en ons weet dat ons presies is waar ons moet wees. Beide van ons weet vandag dat ons moes wag. Ons moes geduldig wees, iets waarmee ek nog altyd gesukkel het. Ons moes wag sodat ons as kollegas saam in Laingsburg kan bedien. Hierdeur het die Here vir ons geleer hoe noodsaaklik geduld is en dat ons moet vertrou dat Hy presies weet wat Hy vir ons beplan. Aan die einde is dit soveel beter as wat jy self kan indink!”
Die pad na jou roeping mag dalk moeilik wees, maar aan die einde daarvan lê ‘n dieper begrip van God se liefde en ‘n groter vertroue in sy leiding.
Die Here voorsien
Daar is talle oomblikke in Mareli se bediening wat vir haar uitstaan. Maar een van die mees onvergeetlike gevalle is die herinnering aan God se voorsiening tydens hulle fondsinsameling vir ’n uitreik na Merweville.
“Ek gaan al vir ’n aantal jare saam met NG Gemeente Bellville-Uitsig na die Merweville uitreik. Verlede jaar was die eerste keer wat ek ’n groepie van ons gemeente se kinders saamgevat het. Dit was ’n amazing geleentheid vir hulle gewees. Soveel so dat ons hierdie jaar ’n fondsinsameling gehou het om ’n gedeelte van die kostes vir vyf kinders te borg sodat hulle weer kan saamgaan.”
So reël die gemeente ‘n pannekoekverkoping om geld in te samel hiervoor. Maar wat as ‘n eenvoudige projek begin het, het uitgedraai in ‘n ware wonder. “Dit was soos die vissies en die broodjies wat net meer en meer raak,” sê Mareli. “Ons deeg het net nie opgeraak nie! Ons het meer as 1 200 pannekoeke gebak (en die resep was vir 1 000), die presiese getal weet ek nie, want ons het ophou tel.”
Nadat almal hulle bestellings kom haal het, was daar soveel oor dat hulle pannekoeke in die gemeenskap ook kon uitdeel. Hulle het toe boonop genoeg geld ingesamel om al die kinders, en ’n bietjie meer, se fooie vir hierdie jaar te betaal. “As dominee is dit vir my wonderlik om self hiervan te kan getuig. Dit is ’n voorreg om op ’n daaglikse basis eerstehands te kan sien hoe God in mense se lewens werk en ’n pad met hulle stap!”
“Die Here gebruik jou nes jy is…”
Gedurende haar tyd as ‘n dominee by Laingsburg-gemeente het Mareli kosbare lesse geleer. Hoe meer sy haar roeping uitleef, hoe meer besef sy dat die Here haar hart beter ken as wat sy self doen. “Dit is ’n absolute getuienis oor hoe naby God aan ons is!”
Sy deel dat een van die grootste lesse wat sy by die gemeente geleer het die belangrikheid van saamwees en hierwees is. Sy besef dat ‘n groot deel van dominee-wees nie net draai om preek op ’n Sondag nie, maar om ’n ruimte te skep waar mense werklik kan tuis voel.
“Dit is ’n baie groot taak, voorreg en verantwoordelikheid om ’n dominee te wees. Ek dink ook dit is ’n groot verantwoordelikheid en voorreg om mense te herinner dat ons almal stukkende en gebroke mense is. Maar God kan elke liewe een van ons gebruik net soos wat ons is, waar ons is. God werk deur ons, met ons foute en selfs in ons plekke van gebrokenheid.”
Sy streef daarna om mense te ontmoet waar hulle is. Saamwees is nie net ‘n konsep vir haar nie, dit is ‘n lewenswyse wat sy dag na dag in haar bediening beliggaam. “Dit is waar die dinge gebeur. Dit is waar lewe gebeur en dit is waar die mooi regtig altyd uitkom.”
Vir Mareli is dit ‘n voorreg om ‘n bedienaar van die Woord te wees, om God se liefde en lig met mense te deel. Dit is ‘n pad wat sy met vreugde en dankbaarheid aanvaar, wetende dat elke dag ‘n nuwe geleenheid bied om God se grootheid te weerspieël in alles wat sy doen.
“Die lewe het my op ander draaie gevat wat ek nooit kon indink nie. Maar ek het vrede. Ek is heeltemal vervuld in wat ek doen. Ek het elke dag die kans om prakties en kreatief te wees soos wat God my gemaak het. Die pad mag dalk nie altyd maklik wees nie, maar dit is die moeite werd,” sê Mareli met ‘n glimlag. “Ek het vrede in die wete dat ek is waar God my wil hê en dit bring my ‘n diep vreugde.”