Roepingstorie: Van bandeverkoopsman tot dominee

👤 Wilmi Wheeler

In die hart van die Karoo kry ons vir Jan Stadler, ‘n man met ’n liefde vir die kerk en ‘n diep geloof in die krag van gemeenskap. Jan se roeping as diensleraar is ‘n eenvoudige storie van gehoorsaamheid aan die subtiele roepstem van die Here wat hom sagkens gelei het om in die bediening te gaan.

Die hooi op Jan se vurk is volgelaai met verskeie nie-kerklike aktiwiteite. Hy besit en bestuur ’n bandebesigheid, hy is betrokke by die plaaslike rugby en is self die voorsitter van die DBV op Beaufort-Wes. Daarby het hy ook ’n vrou en ’n hond om voor te sorg. Jan terg dat hy of ’n groter vurk moet kry, of minder goed moet oplaai.

Wie sou kon dink dat hierdie bandeverkoopsman eendag die preekstoel sou betree?

Jan het self nooit gedink dat sy lewe so ‘n dramatiese draai sou neem nie. “Ek het eintlik ’n baie eenvoudige storie. My ma was George Moedergemeente se skriba vir jare, so ek ken die kerk my hele lewe al. Snaaks genoeg, toe ek in standerd een was, het my ma een dag uit die bloute uit vir my gesê ek gaan ’n dominee word. Dit het nie by my gesit of enigiets nie, ek het nie veel daarvan gedink nie. En toe, na al die jare, kom die Here na my toe.”

Die keerpunt in Jan se roeping het gekom toe hy in sy veertigs was. Hy het in 2009 begin om in Beaufort-Wes Moedergemeente te preek. Dit was hier wat God in sy hart begin werk het. Die voorreg om die Woord te deel het ‘n diep verlange in hom opgewek om in die bediening in te gaan.

Sy vrou, ’n steunpilaar in sy lewe, het Jan aangemoedig om hierdie roeping na te jaag. Sy het hom aangespoor om te kyk na moontlikhede vir teologiese opleiding. Gelukkig het die nuwe bane van opleiding by Hugenote Kollege ’n pad vir hom geopen. Kort hierna het hy ingeskryf vir die bedienaarskursus en alles het verder net in plek geval.

Jan kon nie anders as om te glo dat God al die tyd ’n hand in sy lewe gehad het nie. “Ek dink die Here het nog al die tyd geweet wat met my gaan gebeur. Ek het dit net nie besef nie.”

Jan Stadler streef sy roeping na om 'n dominee te wees, al is hy ook 'n bandeverkoopsman.

“Ek kan nie wag om Sondae kerk toe te gaan nie!”

Vir Jan is die bediening nie net ‘n beroep nie, dit is ‘n roeping wat hom opgewonde maak. “Dit is vir my so lekker om betrokke te wees in die werk van die Here saam met ’n gemeenskap van gelowiges. Ek kan byvoorbeeld nie Saterdag wag om Sondag kerk toe te kom nie. Want ek weet dit gaan oor meer as net daardie uur op ’n Sondag.”

Hy sien die geleentheid om babas te doop en paartjies te trou as ‘n voorreg om ‘n nog groter verskil in die lewens van mense te maak. Sy opwinding vir die bediening spruit voort uit die wens om goedheid en liefde aan ander te bring, veral in ‘n tyd waar die miskonsepsie bestaan dat kerkwees beperk word tot ‘n uur op ‘n Sondag.

Jan Stadler van Beaufort-Wes is lief vir die kerk en glo in die roeping wat die Here vir hom gegee het.

“Moenie wag totdat iemand jou vra nie. Jy sit en dink nie verniet daaraan nie. Dit is die Here wat in jou hart werk. Dit is die Here wat jou roep. Die Here vat jou halfpad, jy moet net die volgende tree gee.”

Moenie wag vir ‘n spesiale uitnodiging nie – streef jou roeping na!

Jan is ook oortuig dat die kerk nie net uit ‘n dominee bestaan nie, maar uit ‘n gemeenskap van gelowiges wat saamwerk om God se liefde uit te leef. Dit is ‘n lewende liggaam wat deur elke lid gevorm word.

“Ek het in ’n era grootgeword waar die dominee alles moes doen. Die dominee is die enigste een wat kan help. Die dominee is die enigste een wat vir mense kan bid. En dit is glad nie so nie! Die afgelope paar jaar besef ek net weereens dat daar honderede mense daar buite is wat ook hierdie goed kan doen. Kerk stop in elk geval nie wanneer die erediens na ’n uur op ’n Sondag verby is nie. Die deure staan oop. Jy gaan uit. Jy is die kerk.”

Daarom moedig Jan mense aan om nie te wag vir ‘n spesiale uitnodiging nie, maar om self die inisiatief te neem om betrokke te raak by die werk van die Here.

“Moenie wag dat iemand jou vra nie. Niemand gaan vir jou nee sê as jy diensbaar wil wees nie. Jy sit en dink nie verniet daaraan nie. Dit is die Here wat in jou hart werk. Dit is die Here wat jou roep op daai klein paadjie wat jy moet stap. Die Here vat jou halfpad, jy moet net die volgende tree gee. Al is dit so eenvoudig soos skottelgoed was na tee by die kerk.”

Terwyl hy sy roeping volg om ’n dominee te word, het Jan die rustigheid gevind in die besef dat hy nie alleen op sy eilandjie is nie. Hy is omring deur ’n gemeenskap van mense wat gereed staan om die pad met hom te stap en hom te ondersteun.

Maar hy is nie blind vir die werk wat voorlê nie. Hy erken die uitdagings en die verantwoordelikhede wat met sy roeping kom, is groot. Die ou omies in die kerk mag dalk huiwerig wees oor sy onervarenheid, maar Jan vind troos in die feit dat God hom sy hele lewe nog gedra het.

“Ek mag dalk nie alles verstaan nie, maar ek weet dat die Here my nog nooit gelos het nie. So, hoekom sal Hy nou?”

Indien jy, of iemand wat jy ken – hetsy hulle op skool is, reeds in die kerk bedien, of tans ’n ander loopbaan volg – geroepe voel om by hierdie studente aan te sluit, besoek https://form.jotform.com/240752273692056 of kontak die Kaapkerk Seminarium by toerusting@kaapkerk.co.za.
Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: