Ek groet met ‘n traan van dankbaarheid en ‘n lied in my hart…

Die bykans vier jaar as sekretaresse van die Moderatuur was ‘n besondere voorreg.  My beker loop oor van dankbaarheid aan lede van die moderatuur, moderamen en kollegas wat my ontvang, geleer en gelei het om te groei en te werk tot uitbouing van die Koninkryk.  Ek was en is trots om vir die NG Kerk te werk, ten spyte van negatiwiteit in die media en die wêreld.  Ek weet wie en wat die kerk is.  Ek weet wie en wat ek is en ek ken Christus as my Here wat almal omarm en lief het – dit is hoe ons leef, loof, dien en doen.  Die afgelope sinode was vir my die kersie op die koek.  Dit was ‘n spesiale geleentheid – soos ‘n nuwe blom wat ontvou!  Ek het nog altyd hoop gehad, maar nou nog te meer – hoop vir nou, hoop vir die toekoms en hoop vir die kerk in die breë… hoop ook vir jou.  As daar ‘n wíl is, ís daar ‘n weg.

So wat gaan ek volgende doen?  Dié pad is nog onseker, maar ek weet ek gaan eers in en om die huis doenig wees.  My eggenoot is langer as ‘n dekade reeds afgetree, so ons twee gaan nou saam ‘n nuwe seisoen betree.  Dit is nou tyd.

Jesaja 42 het tydens ‘n sinodale koördineringspanvergadering vir my nuwe betekenis gekry, en ek groet met vers 10:  “Sing tot eer van die Here ‘n nuwe lied, sing sy lof oor die hele aarde,…”

Sanet Gunter
Junie 2019