SKRIFGEBRUIK EN SKRIFGESAGNGKerk2

Die Algemene Sinode keur die volgende verklaring goed en verwys dit na gemeentes en ringe vir bespreking:

  1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk bely, as kerk wat in die Gereformeerde tradisie staan, dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom:

* gesag het oor ons hele lewe, omdat dit aan ons betuig dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan die Here, sodat ons geroep word om in vertroue op Hom en in gehoorsaamheid aan Hom te leef;

* betroubaar is, omdat ons vas glo dat God werklik is soos Hy Homself in die Skrif aan ons bekend maak: die Vader, Seun en Gees wat uit genade ons God is;

* duidelik is, omdat die kerk hierin die helderheid van die evangelie van God se liefde en genade hoor;

* voldoende is, omdat die Heilige Gees ons deur die Bybel alles leer wat ons hoef te weet om in God te glo en om sy wil te gehoorsaam (vlg NGB Artikel 7).

Daarom bely ons steeds gelowig dat dié waarheid bo alles is.

  1. Soos nog altyd vir die Gereformeerde tradisie, beteken hierdie belydenis vir ons nié:

* dat die Bybel vereis dat ons ons denkvermoë, wat ’n gawe van God is, moet opoffer nie;

* dat die Bybel gesien kan word as ’n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie;

* dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddellik alles daarin kan begryp nie;

* dat die Bybel vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee, sodat geen verdere menslike nadenke of navorsing nodig is nie.

  1. Ons bely verder dat God deur die Heilige Gees die kerk deur die eeue in die waarheid van hierdie Woord lei. Dit beteken vir ons dat ons die Skrif as die lewende Woord van God hoor in gemeenskap met die Heilige Gees en met mekaar.  Daarom was die kerke in die Gereformeerde tradisie nog altyd oortuig van die belangrikheid van ’n verantwoordelike interpretasie van die Skrif waardeur die kerk as geloofsgemeenskap onder leiding van die Heilige Gees soek na die waarheid, geregtigheid en barmhartigheid wat God deur sy Woord in ons tot stand bring.  Hierdie oortuiging dat die kerk die Skrif moet interpreteer, blyk onder meer uit:

* die klem wat van die begin af gelê is op ’n grondige kennis van die oorspronklike tale (Hebreeus, Grieks en Aramees) waarin die Bybel geskryf is, asook die soeke na die beste metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg;

* die beklemtoning dat die hele Skrif gelees moet word in die lig van die konteks waarin dit ontstaan het, sodat die tyd- en kultuurbetrokkenheid daarvan verreken kan word in die uitleg;

* die soeke na reëls vir die uitleg van die Skrif (voorbeelde van sulke uitlegreëls uit ons tradisie is: dat die Skrif as totaliteit gelees moet word, dat Skrif met Skrif vergelyk moet word en dat die moeiliker dele in die lig van die makliker dele vertolk moet word en dat die Skrif uit sy hart, die evangelie van Jesus Christus, verstaan moet word);

* die onderskeid wat in die uitleg van die Skrif gemaak is tussen verskillende dele van die Skrif wat ’n verskillende soort gesag het (byvoorbeeld die onderskeid tussen die historiese en normatiewe dele van die Skrif, asook die onderskeid tussen die kultiese en morele wetgewing);

* die dankbare, maar kritiese luister na die manier waarop die Skrif in die geskiedenis van die kerk uitgelê is en in ons eie tyd deur medegelowiges in ons eie kerk en ander kerke uitgelê word;

* die vestiging van kerklike praktyke vir die interpretasie van die Skrif, soos veral die prediking, maar ook kategese, Bybelstudie, teologiese studie en andere;

* en veral ook in die daarstel van belydenisskrifte waarin die kerk streef om die hart van die Skrif-boodskap duidelik te vertolk en gehoorsaam te aanvaar.

  1. Hoewel die kerk in elke tyd anders mag oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg, bly dit vir ons ’n basiese oortuiging dat die belydenis van die Skrif as Woord van God nooit teenoor verantwoordelike Skrifuitleg staan nie. Die belydenis roep ons juis op om onsself, in gemeenskap met mekaar en met al die gawes wat God vir sy kerk gegee het, toe te lê op die soeke na die waarheid.
  2. In die lig van hierdie belydenis glo ons dat God ook in die uitdagende tye waarin ons leef, sy kerk deur sy Woord en Gees in die waarheid sal lei. As Gereformeerdes verbind ons ons daartoe om, ook wat die komplekse leerstellige en etiese kwessies van ons tyd betref, in hierdie oortuiging saam te soek na waarheid, geregtigheid en barmhartigheid.  Ons glo dat hierdie soeke ’n ekumeniese strewe is, in verbondenheid met die kerk van alle eeue en die kerk dwarsoor die wêreld.  Waar ons van mekaar verskil, glo ons dat ons in gesprek met mekaar moet bly, in die gebed dat God ons liefde al meer sal laat toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Filippense 1:9-10).

 

Soos aanvaar deur die Algemene Sinode van 2004.