Heel aan die begin het ek jou nie geken nie, vervreemd in jou idee van dominee wees. Jou reëls regulasie het my laat dink… maar ook in die proses partykeer vermink. Later het ek myself gevind in die raaisel van gebrokenheid en dit wat die Woord van ons sê. Genade was nog altyd moeilik vir my om te verstaan, maar as jy dit eers gevoel het in die diepste kamers van jou siel verander dit jou om nader aan mense nader aan seer en nader aan God te leef. Ek verstaan dit nog nie en dalk is dit goed so… maar ek probeer dit leef en maggies is dit amazing? Jou Karoo mens jy het my lief gehad en my inwag met ’n bordjie eetgoed en ’n belaglike grappies. Jy’t vir my die ruimte geskep om myself te wees en daarom gaan ek skatryk hier weg. Meer as ooit tevore is stilte iets wat my nie meer bangmaak nie maar vreesloos, veg soos ’n vuishou sonder ophou. In jou niksheid, leegheid en eenvoudigheid kon ek God leer ken op maniere wat geen boek al ooit vir my gewys het nie. Van jou bakkie tap soggens en saans en jou skape water toe lei het ek nie geken nie, maar om saam jou te kon dans wanneer die klank van reën jou groet ken ek nou. Hoekom Fraserburg het eens gebid, maar nou liewer dankie vir Fraserburg! Liefde word geloofwaardig die moment wanneer ons anders na mekaar kyk, dalk soos  Hy was lank gelede ook anders na siekes en impotente mense gekyk het. Ek sê vir jou dankie Karoo mens, dankie dat ek in jou ‘is’ my ‘wees’ kon vind.

Fritz Kotzé
friedrichk@gmail.com

Mei 2019