NG Kerk Soutpansberg – Louis Trichardt

👤 Kaapkerk Kommunikasie

VAKATURE:
Voltydse leraarspos

SLUITINGSDATUM:
12 Junie 2026

LERAARSPROFIEL:

Die NG-gemeente Soutpansberg nooi dinamiese, jong, energieke en gedrewe gelegitimeerde leraars uit om aansoek te doen. Behalwe vir die Woordbediening, sal geestelike bediening aan die jeug en bejaardes ook ’n belangrike deel van die aanstelling vorm.

GEMEENTEPROFIEL:

Die NG-gemeente Soutpansberg is geleë in Louis Trichardt, ’n plattelandse gemeenskap in die noorde van Limpopo. Die dorp ondersteun ’n groot landbougemeenskap en beskik oor al die nodige koopgeriewe, insluitend ’n winkelsentrum, wat ’n moderne tog rustige leefstyl moontlik maak. Daar is topgehalte laer- en hoërskole in die dorp wat enkel- sowel as dubbelmediumonderrig aanbied. Die dorp beskik ook oor top-gehalte mediese geriewe, insluitend ‘n privaathospitaal met spesialiste.

Geleë aan die suidelike voet van die Soutpansberg, is die dorp se klimaat hoofsaaklik subtropies en sowat 40 kilometer van die Levubu-plaasgemeenskap, wat hoofsaaklik subtropiese gewasse boer. Noord van die Soutpansberg maak die subtropiese natuurskoon plek vir droër savanahgrasvelde en Mopanibome as deel van die Bosveld, ’n gewilde jagbestemming. Louis Trichardt is ’n klipgooi weg van die Punda Maria en Pafuri-ingangshekke na die Kruger Nasionale Park, asook die Forever Resort Tshipse, ’n warmwatervakansieoord. Die Zimbabwiese grens is sowat 130 km noord van die dorp geleë.

Die gemeente het ongeveer 200 belydende lidmate en 40 dooplidmate. Dit sluit alle ouderdomsgroepe in. Die gemeente is daarop ingestel om verhoudings tussen lidmate te bou en te versterk. Gereelde huisbesoeke deur die leraar is dus van groot belang. Ons is ’n gemeente wat geesvervuld leef vir die Koninkryk van God.

Daar is nog ’n NG-gemeente in die dorp, nl. die Moedergemeente: Stad op die Berg. Ons werk saam op maatskaplike gebied.

GEMEENTELIKKE PROFIEL:

Die NG Kerk Soutpansberg is familiegesentreerd en lewendig, met ’n sterk en doelgerigte bediening aan beide die jeug en bejaardes. Skrifgetroue prediking, gekenmerk deur passie en relevansie, vorm die grondslag van die gemeente se lewe. Daar is aktiewe betrokkenheid by die samelewing en ’n noue, betekenisvolle verbintenis tussen die gemeente en die breër gemeenskap.

PLIGTE VAN DIE LERAAR:

Soos omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde, met die fokus op:

  • ’n Lewende, persoonlike verhouding met God-Drie-Enig.
  • Om in Sy diens te staan as roeping.
  • Woordgetroue, inspirerende en verstaanbare prediking, verbind aan die Gereformeerde Leer en die Belydenisskrifte van die NG Kerk.
  • ’n Energieke persoon met ’n passie vir God en Sy mense. Goeie verhoudings met alle mense oor alle generasies bou en handhaaf is noodsaaklik, insluitend huisbesoeke en persoonlike kontak met lidmate in verskillende lewensstadiums en situasies.
  • Entoesiasties en ervaring met kreatiewe gebruik van musiek, vernuwende tegnologie en sosiale media as bedieningshulpmiddels.
  • Goeie interpersoonlike en luistervaardighede.
  • Vermoë om gemaklik in spanverband te funksioneer.
  • Verantwoordelikheid vir projekte saam met diensgroepleiers neem, sowel as inisiatief met nuwe projekte en geestelike bedieningsgeleenthede.

VERGOEDINGSPAKKET:

  • Volg sinodale riglyne (pensioen en medies)
  • Behuisingsubsidie
  • Selfoontoelaag
  • Vervoertoelaag

AANSOEKE:

  • Belangstellendes moet ’n CV van nie meer as twee bladsye elektronies inhandig, insluitend kontakbesonderhede, e-posadresse en name van ten minste vier (4) referente wat gekontak kan word.
  • Sluitingsdatum vir die indiening van CV’s is 12 Junie 2026 om 12:00.
  • Met ontvangs van die CV sal ’n omvattende vraelys aan die aansoeker/kandidaat gestuur word om te voltooi. Dit moet binne 14 dae na ontvangs teruggestuur word na die kerkkantoor.
  • Navrae kan gerig word aan die saakgelastigde by 079 116 1700 by die kerkkantoor, weeksdae vanaf 08:00–15:00, of per e-pos na soutpankerk@gmail.com.
  • Die datum van ontmoeting, onderhoud, moontlike preekgeleentheid en diensaanvaarding sal met die suksesvolle kandidaat onderhandel word.

Die Kerkraad behou die reg voor om geen aanstelling te maak nie.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: