Spekboom (Portulacaria Afra) is werklik die wonderplant van die Oos-Kaap en die Sondagsriviervallei. Die Addo Olifant Nasionale Park is bevoorreg om die middelpunt van hierdie spekboomstreek te wees.

Die Engelse naam vir die spekboom is die beskrywende Elephant’s Food is (en nie Pork Bush soos die direkte vertaling uit Afrikaans verkeerdelik lui nie), want dit vorm tot 80% van die Oos-Kaapse olifante se dieet. ‘n Olifant vreet tot 200kg spekboomblare per dag.

Spekbome floreer in areas met ‘n reënval van 250 tot 375mm per jaar met baie warm somers. Dit word van 2,5m tot 4,5.m hoog met ‘n stam van gemiddeld 20cm in deursnee en kan tot 200 jaar oud word. Dit het sappige groen blare wat 1.3 mm tot 2 mm lank, stomp of gerond is en met ‘n klein stingel geheg word. Dit blom in die lente of vroeë somer na goeie reën met stervormige pienk of ligpers dubbelslagtige blomme wat goeie heuning lewer. Die vrugte is klein bessie-agtige pienk deurskynende vruggies met drie vlerkies en verlang spoedige reën na vrugval om te ontkiem.

Die spekboom is buitengewoon, omdat dit twee metodes van fotosintese volg:

1. Gedurende wintermaande wanneer dit koel en vogtig is, vind gewone fotosintese en beter groei plaas.
2. In droë toestande in die winter of somer volg ‘n proses wanneer die plant sy huidmondjies oopmaak en koolsuurgas “inasem” en sure binne die plant opbou. Gedurende die nag word die huidmondjies gesluit en die sure word afgebreek om koolsuurgas binne die plant vry te stel sonder dat die plant vog deur sy huidmondjies verloor. Die beskikbare vog word dan deur middle van hierdie koolstofverbindings in die blare, stamme en wortels van die spekboom gebêre vir droë tye. Die spekboom is dus ‘n wonderplant juis omdat dit albei hierdie prosesse kan volg. Hierdie spekboomfeite is vasgestel danksy fisiologiese studies deur wetenskaplikes in veral Amerika en Japan. Wetenskaplikes het reeds in die 1960’s en 1970’s agtergekom die spekboom werk anders as ander plante.

Wat die spekboom nog meer spesiaal maak, is dat sy humus nie kan brand nie. ‘n Vuur kan dit dus nie vernietig nie en sy organiese materie, sowel as die koolstof uit die lug opgeneem, word uiteindelik in die grond geberg. Studies wat in die veld gedoen is, toon dat ‘n gemiddelde stand van spekbome tot 4 ton koolstof per jaar per hektaar vasvang. As aanvaar word dat 800 bome per hektaar groei, kom dit neer op 10 pond (4.5 kg) koolstof per boom per jaar.

Die spekboom is ryk aan mangaan en kobalt en veral ryk aan magnesium. Dit bevat ook groot hoeveelhede van die mikro-elemente, jodium en selenium. Duisendpote gebruik gekonsentreerde jodium as ‘n verdedigingsafskeiding en dit verklaar die ongewoon hoë voorkoms van duisendpote in die bosveld van die Oos-Kaapse vallei.