Nico van der Westhuizen van Loeriesfontein skryf:

Hoe sê mens dankie?

Die droogte is besig om elke greintjie krag en hoop uit ons gemeenskap te tap. Hoe oorleef jy dit om op te staan en nog ‘n dag aan te pak wat net uit voer gee bestaan en waters na te ry om te kyk of daar nie nog ‘n boorgat is wat ingegee het nie. Hoe gaan slaap jy in die aand as jy nie weet hoe lank jy nog kon volhou om voer te koop nie. En dan daag die onverwagse hulp op. Op Loeriesfontein het ons dit die afgelope tyd so tasbaar beleef in voerskenkings, bederfpakkies en finansiële hulp uit onverwagte oorde. As mens wil begin wonder of God nog van ons weet dan is hierdie uitreike van totaal onbekende mense waarvan ek hierbo praat, maar net ‘n bevestiging dat God ons in ons nood nie vergeet het. Onbekendes wat gee en gee en gee is maar net weer vir ons die bewys dat God, mense as engele gebruik om ons weer bewus te maak dat Hy ons hand elke dag vat. ‘n Gemeentelid sê nou eendag vir my, elke keer as sy met ‘n bederfpakkie oor die drumpel loop is dit asof daar elke keer ‘n engel saam met haar oor die drumpel loop om opnuut weer lig in haar lewe te gee.

Daarom hierdie skrywe om aan elkeen wat op die een of ander manier in die tyd na Loeriesfontein en sy mense uitgereik het – maak nie saak op watter manier nie. Ons wil uit die diepte van ons hart vir julle dankie sê. Julle maak ons las ligter en julle verlig ons soms somber en donker harte en laat die lig van God weer daarin skyn sodat ons nie ons fokus op Hom verloor nie.

Nico van der Westhuizen, Loeriesfontein
November 2019