Teologiese insigte oor infertiliteit
👤 Wilmi Wheeler
Lou-Maré Denton van die Taakspan Gendergeretigheid en predikant by Brackenfell-gemeente gee vir ons dieper teologiese insigte oor infertiliteit.
Infertiliteit is maar een van die aspekte wat Moedersdag kompleks en vir baie mense ‘n traumatiese ervaring maak. Ek weet van mense wat kerk vermy op Moedersdag.
Vir mense wat leef met infertiliteit is Moedersdag moeilik, maar ook so:
- vir mense wat die keuse maak om nie kinders te hê nie,
- vir mense wat ‘n kind verloor het hetsy deur ‘n miskraam, stilgeboorte, gestremdheid of traumatiese gebeure en
- vir mense wie se ma oorlede is,
- ook vir mense wie ‘n slegte verhouding met hulle ma het
- of wie se ma hulle mishandel of verwaarloos het.
Met Moedersdag om die draai is die vraag hoe gee mens erkenning aan ma’s of moeders, sonder om ander mense uit te sluit en ook erkenning te gee aan die spektrum van emosies waarmee mense sit op sulke dae.
My een kollega het dit gedoen deur net geen aandag aan Moedersdag of Vadersdag in die erediens te gee nie. Dit is sekerlik ‘n opsie, maar ek dink tog ‘n erediens kan ook ‘n ruimte wees waar mense erkenning kry, ingesluit word en hulle ervarings bevestig word terwyl ons op ‘n indirekte manier ons gemeente help om ook hieroor te besin.
Vir baie lank deur die geskiedenis is infertiliteit gesien as ‘n straf of die resultaat van sonde of iets wat jy verkeerd doen of gedoen het. Meeste verantwoordelike Christene besef genadiglik deesdae dat mens nie meer so oor infertiliteit kan dink nie.
Wat wel nog baie lewend is, is die idee dat vrouwees ten diepste gaan oor mawees. Dat vroue se hoogste, mees lofwaardige doel of rol is die van moeder en word dit as amper ondenkbaar gesien dat ‘n vrou kan kies om nie ‘n ma te wees nie en die wat nie kan kinders baar nie word eintlik net bejammer.
Bybelse Perspektief oor moederskap en infertiliteit
Deel hiervan is omdat ons vashaak by Genesis 1 – wees vrugbaar en vermeerder, sonder om dit saam te lees met die vorige vers. Genesis 1:26 – 28: “God het gesê: ‘Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.God het die mens geskep na sy beeld,
na die beeld van God het Hy hom geskep,manlik en vroulik het Hy hulle geskep. God het hulle geseën en gesê: ‘Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit. Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg.”
Voor die opdrag om te vermeerder is die stelling dat God mense gemaak het na God se beeld. Om te vermeerder, beteken dat God se beelddraers meer raak. Na die sondeval kry ons baie verhale van vrou wat, om die Ou Testamentiese taal te gebruik, onvrugbaar is en dan kom God en skenk ‘n kind en so word God se volk deur God se ingrype gebore en gevorm. God se volk wat uit een biologiese familie stam en God se beelddraers is.
Dan kom Jesus en Jesus keer ons idee van familie op verskeie maniere om.
Een van die treffendste tekste is Lukas 11:27-28:
Terwyl Hy dit sê, het ‘n vrou in die skare haar stem verhef en Hom toegeroep: “Gelukkig is die moederskoot wat U gedra het en die borste wat U gevoed het!” 28 Maar Hy antwoord: “Ja, maar waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.”
So hier gee Jesus erkenning aan sy eie ma se dra van hom, maar vat dit ‘n stap verder en sê waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou, wat sy ma natuurlik ook gedoen het. Jesus verskuif die klem van moederskap tot gehoorsaamheid aan God.
Daar is genoeg tekste wat vir ons bevestig dat familie vir Jesus belangrik is, maar net so is daar ook tekste wat ons herinner dat gehoorsaamheid aan God altyd eerste plek moet kry.
Meeste van Jesus se navolgers word nooit geëien as ma’s in die eerste plek nie, maar as vroue wat vir Jesus gesorg het. Op dieselfde trant bring Paulus in Romeine 16, eer aan ‘n klomp mense wat hom in sy bediening bygestaan het en net een van hulle word erken as die ma van iemand en dan voeg hy by, “wat ook vir my ‘n moeder was”. Die res word genoem dienaars, medewerkers, werkers.
Vrouwees is meer as ma-wees
Vrouwees is soveel meer as net ma-wees. En ma-wees is soveel meer as om net jou eie kinders groot te maak. Ma-wees is nie net iets wat jy is nie, dit is iets wat jy doen. As ek by my kinders se skool aankom, storm daar op enige gegewe oomblik 5 – 15 kinders op my af, waarvan net twee my eie is, een wat deur biologie ons kind geword het en een deur aanneming, maar dikwels is ek vir al 15 hulle maatjies ook ‘n ma, want ons huis is die speelhuis. Die kinders in kategeseklas is my kinders – lank voor ek my eie kinders gehad het, was die gemeente se kinders my kids. Ek was al ‘n mentor vir studente en opleier van leiers. Dit is alles maniere waarop ek ‘n ma is vir ander, waar ek versorg, oplei, leer, lei, omgee, mentor, vorm. En op Moedersdag moet ons al hierdie maniere van ma-wees kan vier.
Een van die mense wat ek gelees het verwys na Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels in Matteus waar hy vir hulle sê: Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, 20en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd. ”
Gaan maak dissipels van al die nasies – gaan maak beelddraers, gaan vermeerder my mense – nie meer deur biologie soos in die Ou Testament nie, maar deur die Gees. Jesus is fisies gebore, maar Jesus werk deur wedergeboorte, ‘n geestelike geboorte en dit is waartoe Jesus ons oproep – om geestelike ouers te wees – om ouers te wees wat God se geestelike familie groei en vermeerder.
So maak hierdie Moedersdag die sirkel groter en sluit alle maniere in waarop ons, in Jesus, ma kan wees. Dit vat nie die seer van baie vroue weg nie, maar erken hulle menswees en bydrae.
Lees verder
Lees hier meer oor die onderwerp.
- Reconceiving reproductive health: Theological and Christian ethical reflectionsVolume editor: Manitza Kotzé; Nadia Marais; Nina Müller van Velden (PDF verniet beskikbaar op Aosis).
- RECONCEIVING INFERTILITY Biblical Perspectives on Procreation and Childlessness.
Moss, Candida R.; Baden, Joel S. Reconceiving Infertility (p. iii). Princeton University Press. Kindle Edition.