The Great Revival bring herlewing in Kaapstad

👤 Wilmi Wheeler

Verbeel jou net, meer as 170 kerkleiers van regoor die land, insluitende afgevaardigdes uit ons townships, saam by ‘n kragtige konferensie oor herlewing in Kaapstad. Hierdie opwindende geleentheid het die sentrale temas van herlewing, eenheid en dissipelskap omarm. Dit is the Great Revival!

Die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) het saam met leiers vanuit verskeie denominasies hierdie konferensie georganiseer. Getuienis is immers nie beperk tot ‘n enkele sfeer nie. Hulle herinner ons daaraan dat ons getuienis van God se genade en herlewing nie beperk moet bly tot die kerk nie, maar dat ons dit in elke area van ons lewens moet uitstraal.

Die konferensie het beklemtoon dat herlewing nie net ‘n teoretiese idee is nie, maar ‘n werklikheid waarna verlang word en waarvoor gebid word in elke gemeenskap. Die gelowiges wat deelgeneem het, het gewys dat herlewing ‘n lewende, dinamiese proses is wat diep in ons harte en ons gemeenskappe moet wortel skiet.

Elkeen van ons het ‘n unieke rol om te speel in God se plan vir herlewing in die kerk. Mag hierdie konferensie ‘n keerpunt wees in die reis van ons geloof en mag die herlewing wat daar ervaar is, versprei na elke hoek van Afrika en verder.

Hoe het ander The Great Revival ervaar?

Braam Hanekom van SPG vertel dat een van die mees indrukwekkende aspekte van hierdie konferensie die passie en energie is waarmee ons kollegas uit die townships oor herlewing gedroom het. “Dit het my persoonlik diep in die hart gegryp. Hierdie gelowiges het gewys dat herlewing nie net ‘n idee is nie, maar ‘n werklikheid waarna verlang word en waarvoor gebid word in elke gemeenskap. Hulle het ons herinner aan die krag van geloof en volharding en die aansteeklikheid van hul passie het ons almal aangemoedig om die vlam van herlewing in ons eie harte te laat brand.”

Trevor Herbert van die Suid-Afrikaanse Gereformeerde Kerk (SAGS) het ‘n aangrypende pleidooi vir eenheid gelewer, wat ons laat besef het dat herlewing nie ‘n individuele strewe is nie, maar eerder iets wat ons gesamentlik moet najaag. Trevor het ons uitgedaag om wakker te skrik en daadwerklik betrokke te raak. “Herlewing is ‘n oproep om die saad van hoop, liefde en vreugde te saai te midde van die donkerste tye. Ons word geroep om oor die mure van verdeeldheid te kyk en mekaar as mede-pelgrims op hierdie geestelike reis te aanvaar. Dit is die krag van eenheid en saamstaan wat die herlewing in die kerk sal bevorder.”

By hierdie geesvervulde geleentheid het Danelle Jordaan van die Sentrum vir Publieke Getuienis God op ‘n nuwe en kragtige manier ervaar. “Die konferensie het my met ‘n skok laat besef met hoeveel kortsigtigheid en kleingelowigheid ons soms hierdie lewe benader. Veral Mike Burnard se aanbieding was ‘n broodnodige herinnering dat ons altyd hierdie lewe in die konteks van die ewigheid moet sien. Dat enige swaarkry, frustrasie, uitdaging of hartseer ons nie moet ontmoedig nie, maar dat ons dit juis moet sien as ‘n geleentheid om te dien as instrumente waardeur God die ware evangelie aan meer en meer mense kan openbaar. Ons moet so dankbaar wees dat hierdie ons voorreg is! Die wêreld het bo alles die onvoorwaardelike en onverklaarbare liefde van God nodig… En dis ons verantwoordelikheid om dit uit te dra.”

Herlewing is ‘n oproep tot aksie

Die oproep tot herlewing is ‘n oproep tot aksie. Dit is ‘n uitnodiging aan elke gelowige om opnuut betrokke te raak by die werk van die Here en om ‘n verskil te maak in die wêreld om ons. Dit is ‘n herinnering dat ons deel is van ‘n groter geheel en dat ons saam, in eenheid, die lig van Christus kan versprei na elke hoek van die aarde.

Herlewing begin by elkeen van ons. Dit begin by ons bereidwilligheid om ons harte en lewens aan God oor te gee, om sy leiding te volg en om met moed en oortuiging die goeie nuus van die evangelie uit te dra. Mag ons almal, geïnspireer deur die konferensie en die getuienisse van ons medegelowiges, die vlam van herlewing in ons eie lewens aansteek en dit uitstraal na die wêreld om ons.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: