Totsiens, dominee – Pierre Marais groet Ceres

👤 Wilmi Wheeler

Met 2024 as feesjaar, sluit ds. Pierre Marais en sy vrou, Mona, ‘n besonderse hoofstuk in hul lewens af.

Die jaar 2024 is `n spesiale feesjaar vir my en my vrou, Mona! Ons was in Julie vanjaar 30 jaar in die NG Kerk Ceres (Moedergemeente). Ons is ook 10 jaar voor ons in Ceres gekom het, hier in die huwelik bevestig!

Wanneer ons 1 Desember 2024 groet, sal dit met dankbare, vol harte wees. Ons het die voorreg gehad om in twee van die heel mooiste dorpe in ons land te kon bedien, naamlik Greyton (naby Caledon) en dan Ceres self.

Die natuur van hierdie twee dorpe was altyd vir ons as gesin `n spesiale inspirasie. In Greyton loop Parkstraat, waarin die pastorie geleë is, tot bo teen die Riviersonderendberg. Stap jy die natuurtuin binne, eindig jy na ongeveer 500 meter by `n waterval en `n heerlike donker poel bergwater. Ons was baie gereeld daar.

Ceres weer is omring met die Skurwe-, Matroos- en Theronsberge en ons was verskeie male op meeste pieke “in die wolke”! Die pad na die Koekedouw-dam met sy heerlike bergpoele, was veral gedurende die warm somermaande, altyd `n lafenis vir liggaam en siel.

ceres pierre marais

Toe die Here my in 1979 op Robertson geroep het, was dit `n verrassing!

Die wêreld van Admissie en Teologie was aanvanklik vreemd. Ek is egter gou op Stellenbosch in `n wonderlike vriendekring ingetrek en die vriende het my tuis laat kom binne die wêreld van die kerk.

Om 30 jaar in een gemeente te wees, bring `n baie diep verbintenis met mense. Ons is in mekaar se harte en lewens verweefd en dit gaan baie moeilik wees om te groet, maar ons is oortuig dat daar `n nuwe seisoen moet aanbreek vir die gemeente en vir ons.

Ek is dankbaar vir Mona wat met haar gawes en persoonlikheid altyd `n vrolike lied in ons huis en die gemeente laat opklink het! Ons vier kinders (waarvan een ons skoondogter is), met drie kleinkinders, gee ons baie vreugde. Ons is dankbaar vir Greyton en veral Ceres Moedergemeente wat vir `n leeftyd ons basis was.

Ons sal DV eers op Agulhas woon, lekker toer, galjoen probeer vang, gholf speel, by die kinders en kleinkinders kuier en sommer net mens wees! Waar ons kan help, sal ons diensbaar wees.

Mag die kerk mooi kyk na sy dominees en mag die dominees mooi kyk na hulle lidmate!

Ons grootste dank aan die Here vir sy onverdiende genade.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: