Die tweede Restitusie konferensie is gedurende die naweek van 31 Aug en 2 Sept in Kaapstad aangebied met die tema: Restitution: Creating a shared future!

 Die Restitusie konferensie is aangebied in samewerking met verskeie vennote, waaronder die Restitusie Stigting, Institute for Justice and Reconciliation, Castle of Good Hope, PLAAS – Institute for Poverty, Land and Agrarian Studies, Universiteit van Stellenbosch, Human Sciences Research Council, Institute for Healing of Memories, Khulumani Support Group, The Warehouse, District Six Museum en die Groote Kerk.

Lukhanyo Calata en Riaan de Villiers

Die konferensie is op Vrydag 31 Augustus in die Town House Hotel in Kaapstad geopen, waartydens Hoofregter Mogoeng Moegoeng die hoofspreker was, die Kasteel was die venue op Saterdag 1 September toe die vennote saamgewerk het om ‘n dokument saam te stel wat praktiese beginsels en aksies bevat om restitusie te bewerkstellig in Suid-Afrika. Die konferensie is afgesluit op Sondag 2 September in die Groote Kerk waartydens ds. Riaan de Villiers gepreek het, en Wilhelm Verwoerd (skrywer van die boek Bloedbande: ‘n Donker Tuiskoms en kleinseun van dr. Hendrik Verwoerd) in gesprek getree het met Lukhanyo Calata (skrywer van die boek My Father died for this; Een van die SABC 8 en seun van Fort Calata, een van die Cradock 4) en waartydens die konferensie se dokument aangaande restitusie bekendgestel is.

Die vraag waarmee ons moet worstel, is nie óf restitusie moet plaasvind nie; maar hoé restitusie moet plaasvind en die huidige debat oor grondhervorming is maar net ‘n deel van die gesprek oor hoe ons ‘n proses van restitusie bewerkstellig in Suid-Afrika. Ons moet besef restitusie kom voor versoening.

Ek het tydens die gesprekke die naweek weereens besef dat al hierdie woorde, woorde soos erkenning van verkeerdhede, belydenis, restitusie, vergifnis en versoening, diep Bybelse en geloofsbegrippe is. Woorde, wat as ons diep erns maak daarmee, tot heilige aksies kan lei wat ons op koers plaas om herstel en genesing te ervaar in ons mooi land, wat so gekenmerk en vernietig is deur ongeregtighede en selfsug. Die kerk moet juis hierdie gesprekke verwelkom en ons ruimtes oopstel daarvoor en sodoende leiding gee op die pad van geregtigheid.

Ek ervaar ook dat sommige van ons kerkmense steeds baie ongemaklik is hiermee; ek kan verstaan dat dit moeilik is om hiermee gekonfronteer te word en ons kerk en witmense se aandeel in hierdie onregte in die gesig te staar, maar ons moet nie nou toelaat dat vrees, vooroordeel en haat die nodigheid van hierdie gesprek kelder en mense dit probeer ontwyk deur skuldverplasing en ontkenning nie. Die benadering van baie van die gesprekke by die publieke byeenkomste en die kommissie in die parlement is hartseer. Die kerk behoort nou juis ‘n ander manier van praat en luister aan te bied. Een van die lede van die Khulumani Support Group het genoem dat baie witmense argumenteer my ouers het hard gewerk vir wat hulle het en dit nie net ontvang nie. Hy vra toe: “Wat sê julle daardeur – dat my ouers geslaap het terwyl hulle ouers hard gewerk het?” Mense wat aanhou om hierdie argument te voer in weerwil vir ‘n pad van restitusie neem glad nie in ag die beperkings wat geplaas is op swartmense om ook “hard te werk” nie, die hele stelsel het hulle verhoed om dieselfde sukses en vrugte as witmense te pluk.

Ons moet hierdie pad loop en ons gaan opofferings moet maak. Ons wil graag vrede en herstel hê, maar ons is nie bereid om die pad van selfoppofferende liefde te loop nie. En tóg is dit die pad wat die Bybel aandui, die profete ken net een pad na herstel, en daardie pad loop deur ‘n soeke na geregtigheid, reg-stelling en restitusie. Jesus se pad na herstel en opstanding loop reguit deur ‘sacrifice’. Hoe kan ons dan ‘n ander pad wil loop en dink ons gaan op ‘n beter plek uitkom?

Mense vra dikwels: “Nou wat moet ons doen?” Ek dink en ervaar dat dit dikwels net begin by blote erkenning daarvan dat Apartheid ‘n misdaad teen die mensdom was. Punt. Sonder voorbehoud en verdediging. En dan moet ons begin om diep te luister, om werklik te hoor wat mense ervaar en beleef het en hoe hulle lewens vernietig is. Hiervan is Lukhanyo Calata se storie maar een van duisende in ons land. Wilhelm Verwoerd bied ‘n goeie uiteensetting in sy boek Bloedbande-‘n Donker Tuiskoms oor die proses wat hy self moes loop in erkenning en luister na ander se stories van onreg en pyn. Dit is ook om hierdie rede dat ons hierdie gesprek in ons ruimte verwelkom het – my hoop is dat kerke regoor die land hul ruimtes sal oopmaak as plekke van ontmoeting en diep luister.

Die naweek se konferensie het daarom ‘n dokument saamgestel wat ons verder wil help met die “hoe doen ons restitusie vraag” Dit stel konkrete aksies en tydsraamwerke voor, dit vra vir simboliese gebruike en fisiese en daadwerklike aksies, op die gebiede van onderwys, stadsbeplanning, oudits, nuwe ekonomiese konsensus ensomeer. Die dokument word tans gefinaliseer en sal dan versprei word aan vennote, geloofsgemeenskappe, instansies en politici.

Die woorde van Canon James Arthur Calata (oupagrootjie van Lukhanyo) wat hy in 1960 in ‘n preek in Port Elizabeth gespreek het, ego vandag net so duidelik en relevant … We must allow Jesus to “set our minds in a new rhythm and stir up our hearts to the necessary passion of sacrificial creativeness”.

Riaan de Villiers
riaan@grootekerk.org.za

12 September 2018