Here, die ou geskiedenis herinner ons daaraan
dat U nooit u kinders rigtingloos laat ronddwaal nie.
U lewer hulle nooit uit aan ‘n vreemde wildernis nie;
ook die barre woestyn dra die tekens van u verkenning.

Dit is ons grootste troos, Here, dat ons nie aan onsself
oorgelaat word nie; ons word deur U aan die hand gelei.
Ons het ‘n helder lig wat ons voorgaan op spore
wat reeds deur U, tussen duwweltjies deur, getrap is.

U berei vir ons die weg, dit glo ons – en of dit nou
‘n bloudruk is soos sommige oortuig is, of
‘n onseker kronkelgang tussen struikelblokke deur,
hiéroor is ons seker: Ons gee geen tree sonder U.

Dankie vir die horde voorbereidings wat U tref;
vir die noukeurige aandag aan besonderhede.
Vir ons bagasie wat deur U gedra word
en die oorvloed padkos vir die reis.
Dankie vir die liefde, die bederf,
al die mooi dinge wat U gee,
die medereisigers se sorg,
die goeie geselskap,
die lekker lag,
die krag.

En dankie vir u genade wat vir ons genoeg is
om ons oog op die bestemming te kan hou.
En dankie ook, Here, vir die vreugde
wat ons aan die reis kan hê. Ons lewe nie
net vir “eendag” nie, maar ook vir nou,
vir hiér, waar ons is.

Ons kry moed uit u voorsiening in die verlede,
tot op hede, en bou op daardie trou ons toekoms.
Waarlik, U dink aan alles, én sorg daarvoor.
U maak ons gereed vir die lewe,
en die lewe gereed vir ons.

– Barend Vos (Die ewigheid in my hart, Lux Verbi 2015)