12 Junie 2017

Beste kollegas

‘n Mens kry die gevoel dat die legkaart van die nuwe Suid-Afrikaanse samelewing van die tafel af geval het en in stukke op die vloer versprei lê. Talle stemme wil ons laat glo dat hierdie legkaart nie weer herbou kan word nie. Die psige van ons land se mense word oorheers deur die ontstellende morele bankrotskap, politieke onstabiliteit en ekonomiese agteruitgang. Voeg daarby die ooglopende gebrek aan versoenende leierskap, die onvermoë om ongeregtigheid uit te wis, die groeiende kloof tussen arm en ryk, eskalerende rassisme, ongebreidelde populistiese uitsprake, wetteloosheid en geweld, en jy het begrip vir die heersende klimaat van angs en onsekerheid. Mense voel dat die basiese voorreg om sonder vrees te leef van hulle weggeneem is. Dit ontwrig mense diep en plaas hulle eie toekoms en dié van hulle kinders in die weegskaal.

Te midde hiervan het die moderatuur ‘n ander storie gehoor tydens die streeksbyeenkomste wat die afgelope maand deur die sinodale gebied gehou is. Ongeveer 450 mense het altesaam die ses byeenkomste bygewoon. Wat ‘n opbeurende en hoopgewende ervaring was dit nie! Te midde van die brose plek waarin ons land tans verkeer, is dit duidelik dat gemeentes opnuut nadink oor die kerk se identiteit en roeping in die plaaslike konteks. Gemeenteleiers omhels die evangelie met die oortuiging dat God alleen ons land uit die moeras kan optrek.

Dit is asof die benarde situasie in die land ‘n hernude geestelike verdieping by lidmate meebring. Oral word vertel van ‘n oplewing in gebedsbyeenkomste en geloofsverdieping. Mense het ‘n behoefte om dieper met God te konnekteer en verootmoedig voor Hom te leef. Daar is talle getuienisse van hoe God mense en gemeentes in hulle ontwrigting verander en op nuwe roetes neem. Op die platteland is daar die mooiste voorbeelde van waar hierdie ontwrigting verbeelding losgemaak het en mense besef het dat God besig is om iets groots te doen.

Daar is ‘n groeiende missionale bewussyn by gemeentes. Die talle voorbeelde van versoenende aksies oor grense heen – samewerking met onwaarskynlike vennote, projekte om armoede uit te wis en geregtigheid te bevorder, multikulturele gemeentes, gasvryheid teenoor vreemdelinge, interkerklike samewerking en kerkeenheid op plaaslike vlak – illustreer dit. Kortom, dit is duidelik dat die NG Kerk nie meer ‘n regerende kerk is nie, maar ‘n dienende kerk wat die Heilige Gees toelaat om die kerk op reis te neem na plekke waar hy ‘n versoenende en helende rol kan speel in verskeurde en ontwrigte gemeenskappe.

Dit is ooglopend duidelik dat die waardes van die Belydenis van Belhar, naamlik versoening, geregtigheid en eenheid, alreeds diep deel is van die DNS van die NG Kerk. Lidmate leef daagliks die inhoud van die Belydenis van Belhar uit, bloot omdat hulle gehoorsame volgelinge van Jesus Christus is. Die Heilige Gees beweeg gemeentes om die Koninkryk van God verbeeldingryk te laat kom. En gemeenteleiers besef dat die kerk se rol in die gemeenskap onherroeplik verander het van ‘n regerende kerk na ‘n dienende kerk.

Dit bring die moderatuur by die oortuiging dat die tyd nóú, meer as ooit tevore, aangebreek het vir die NG Kerk om die Belydenis van Belhar as ‘n belydenis te bely. In die huidige konteks van ons land is die kerk ideaal geposisioneer om ‘n platform te wees waar onwaarskynlike gespreksgenote mekaar ontmoet. Die NG Kerk het die Belydenis van Belhar nou dringend nodig as ons enigsins ‘n geloofwaardige gespreksgenoot in die Suid-Afrikaanse konteks wil wees.

Die moderatuur het onlangs ook ‘n byeenkoms vir jong predikante gehou. Die oogmerk was om vanuit ons historiese wortels saam te droom oor ons rol as geestelike leiers in Suid-Afrika. Na ‘n besoek aan die Groote Kerk het ons op Robbeneiland in die tronk oornag. Wat ‘n vars en informerende belewenis was dit nie! Daar is tyd spandeer aan ernstige nadenke en diep gesprekke. Om stories te hoor wat ons eie opvattings uitdaag, verruim en verryk is absoluut transformerend. Nuwe insigte is gedeel terwyl ‘n blik op die pyn van die verlede ons erg ontwrig het. Maar dit het ons uitgedaag en gehelp om as kinders van Afrika ons identiteit helder uit te klaar en ons Goddelike roeping in hierdie land beter te verstaan. Hierdie jong predikante se verbintenis aan God, die geartikuleerdheid waarmee hulle oor hulle roeping praat, die betekenisvolle leiding wat hulle in gemeenskappe neem, asook hul vermoë om brûe te bou oor ras- en kultuurgrense heen, het alreeds ‘n groot impak.

‘n Tweede groep waarna die moderatuur uitgereik het, is die nuwe predikante wat sedert die 2015-sinode in gemeentes in die sinodale streek bevestig is – veral leraars uit ander sinodes. Hulle is verwelkom en blootgestel aan die leiers, personeel en werksaamhede van die sinode.

Ná die streeksbyeenkomste en verskeie interaksies met predikante en kerkraadslede is een van die oorheersende reaksies by die moderatuur dankbaarheid teenoor die Here vir die gawe van dominees en gemeenteleiers wat Hy vir die kerk gegee het, asook vir die wonderlike werk wat hulle as geestelike leiers in gemeentes en gemeenskappe doen.

Laat ons mekaar daaraan herinner dat die kerk steeds die plek is waar mense vir God kan ontmoet, waar mense hulp en sorg kan kry, en dat dit die oorwegende persepsie van gemeenskappe is, selfs al is hulle nie verbonde aan die kerk nie. Daar is steeds die verwagting dat die kerk en sy mense, as agente van God, ‘n verskil in elke dorp maak.

Teen die agtergrond van die gevoel van magteloosheid oor die benarde situasie in die land, het een van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se leiers onlangs gesê: “We have been at a place before where we have nowhere to go, and we went to God and put our trust in God”. Dit is waar die mense in Suid-Afrika nou is. Terug na God toe. Die mag is nie by die maghebbers nie. Dit is by God. Hy sal die stukke van die legkaart een vir een optel en ‘n splinternuwe prentjie bou. Dit is wat ons glo en dit is wat ons bely.

Ten slotte: Enorme skade is aangerig deur verwoestende natuurrampe wat dele van die Wes-Kaap en die Suid-Kaap getref het. Ons gedagtes is by elkeen wat in die storms en brande erg ontwrig is. Die trauma waaraan duisende mense blootgestel is, vra vir ons ernstige voorbidding.

Die Sinode van Wes-Kaapland het ‘n rampfonds in die lewe geroep. Gemeentes en lidmate kan ‘n finansiële bydrae maak wat spesifiek vir hierdie doel aangewend sal word. Ons is dankbaar vir verskillende gemeentes (in ons eie sinode, sowel as elders) wat meeleef met diegene wat ontwrig en ontheem is. So bou ons as dienende kerk saam aan die legkaart van God se nuwe wêreld.

Die seën van die Here word u toegebid.

 

Charl Stander
Namens die moderatuur

skriba@kaapkerk.co.za

 

Sinode van Wes-Kaapland, Privaat sak X8, Bellville 7535

Hierdie skrywe is ook as pdf-dokument beskikbaar: klik hier.