Vanjaar was dit anders…

Dit was vanjaar anders by die sinode. Aanvanklik was dit moeilik om presies te sê wat anders is, maar algaande het  dit duidelik geword: Daar is ’n deurlopende bewustheid van die teenwoordigheid van God, meer as voorheen.

Ons het die afgelope jare baie meer tyd as vantevore afgestaan daaraan om aan die begin van elke dag voor die Here stil te word. Dit het beslis ’n impak gehad op die gang van sake wanneer ons daarna die sakelys gepak het. Om ’n vergadering met skriflesing en ’n gebed to begin (soos in die ou dae) of selfs met ’n uitgebreide wandel in die Woord, waarborg natuurlik nie dat wat daarop volg ’n opregte soeke na die Here se wil gaan wees nie. Iemand het jare gelede vir my gesê dit lyk vir hom asof ons na die skriflesing en gebed die Here verskoon sodat ons dinge onder mekaar kan uitstoei sonder dat Hy inmeng. Dit is natuurlik ’n baie kras en oordrewe stelling, maar daar was destyds vir my genoeg waarheid daarin om pynlik te wees.

Maar vanjaar was dit anders – meer nog as die afgelope jare. Die oggendsessies was korter as voorheen en ek het aanvanklik gevrees dat ons minder waarde daaraan begin heg om voor die Here te buig voor die sakelys aan die orde kom. En toe raak die nuwe aanpak sigbaar. Die lang oggendsessie van sang, bybelstudie en gebed is opgebreek in kleiner momente wat versprei is deur die hele dag – hier ’n gebed, daar ’n paar liedere, dan weer ’n oomblik van stilword voor ons Here. En so word die sinode toe ’n liturgie, ’n vyfdag lange erediens. En so is ons deurlopend bewus gehou van die Here se wonderlike teenwoordigheid.

Vanjaar was dit anders…

 

Breda Ludik
NG Helderberg

breda@helderberg.co.za
Mei 2019