Martin Barnard van NG Vishoek skryf soos volg oor hulle uitreik gedurende die afgelope skoolvakansie:

Ons gemeente was vanaf 15-22 Junie betrokke in Sutherland. Ons is ʼn span van 62 wat verdeel is in ʼn Onderhoudspan, Seniorbedieningspan, Ontwerpspan asook ʼn Volwasse- en Jeugspan.

Die Onderhoudspan fokus by die skole op opleiding in die gebruik van hul IT sentrums. Ons vervang toiletspoelbakke van 12liter na 6 liter. Daarmee saam fokus ons op die Hoër- en Laerskool se voedingskema kombuise. Ons installeer dubbelwasbakke, oond en warmwatersilinders met die behulp van ons loodgieter. Verder word onderhoudswerk gedoen by die Hoërskool en die Ouetehuis. Ons kon ook ʼn rolstoelvriendelike oprit bou by die ouetehuis en geute wat lek word herstel. Van die “Facia boards” by Johenco ouetehuis word ook herstel en daar is aan die werk gespring met die verf van die buitemure van Johenco. By die VGK is die kerkorrel herstel, krag en bedrading is uitgesorteer asook toilette en plafonne herstel. Die Here het ook voorsien dat daar voorsien kon word in ʼn dataprojektor, skerm, rekenaars, asook ʼn toesluit kas. Saam daarmee is daar ook nuwe instrumente met in begrip van ʼn tromstel en kitaar asook ʼn klankkonsolebord geskenk waarvoor ons dankbaar is. Opleiding is ook verskaf. Hul kon ook banke vassit in die kerk.

Die Seniorbedieningspan is betrokke by Johenco ouetehuis waar hul verskeie programme aanbied en so bietjie bederf met voetmasserings.

Die Volwassespan is werksaam by die VGK waar ons maatskaplike werker fokus op die  “Circle of Courage” naamlik “Belonging, Mastering, Independence en Genorosity.” Daar word ook in die middae saam gekuier, gebid en waar nood is word voedselpakkies, klere en beddegoed in samewerking met die gemeenskap se Ontwikkelingswerker uitgedeel. Daar is ook 30 vroue wat na die sessie by die VGK heerlik saam kuier en saam brei.  Na gesprekke met die VGK se Kerkraad vroeër in die jaar was die behoefte uitgespreek dat ons ook in die week ʼn Pa/Seun en Ma/Dogter aand sal hou en fokus op verhoudings met mekaar asook met ʼn praatjie oor afhanklikheid. Die Here het ook voorsien dat ons ʼn Sielkundige kon saambring en sy en die Maatskaplike werker kon hierdie sake uiters effektief hanteer. Die vroue van Sutherland word ook bederf om vir een oggend net terug te sit en te ontspan met ʼn “Bederftee” waar die vroue ʼn massering ontvang, asook ʼn manikuur en ʼn heerlike koppie tee en verversings.

Die Ontwerpspan bring kleur en lig na die gemeenskap. Hierdie jaar is hul veral betrokke by die mooimaak van die Hoërskool hoof se kantoor.

Die Jeugspan werk met die kinders en die jeug van Sutherland. Hier sing ons saam, gesels in groepe saam met tematiese onderwerpe. Pryse word uitgedeel, sop word voorsien. In die middae is daar Poppekas en daarna word sport gespeel. Ons hou ook ʼn “Sutherland het Talent” aand wat altyd groot aftrek kry asook ‘n Jeug lofprysingsaand.

Ons Facebookblad het baie videos: @ngvishoek.

 

Martin Barnard
martin@ngvishoek.co.za

www.ngvishoek.co.za

Belangstellendes kan by hierdie drie skakels die nuusbriewe lees wat gedurende die uitreik uitgestuur is:
Nuusbrief 1
Nuusbrief 2
Nuusbrief 3