Die 100ste bestaansjaar van die NG Gemeente Volmoed in die distrik Oudtshoorn is die verlede naweek op luisterryke wyse gevier. Hulle laat weet: “Die hoeksteen van die kerk was reeds in 1910 gelê en die kerk is in 1911 amptelik as ‘n wyk van die NG Kerk Oudtshoorn ingewy. Gedurende 1921 het die kerkraad van die NG Gemeente Oudtshoorn uiteindelik toegestem dat die Armoedwyk kon afstig en op 29 November 1921 het die NG Gemeente van Volmoed tot stand gekom.” Lees meer oor die feesnaweek hier.

Die verrigtinge het Vrydagaand met ‘n orrel- en musiekuitvoering in die pragtige sandsteenkerk afgeskop. Die gehoor is deur die wonderlikste klanke van klavier, saag, fluit en sang bekoor, terwyl die orrelspel vir omkrultoonlekkerte gesorg het. Na ‘n nag waarin die omgewing met broodnodige reën geseën is, het ‘n lieflike Saterdag aangebreek. Perfek vir ‘n vroegoggend Bybelstap, ‘n heerlike vleisbasaar, die weersiens van ou bekendes, kuier en klets om tafels met allerlei lekkernye om aan te smul en watertandlekker wegneemetes.  

Veels te gou het Sondag se nagmaal- en dankdiens aangebreek. Baie oudlidmate het die diens bygewoon en ‘n mens kon werklik God se teenwoordigheid ervaar. Na beraming was daar ongeveer 120 mense in die kerk – soveel so dat daar met die bediening van die wyn, nie genoeg kelkies was nie en die kerkraad omtrent moes rondskarrel om nog ‘n paar leë kelkies te vind. Na afloop van die diens is almal na buite waar ‘n klipleggingseremonie gehou is. Elke persoon moes ‘n klip saambring en by ‘n geplante kruis plaas. ‘n Altaar sal van hierdie klippe gebou word om die 100 jaar feesvieringe te gedenk. Wat ‘n wonderlike wyse om die besonderse naweek mee af te sluit.

Baie dankie aan Louis Jordaan vir die samestelling van die kerkgeskiedenis en aan elke liewe persoon wat ‘n bydrae gelewer het om van hierdie naweek ‘n sukses te kon maak.”