Die skriba van Vredendal, Dolly van Niekerk, skryf so oor Jan Fourie se weggaan by die gemeente:

“Gemeente Outeniqualand is ‘n mense mens – ‘n leraar met ‘n hart ryker, waar Vredendalgemeente ‘n geliefde leraar armer raak.

Ds Jan Fourie se afskeidspreek was 27 Januarie 2019, na tien jaar op Vredendal, om terug te keer na die plek waar sy oupa voorheen geboer het.

Hy is getroud met Karien, ‘n onderwyseres van beroep.  Hulle het twee kinders.  Henk is tans hoofseun in matriek by die Hoërskool Vredendal.  Hy gaan eers agterbly om sy matriekjaar en verpligtinge klaar te maak, maar Melani wat in Gr 10 is, gaan reeds hierdie jaar op George begin.

Ds Jan gaan ‘n groot leemte laat in ons gemeente en ons harte.  Hy is passievol oor die kinders en het elke jaar saam met die laerskoolkinders gaan kamp by die see en die tieners #Imagine kamp toe vergesel.  Hy is altyd gereed met ‘n innemende glimlag en ‘n vriendelike woord.  Hy het ‘n diep liefde vir sy hemelse Vader en sy lewe wys dit ook.

Mag hy en sy gesin ‘n holte vir hul voete vind in die gemeenskap van Outeniqualand.  Mag goedheid en guns met hulle wees tot in lengte van dae.”