Aan die begin van ’n langverwagte sabbatsverlof, lees ek Tutu as I know him, ’n versameling persoonlike gedagtes oor biskop Tutu wat my terugneem na ’n blootstellingstoer na die noorde (1985?).

Een van die “gevaarlike” besoeke (daar was sprake dat ons deur die “owerhede “ dopgehou is) was aan biskop Tutu. As hoogs idealistiese student, wat gedink het ek is taamlik verlig, wou ek weet hoe hy ekonomiese sanksies kon regverdig; dit sou tog “sy mense”, wat reeds swaar kry, die seerste maak. Wat my altyd sal bybly, is nie sy antwoord nie, maar die saam bid en sy eindelose geduld, respek, nederigheid en styl, wat my weer en weer laat dink het.

Dankie Vader vir die gawe van die Tutu’s in my lewe, en die Coenies en Dirkies, Danies, Hendriks, Mari-Louise’e, Hanse, Basils, Harisse, Mathildas, Elize’e, Malcolms ens. Ook die Theo’s wat my ontwrig wanneer hulle sê: “Julle van die NG Kerk het apartheid help implementeer; julle is in die beste posisie om die versoening en restitusie in die land te laat gebeur.”

Hulle wat my wéér laat dink het; oor myself, die wêreld, God, die lewe. O ja, en dankie vir die St. 9-maat (sy naam ontgaan my) wat vir my die spreuk gegee het: “Would the boy you were, be proud of the man you have become?”

Mag ek tog ook iewers vir iemand so goed wees!

GP Kellermann
NG Gemeente Worcester-Audenberg
gpkellermann@gmail.com

8 Oktober 2018