Die teks is ook hier:

Hier is ons, Here, die alle getroues wat vrolik

en vol vreugde in die gees nou na Betlehem toe kom.

Ons is op pad om hulde te bring, om ons sinisme ’n feesseisoen

lank op te skort en sing-sing ons naïwiteit te probeer herwin.

Om soos laas jaar dié tyd nootvas by die engelekoor in te val.

 

Bring ons vanjaar tog gou by die ope velde, Here,

tot by die grootoog herders en die ander wat opkyk

na die sterre waar hulle hulp vandaan kom.

 

En wanneer ons mekaar, geskenkies in die hand, tot by die krip vergesel,

leer ons om anderkant die blink boom en verby moedverloor se vlakte te kyk

en die fraai klein Immanuel hier bý ons te sien –

Hy wat so glimlag wanneer ons stamelend sê:

Liewe Kersfees-Jesus, sag en teer,

sien op ons, die kleintjies, neer.

Leer ons om tot U te bid,

neem ons lewe in besit.