“Waar is die ander nege?” Die kuns van dankie sê

👤 Wilmi Wheeler

Ek dink dikwels aan daardie een man in Lukas 17. In hierdie teksgedeelte word tien mense genees van melaatsheid. Dis ’n groot oomblik, veral as mens dink hoe melaatses uitgestoot was uit die samelewing. Maar uit die tien, is daar net een wat teruggedraai het om Jesus te eer dat Hy hom genees het.

Jesus vra nogal: “Was daar nie tien nie? Waar is die ander nege dan?”

Dis ’n vraag wat deur vandag net so hard weerklink soos daardie tyd. Nie as ’n klag nie, maar as ’n uitnodiging.

Want as ons regtig eerlik is met onsself, leef baie van ons soos die nege. Ons is op pad vorentoe, gesond, geseënd, besig en vergeet soms om eers te draai en te kyk waar die seën vandaan kom. Dankbaarheid raak iets wat ons doen ná ete (“Dankie vir die kos, Ma!”) of na ’n verjaarsdaggeskenk (“Baie dankie vir die trui, ouma!”). Dis mooi maniere, maar dis nie al wat dit is nie.

In Lukas 17 wys Jesus dat dankbaarheid eintlik ’n geloofsdaad is. Die een man wat terugdraai, hoor Jesus sê: “Jou geloof het jou gered.” Nie: “Jou beleefdheid nie.” Nie: “Jou goeie maniere nie.” Geloof.

Dankbaarheid is dus nie net om te erken wat jy ontvang het nie, maar om te besef van Wie jy dit ontvang het.

Ek dink dis hoekom dankbaarheid so teenkultureel voel in ons tyd. Ons leef in ’n wêreld waar jy “self-made” moet wees. Alles moet gaan oor: “ek het hard gewerk,” “ek verdien dit,” “ek het dit gemaak.” Om dankie te sê, is amper ’n belydenis van afhanklikheid en dis iets waarmee ons sukkel. Dis makliker om te sê: “Ek het dit onder beheer,” as om te erken: “Ek leef van genade.”

Dis dalk hoekom Jesus juis hierdie oomblik gebruik het om oor geloof te leer. Hy wys: ware geloof is nie net om te vra nie, maar om terug te kom na Hom toe. Om stil te staan. Om weer te kyk na die Een wat gee eerder as net die geskenk.

Ek moet bieg, ek’s self soveel keer in die “ander nege”-span. Ek kry iets reg, iets mooi gebeur, ek voel verlig… and off I go! My to-do lys wag mos. Ek maak nie altyd tyd vir daardie heilige oomblik van terugdraai nie. Maar elke keer as ek wél doen, voel ek iets skuif in my. Dis asof die wêreld se kleur helderder raak, soos daardie een filter waar die saturation of vibrance heeltemal te hoog is.

Want dis wat dankbaarheid doen: dit skuif jou perspektief van tekort na oorvloed. Van “ek’s alleen” na “ek’s gedra.”

Ek dink Jesus glimlag elke keer as iemand vandag nog omdraai om vir Hom dankie te sê. Wanneer iemand, êrens tussen al die chaos van ’n werksdag, fluister: “Dankie, Here.” Wanneer ’n kind vir die eerste keer self bid. Wanneer iemand vir ’n barista sê: “Dis regtig goeie koffie.” Wanneer jou trollie vol kruideniersware is en jy besef: “Ek’t niks hiervan self gemaak nie.”

Dankbaarheid laat ons leef met oop hande eerder as stywe vuiste. En dis dalk die grootste genesing van almal, nie net van liggaam nie, maar van siel.

So, dalk moet ons vandag weer luister na daardie stem van Jesus wat vra: “Waar is die ander nege?” Nie sodat ons skuldig moet voel nie, maar om ons te herinner: geloof begin dikwels met ’n eenvoudige omdraai.

En dalk met ’n glimlag en ’n fluistering hemel toe: “Dankie, Here. Ek’t amper net aangestap, maar ek moes net gou terugkom.”

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: