In kort: Die NG Kerk beleid oor doop

Het jy al gewonder oor dinge soos waarom doop ons babas, en wat sê die NG Kerk oor doop? In kort: die doop is nie ‘n teken van ons eie geloof in die eerste plek nie, maar eerder ‘n teken van God se ewige belofte aan ons. Dit word ook die verbondsdoop genoem, omdat dit ‘n teken is van God se verbond (belofte) aan ons.  Die verbond is ‘n belofte wat God aan Abraham duisende jare gelede gemaak het dat God belowe het om Abraham en sy nageslag se God te wees.

Vandag vier ons die genade dat ons ook hierdie belofte van God af ontvang, want deur Jesus is ons elkeen ook nou deel van God se verbondsfamilie. Die doop is nie iets wat ons verdien nie, maar ‘n viering van die geskenk wat ons van God af kry. Die doopformulier som dit pragtig op. 

Die doop is ‘n uitreik van God af na ons toe, en ons antwoord hierop met belydenis van geloof. Om belydenis van geloof af te lê, is ‘n geleentheid vir ons om tussen ander gelowiges wat vir ons omgee te antwoord op ons doop. Ons doen dit onder andere gereeld op Sondae ook met die sê van die Apostoliese Geloofsbelydenis. 

'n Foto van 'n doopbak. Hierdie artikel vra onder andere "waarom doop ons babas?".

Delf Dieper: NG Kerk doop beleid

Niks het al meer onenigheid in protestantse kerk veroorsaak en kerke van mekaar laat skeur as die doop nie. Dit is baie hartseer en ironies, want deur die doop word ons juis deelgemaak van die één liggaam van Christus.

Mense wat soms baie ernstig is oor die doop, en veral dat jy gedoop moet word soos wat daar in hulle kerk gedoop word, verraai eintlik die doop, want hulle verdeel en verskeur die eenheid van die kerk, die eenheid van Christus se liggaam, waarvan die doop juis ‘n teken is.

In ‘n poging om die verdeeldheid tussen kerke te oorkom, is daar in die 1980’s ‘n groot studie geloods onder verskillende kerke. Hulle het gekyk wat al die verskillende kerke glo oor die drie sake wat kerke die meeste verdeel: die doop, die nagmaal en die amptenare wat die Woord en sakramente mag bedien.

Met hierdie studie wat ‘n wye verskeidenheid van kerke ingesluit het, het hulle tot die verrassende ontdekking gekom dat kerke baie meer ooreenstem as wat hulle verskil oor hierdie sake. Die bevindings is saamgevat in ‘n dokument, genaamd Baptism, Eucharist, Ministry.

In hierdie dokument het hulle gesê dat kerke regoor die wêreld, vanuit verskillende tradisies, kerke wat ouers toelaat om hulle kinders te doop, asook kerke wat slegs volwassenes doop wat hulle geloof bely, almal saamstem dat die doop basies vyf betekenisse het:

1. Waarom doop ons babas?

Deur die doop word ons verenig met Jesus. Ons doop bind ons vas aan Jesus (dink aan die woord “verbond”, wat beteken dat jy ingebind word). Deur die doop sterwe ons saam met Jesus en staan ons op in ‘n nuwe lewe saam met Jesus.

“Maar waarom doop ons babas en hoe kan ‘n baba sterf en opstaan saam met Jesus?”, mag jy dalk wonder. Wel, hoe kan ‘n grootmens sterf en opstaan saam met Jesus? Om te sterf en op te staan saam met Jesus is nie iets wat ‘n mens kan doen nie. Dit is ‘n wonderwerk en ‘n misterie, wat slegs moontlik is deur die krag van God.

Maar ons moenie dink aan ons vereniging met Jesus, ons sterwe en opstanding saam met Jesus, as iets wat net gebeur die dag wanneer ons gedoop word nie. Dit is ‘n lewenslange gebeurtenis.

Daarom moet ons elke oggend opnuut opstaan saam met Jesus. Daarom vier ons ook elke Paasfees ons eie sterwe en opstanding saam met Jesus.

2. Vasgebind aan die kerk 

Omdat ons vasgebind is aan Jesus, is ons ook vasgebind aan die kerk, Jesus se liggaam. Ons is een met sy liggaam.

Daarom is dit so belangrik dat ons ook ander kerke se maniere van doop sal respekteer, al verskil dit bietjie van die manier waarop ons doop. Die belangrikste is nie die manier waarop ons doop nie. Die belangrikste is die feit dat ons almal deel is van die één liggaam van Christus deur ons één doop.

Daar is nie verskillende dope nie. Daar is nie grootdoop en kleindoop, belydenisdoop en verbondsdoop, doop met water en doop met die Heilige Gees nie. Paulus het al destyds gesê dat dit ‘n onding is as mense stry oor ‘n “Paulus se doop” of “Petrus se doop”.

Daar is slegs die één doop in die naam van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees, waardeur ons deelgemaak word van die één liggaam van Christus.

Daarom is die doop ook onherhaalbaar. Jy kan nie weer gedoop word nie. Want as jy een keer saam met Jesus gesterf het en opgestaan is, dan is jy deel van sy liggaam wat regoor die wêreld en dwarsdeur die eeue strek.

Enige persoon of kerk wat vir jou sê dat jy weer gedoop moet word, verloën die doop en verloën die één liggaam van Christus.

3. Gevul met die Heilige Gees

Daar is twee gevare as dit kom by die verhouding tussen die doop en die Heilige Gees.

Die een gevaar is dat ons kan dink dat die Heilge Gees outomaties gegee word vir almal wat gedoop word. Maar die Heilige Gees werk egter nie so meganies soos ‘n masjien nie.

Jesus het gesê dat die Gees waai soos die wind: Jy weet nie waar die wind vandaan kom of waarheen hy waai nie. Ons kan nie met ons dooppraktyke die werking van die Gees beheer of manipuleer nie.

Maar die ander gevaar is dat ons kan dink dat die doop en die Heilige Gees niks met mekaar te doen het nie, terwyl die doop en die Heilige Gees ten nouste saamwerk in die Bybel.

Somtyds word mense gedoop en dan ontvang hulle die Heilige Gees. Ander kere ontvang hulle die Heilige Gees en dan word hulle gedoop. Die volgorde en presiese wisselwerking tussen die doop en die Heilige Gees is nie in yster gegiet nie. Maar telkens sien ons dat die twee saam werk.

Gedooptes leef met die belofte dat die Heilige Gees ons die krag sal gee om getuies te wees van God se koninkryk, van Christus se koningsheerskappy, as ons bid en daarvoor vra.

Gedooptes leef met die versekering dat wanneer ookal ons tekort skiet in geloof, hoop of liefde, kan ons vra vir die Heilige Gees om dit aan ons te skenk.

Nog meer, selfs wanneer ons nie meer kan bid nie, sal die Heilige Gees namens ons bid.

4. Geroep tot ‘n nuwe lewe

Omdat ons vasgebind is aan Jesus en aan sy liggaam, die kerk, en omdat die Heilige Gees kragtig in ons werk, word gedooptes voortdurend opgeroep om tot bekering te kom, ons sondes te bely en ‘n nuwe lewe in Christus te lei.

In die vroeë kerk is mense net op Paassondag gedoop. En as daar iemand gedoop is, dan het die hele kerk opgestaan, na die Weste gekyk (waar die son sak en wat daarom die simbool was van donkerte en die bose) en gesê: “Ons verwerp die bose! Ons bely ons sonde met berou!”

En dan het hulle gedraai na die Ooste (waar die son opkom en wat daarom die simbool was van Christus se opstanding) en gesê: “Ons draai na Christus toe! Ons het saam met Christus gesterf! Ons het saam met Christus opgestaan!”

Elke Paassondag, elke doop en elke nagmaal in die kerk, is dus eintlik ‘n geleentheid waar ons almal wat gedoop is weer opgeroep word om opnuut tot bekering te kom, om ons rug te draai op die bose, om ons sonde te bely, om na Christus toe te draai, om te sterf vir ons ou lewe en om op te staan in ‘n nuwe lewe saam met Christus.

Bekering en sondebelydenis is nie iets wat net een keer in ons lewe gebeur nie. Ons word voortdurend opgeroep om ‘n nuwe in Christus te lei.

En dit sluit verskillende terreine van ons lewe in. Martin Luther het gesê dat ‘n gedoopte se beursie is gewoonlik die laaste ding wat tot bekering moet kom, want dit is die moeilikste bekering.

In elke fasset van ons lewe, op elke terrein van ons werk, in al ons verhoudings, is daar aanmekaar nuwe bekerings en nuwe sondebelydenisse waartoe die Heilige Gees ons in genade bring.

5. In diens van die Koning

Omdat ons gesterf het saam met Christus en opgestaan het saam met Christus, leef ons nie meer vir onsself en vir ons eie oorlewing nie, maar ons lewe vir Christus en vir die koms van God se nuwe wêreld.

Gedooptes bekommer ons nie meer oor wat ons moet eet of drink of aantrek nie, maar ons soek allereers God se koninkryk en geregtigheid.

Toe ons gedoop is, het ons reeds gesterf vir ons eie belange en nou lewe ons vir Christus en vir die wêreld waarvoor Christus gesterf het.

Gedooptes lewe met hoop en getuig van die hoop wat in ons is. Want al is God se nuwe wêreld nog nie volledig hier op aarde nie, is ons reeds burgers van daardie nuwe wêreld deur ons doop.

Deur die doop is die saadjie van God se toekoms reeds in ons harte geplant, sodat ons nou met vreugde en moed kan lewe, ten spyte van al die donker en hartseer rondom ons.

God gaan eendag die hele aarde nuut en heel maak. Deur die doop begin die Heilige Gees nou reeds om daardie herskeppingswerk in my en jou te doen, en so maak Christus ons medewerkers van God se nuwe wêreld wat op pad is.

Lees: Genesis 17:3-8