Tydens ’n onlangse gesprek tussen verteenwoordigers van die media, (Lukhanyo Calata, Henry Jeffreys en Max du Preez, foto bo) en verteenwoordigers van verskillende kerke by die Western Cape Ecumenical Network (WCEN, met Mbulelo Bikwani links bo op die foto)  het laasgenoemde onder andere aangevoer dat daar ’n reuse-verantwoordelikheid op kerkleiers rus om hul lidmate na behore en holisties oor die gronddebat in te lig. Dit is getweet en feitlik onmiddellik deur aartsbiskop Thabo Makgoba ondersteun. In die onderstaande paragrawe gee Braam Hanekom ’n paar eenvoudige perspektiewe oor wat moontlik vir gemeentes en lidmate van waarde kan wees.

Wat behoort die kerk oor die gronddebat te sê?

Inleiding

Laat ons dit eers duidelik stel. Suid-Afrika staar tans ’n baie uitdagende en selfs ’n moontlike rampspoedige ekonomiese scenario in die gesig. Voetfoute word gemaak wat ons nog baie duur kan kos. Dit sal dringende aandag moet kry. Terselfdertyd is daar internasionale verwikkelinge waaroor ons min beheer het. Wat hierop volg, wil geensins naïef teenoor hierdie werklikhede staan nie. Daar word egter dikwels van leierskap gevra om meer as een uitdaging op ’n keer te hanteer. Tans is dit nie anders nie. Ons ekonomiese uitdagings én die noodsaak vir grondhervorming staan nie teenoor mekaar nie. Dit is nie ’n of – of geval nie, maar beslis ’n geval van én – én.

  1. Die kerk behoort altyd as kerk, gerig vanuit die Skrif te praat

Die gronddebat is ’n veelkantige saak met besliste sosio-ekonomiese en politieke dimensies. Tog kan en moet gelowiges dit ook deur ’n geloofsbril te kyk. Verskeie pogings is al deur die kerk aangewend om ’n geloofsperspektief te gee. (Sien vorige sinodebesluite en uitsprake). Tog voeg ons die volgende ter wille van helderheid en eenvoud by.

Beide die OT en NT praat baie en soms radikaal oor grond en besittings. Feitlik al hierdie uitsprake is daarop gerig om armoede en ongelykheid te beveg en BALANS in die gemeenskap en samelewing te bring. Terwyl eiendomsreg ter sprake kom, praat die Bybel net so veel en eintlik meer oor rentmeesterskap. Hoe bestuur ons God se besittings en gawes ten behoewe van die hele gemeenskap?

Die Bybel is glashelder oor begrippe soos waarheid, geregtigheid en eenheid en versoening. Dit het konkrete implikasies vir die saak onder bespreking. In onlangse toesprake oor die kwessie het hoofregter Mogoeng Mogoeng herhaaldelik daarop gewys dat grondhervorming ten beste in eenheid sal slaag. Dit bly ook ’n uitdaging vir die kerk.

Uit eie ervaring word die “teologie” wat ons beoefen baie dikwels gekleur deur die konteks waarin ons dit beoefen. Daarom bly dit ’n belangrike beginsel dat die (NG) kerk nie net in eie eksklusiewe geledere hieroor kan praat nie. Ons moet na ander luister. Die Western Cape Ecumenical Network het dan ook presies dit gedoen en ’n dokument oor restitusie die lig laat sien waar meer kerke en Christene van verskillende agtergrond saam kon praat. Die dokument en ook ander kan by die kantoor (Sentrum vir Publieke Getuienis) aangevra word.

  1. Moenie ons almal se uitdaging op die rekening van die boere alleen plaas nie

Daar is ’n verskil tussen barmhartigheid (“charity”) en restitusie, maar ook tussen restitusie en grondhervorming. Grondhervorming is deel van restitusie, maar restitusie strek veel wyer. Deur die gesprek tot boere en plase te verskraal, plaas ons onbedoeld die volle uitdaging op die rekening van die boere. Kerke doen dit en die media doen dit. Ons behoort verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar om die gesprek wyer te voer. As almal saamwerk, is oplossings dalk meer haalbaar as wat ons besef. Deur ’n paar boere alleen verantwoordelik te maak om die geskiedenis te probeer regstel, kan net op moeilikheid uitloop.

Daarom behoort die kerk en ook plaaslike gemeentes die gesprek oor restitusie, waarom dit nodig is en wat prakties gedoen kan word, nou te voer.

  1. Verstaan die geskiedenis en verstaan bevoorregting

Deel van ons verantwoordelikheid is om aan ons lidmate te verduidelik waar die gesprek vandaan kom. Dit het ’n politieke speelbal geword, maar strek beslis verder as dit.

Die gesprek vind inderdaad plaas teen die agtergrond van ’n lang en komplekse geskiedenis. Die konteks van ons dag en die vergrype wat nou plaasvind, moet ook verstaan en aangespreek word. In kort is daar egter een feit wat ons nie kan wegredeneer nie en wat hanteer moet word.

Vir baie dekades en volgens wet (Land Act 1913) kon 80% van ons bevolking net grond aankoop en besit in ’n baie baie klein deeltjie van SA. Neem ons die trustgronde in staatsbesit weg, dan wonder ’n mens of die grootste deel van ons bevolking toegang tot 5% van hul land gehad het. Dit het sedert 1994 verander, maar in feite was die hele land toe “opgekoop”. Eiendomswaarde het na 1994 verder gestyg, ook wat plaaseiendom betref, soveel so dat grond nie meer “uitgeboer” kon word nie. Jy moes reeds groot kapitaal agter jou gehad het om te kon boer. Die huidige verlaging in pryse kan meer mense weer toegang tot grond gee.

Verder moet ons nie die omvang van wit bevoorregting onderskat nie. Ons het dit veral deur twee kanale gekry. Die gehalte van ons onderwys en die erflatings van vorige geslagte. Natuurlik is daar uitsonderings van mense wat met niks begin het nie. Die toegang tot netwerke van bevoorregting en kennisse wat bevoorreg is, moet egter nie onderskat word nie. Dit is half ironies dat van die grootste geld wat ook witmense na 1994 gemaak het, in eiendomsontwikkeling was.

  1. Moenie alleen oor die saak probeer praat nie en skep veilige ruimtes vir gesprek

Hierdie punt is half vanselfsprekend. Dit word vir my al hoe duideliker dat daar verskillende, eensydige en soms verdraaide narratiewe in verskillende gemeenskappe bestaan en dat dit die hele tyd eintlik versterk word. Dit skep aggressie en groeiende bitterheid. Ons sal in veilige ruimtes beter na mekaar moet luister. Ek weet nie of die openbare verhore oor grond ons in dié opsig gehelp het nie. Die kerk sal op plaaslike vlak moet help. Ek kan dit egter nie genoeg beklemtoon nie. Moet asb. nie alleen (net in wit gehore) daaroor probeer praat nie.

’n Waarskuwing: Dit is ’n baie emosionele saak en maak maklik gevoelens los. Dit mag mense ook ontstel, maar ons weet tog dat die gees nie net deur “goedvoel” teologie gevoed kan word nie.

  1. Bly die hoop in alles uitwys

Ten slotte moet ons mense daarop kan wys dat die regte en Godgegewe pad altyd ’n hoopvolle pad is. Ek is nie altyd seker oor die president se hantering van die saak nie, maar oor een ding is hy doodreg. Ons kan die saak nie langer onder die mat invee nie. As ons dit reg hanteer, kan dit inderdaad ’n nuwe hoofstuk vir almal in ons geskiedenis inlei.

Laat ons met moed, eerlikheid, en boweal ons geloof en God se leiding, tot die gesprek toetree.

Braam Hanekom
Kaapstad

5 September 2018

Kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202.