Ek het op 4 Januarie 2013 hier by Communitas ingestap, met bewerige bene om na amper 30 jaar van gemeentewerk as predikantsvrou en deeltydse werk as redigeerder vir verskeie uitgewers weer in ʼn voldag-“regte” werk in te stap. Ek het onder die bome gestop en daardie eerste dag met die terugstoot ʼn duik in ons Kombi se agterste buffer gestamp… skone verbouereerdheid!

Communitas het egter baie gou ʼn veilige hawe en span-werksplek geword. Eers was Coenie die PSD saam met wie ek 3 jaar gedraf het (ja, in hierdie kantoor moet jy fiks wees!) en daarna vir 3 ½ jaar saam met Frederick, wat letterlik en figuurlik ʼn kranige drawwer is! Hier het ons saamgewerk, saamgelag, en is ek in my hartseer-tye met my skoonpa se dood en my dogter en man se beroertes asook my eie brekasies toegevou in omgee-arms.

Wat my altyd sal bybly is ʼn collage van prentjies in my kop: harde werk-tye met admin en reëlings, almal wat saamstaan, hul eie werk eenkant stoot en eers inspring om te help vir ʼn konferensie of groot event. PSD kollegas wat nie onderskeid tref tussen ondersteuningspersoneel en hulself nie, wat soms vir mý koffie aandra pleks van bedien te word. Ons span se kuier-tye in ons eie lokale en op plekke soos die aarbeiplaas, ʼn deftige eetplek, of die Belgian Waffle House in die Strand – om verjaarsdae en feesdae te vier. Ons het hard gewerk en soos Bruce Theron ons geleer het, ook tyd gemaak vir “celebrate”. Vroeg-oggend kapel een oggend waar Father Ron net 5 van ons met Nagmaal bedien het een jaar tydens lydenstyd. Op en af in die Kweekskool se gange wat wemel van mense tydens geleenthede soos die Winterskool of Missionale Konferensie. Prentjies van vriendskappe wat gesmee word oor kleur-, kultuur-, kerkverband- en taalgrense heen tydens kursusse en konferensies wat my steeds telkens weer hoop gee vir ons  reënboogland. Die verligting en wow in ʼn “elektronies-gestremde”dominee se oë wanneer ons sy punte-profiel geskep kry op die web-sisteem. Die dankies na ‘n afgelope kursus van mense wat nuwe kennis kom ontvang het. Die terugtrek en stilword saam met kollegas tydens ‘n retraite.

Kosbare prentjies om saam te neem…

Nou het dit egter tyd geword vir ‘n ander seisoen… om saam met my beste vriend en man meer dinge saam te doen, om ons toere en webblad en dinge uit te bou totdat hy oor 3 jaar ook aftree en ons voltyds daarmee kan aangaan, om meer tyd te spandeer met familie en vriende.

Maar Communitas, ek gaan jou mis… dankie vir ‘n amper 7 jaar waarin ek my gawes kon uitleef in die span.