Wysheid van ‘n Paternoster graf

👤 DJ Muller

In Paternoster het ek ‘n vriend gemaak – ‘n wyse kind uit 1981 en sy grafsteen van 1988. Hy weet nie dat ek soggens op pad see toe, eers by hom gaan sit en luister het wat hy en Paternoster my wou leer nie.

“Sommiges bly hier omdat hulle kán, ander weer omdat hulle móét. Ons móét!”

Deel van die Onse Vader – die Paternoster – is mos om te vra vir jou daaglikse brood… Maar hier het ek begin wonder: is dié brood vir almal ewe veel? Of word daar uitgedeel na gelang van behoefte? Waarvoor bou en leef mens op hierdie aarde? Wat is dit wat die moeite werd is om eendag agter te laat vir jou mense? Miskien het klein Jerome Losper hieroor ook ‘n antwoord of twee…

“Paternoster” – Onse Vader

Paternoster is die Santorini van Suid-Afrika. Dié Weskus dorp se kenmerkende witgepleisterde huise bring ‘n kalmte in die gemoed en ‘n gevoel van reinheid. Daar is pragtige wit strande, en soggens en saans menigte vissermanne wat in die rooi gloed van die son met hul bootjies die see in en uit vaar. Paternoster spog met ‘n indrukwekkende spyskaart van restourante, koffie- en geskenkwinkels en gastehuise. Hier kom ‘n mens se siel tot bedaring en leer jy om weer stadiger asem te haal. Dit is ‘n plek wat vra dat jy jou horlosie van jou pols afhaal en die hier en nou indrink.

Dan is daar die “tikkoppe”, soos die locals hier na hul verwys, wat alle sprake van reinheid uitwis. Soos met enige dorp in Suid-Afrika, is mens ook hier bewus van die geweldige sosio-ekonomiese verval van ons land en sy mense. Misdaad het die afgelope tyd ‘n reuse uitdaging geword. As jy in Paternoster met vakansie was en weer tuis kom, is die meeste mense se eerste vraag “hoe is die misdaad?”. Dit is ontstellend dat ‘n pragtige dorp soos die, só as ‘n misdadiger gebrandmerk moet word.

Maar dit is Paternoster: rein én onrein, skoon én vuil, veilig én onveilig.

‘n Mens sien hierdie “dualisme” op baie plekke in die dorp. In St. Augustinestraat is dit veral duidelik. As jy in ‘n westelike rigting stap in dié straat, is die huise aan die regterkant pragtige groot huise wat ingerig is vir mense wat daarvan hou om gaste te vermaak. Dit het see uitsigte, meervoudige motorhuise, alarmstelsels en is baie netjies onderhou.

Aan die linkerkant is dit meer vervalle. Dit is klein huisies met min weelde. Die meeste se tuinhekkies val uitmekaar, en amper elke huisie se mense verkoop iets daaruit – bokkoms, hout of lugtyd. By baie is die paadjie na die voordeur met bottels plavei, wat onderstebo in die grond begrawe lê. Hoeveel verdriet is deur dié bottels versuip in ‘n poging om ook lig te leef? Ek wonder hoe het dit in 1981 gelyk toe Jerome hier sy eerste treë geneem het.

Jerome Losper (1981 – 1988)

Ek sukkel lank om besonderhede van Jerome se familie in die hande te kry. “Meneer, die dorp is gesaai met Lospers” sê ‘n man met ‘n bierbottel wat ek in die straat nader. Uiteindelik kry ek oom Jan se nommer in die hande – Jerome se pa. Ons gesprek was korter as twee minute, want oom Jan se hart “is nog te rou”. “My ander seun is nou amper ‘n jaar terug ook weg…”, sê oom Jan saggies aan die anderkant van die telefoon. “…Dit is nou net Lavonia wat oor is”. Jerome was ‘n avontuurlustige seuntjie en wou graag in sy pa se visserman spore volg. Oom Jan het in die 80’s by die visfabriek in Paternoster gewerk. Klein Jerome het elke dag ywerig agter sy pa aan gehardloop wanneer hulle afgaan see toe om die dag se vis in te bring. Hy het die lewe gelééf, sonder dempers of te veel oordenking. Voor die hotel in die einste St. Augustinestraat beland hy in 1988 onder ‘n bus, en nou sit ek en staar na sy kleurvolle en goed-versorgde graf tussen die goudgeel Ierse Rose van die begrafplaas. Dit lyk nie of daar baie grafte is nie en Jerome s’n is amper die enigste een wat versorg is. Hoekom? Dit is al amper 35 jaar later… Ek vra dit ook vir oom Jan net voor hy nie meer wil praat nie en begin totsiens sê. “Ons vier sy lewe” antwoord hy.

Geen huis of ander besitting, prestasie of roem kon bydra daartoe dat Jerome Losper se lewe tot vandag toe gevier word nie. Dit is sy net menswees – sy kindwees – wat mense aan die hart gegryp het. Sy menswees is sy nalatenskap, en dit is té groot vir enige boedel of testament. My vriend in Paternoster het my gehelp om te besef dat mens ware rykdom aan iemand se menswees moet meet. Ek wil my lewe só leef dat iemand ook eendag my graf sal wil versier en netjies hou. My huisie kan hul maar baksteen vir baksteen wegdra.

Deel hierdie inhoud met jou mense!
Lees ook: