Wat is heiligheid?
Heiligheid ruik soms na stof en rafel uit soos die mat voor die preekstoel. Dit is die kamers wat op die kerksaal se verhoog gebou is, of die Afrika-kind wat Psalm 23 in sy mooiste Engels foutloos resiteer. Jy sien, heiligheid is nie net skoon nie. Heiligheid se hande en voete is soms juis vuil.
Heiligheid gaan oor wat reg is. Die regte ding op die regte plek, vir die regte rede. “In order to be truly holy, it is not enough to do the right thing, but we must also do it for the right reason and in the right manner in the right place”, sê Blaise Pascal.
Geboue is ook nie in hulself heilig nie. Dit is wat binne die gebou gebeur wat van dit iets besonders maak. Ons is al verby die punt waar ons uitsluitlik na ‘n kerkgebou verwys as “die kerk”, want ons weet “kerk” is mense. Dit is God se mense wat God se dinge doen. Tog is daar dinge in die kerkgeboue waarin ons grootgeword het wat as ‘n oorgeërfde heiligdom beskou is. Die nagmaalkelkies en Kanselbybel. Die borde en koppies met die kerk se embleem op, wat iewers in ‘n warm saalkombuis in ‘n melamien kas toegesluit is met ‘n plakker wat sê “breekgoed”. Die mat voor die kansel waarop daar nooit kerswas of vuil voete mag kom nie. Die blink gepoleerde viniel teëls op die saal se verhoog waarin die verhoogligte reflekteer. Die meeste kerkgeboue lyk só. Of altans… hulle hét!
Ysterplaat-gemeente
Ysterplaat-gemeente s’n is vir seker één so voorbeeld. Ysterplaat is ‘n arm voorstad van Kaapstad. Die inwoners van hierdie gebied is uiteenlopend in terme van ouderdom en etnisiteit en dit is digbevolk deur lae-inkomste huishoudings, vlugtelinge, migrante, werklose mense en ontvangers van maatskaplike toelaes. Die omgewing is ook die tuiste van baie hoë risiko en kwesbare kinders wat van ‘n baie jong ouderdom af vir oorlewing moet veg.
By Ysterplaat Gemeente se kerkgebou is die rooi mat voor die kansel al redelik uitgerafel en deurgetrap. Op die saal se verhoog is ‘n klein “gebou-binne-‘n-gebou” wat vyf jong volwassenes huisves wat die afsny-ouderdom vir kinderhuise bereik het en steeds nie ‘n heenkome het nie. Die melamien “breekgoed” kas word nie eers meer gesluit nie, want die borde met die embleem voed elke dag ‘n klomp kinders uit die gemeenskap. Toe ons daar was, was dit macaroni en kaas met vars gekookte pampoen. Omtrent 25 kinders kom elke middag na dié gemeente se nasorgsentrum waar hul met huiswerk gehelp word, kos kry en sportafrigting ontvang. Daar is ook berading en leesterapie beskikbaar. In die oop ruimte agter die kerk is daar onlangs met skeepshouers ‘n koshuis gebou vir 14 hoërskoolkinders wat ‘n veilige tuiste soek – ‘n plek wat soos huis voel.
Isibindi – “Om braaf te wees”
Dié werksaamhede word alles onder die organisasie Isibindi gedoen. Isibini beteken “om braaf te wees”! Isibindi is ‘n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy wat in 2020 gestig is. By Isibindi word daar gestreef om plekke en ruimtes te skep waar jongmense uit moeilike of benadeelde agtergronde deel van ‘n gemeenskap kan word en die ondersteuning kan hê om dapper hul doel en passies na te streef.
Hulle glo dat alle mense waardig is om aan ‘n familie te behoort en wil ‘n gevoel van ‘n tuiste skep wat sterker is as die swaarkry wat jongmense gereeld ervaar.
So iets – veral soos in Ysterplaat se geval waar só ‘n tuiste op die kerkgronde is – vra dat ‘n gemeente heelhartig daarby inkoop. Dit vra dat ‘n gemeente totaal nuut dink oor dinge soos hul eiendomme, ruimtes en ritmes. Dit vra dat mens op ‘n manier moet “laat gaan” oor dinge soos die “heilige” liturgiese ruimte met sy mooi rooi mat, spoggerige koppies en bordjies en die verhoog se blink vloer. Die interessante is dat hierdie “laat gaan van die heilige” juis die teenoorgestelde effek het. Dit skep ‘n tipe heiligheid wat eers nie sin maak nie, want hierdie heiligheid is soms chaoties en vuil. Maar hierdie heiligheid is besonders, want dit ontstaan omdat ‘n gemeente die nood in hul omgewing raaksien én daarop reageer deur die REGTE ding te doen. Op die regte plek. Vir die regte rede. Op die regte tyd. Dít is hoe heiligheid lyk!